Skip to main content

Uitspraak in een van die voortslepende hofsake van oudpresident Jacob Zuma word voorbehou. Dit volg ‘n tweede dag se argumentering in die opsienbare saak waarin president Cyril Rampahosa probeer keer dat oudpres. Zuma hom privaat vervolg.

Dié private strafregtelike vervolging van Zuma teen Ramaphosa maak geskiedenis want dis die eerste keer dat een landsleier ‘n ander in ‘n private vervolging hof toe sleep.

Dis gister in die Johannesburgse Hooggeregshof vir ‘n tweede dag voortgesit toe Zuma se regspan aan die beurt gekom het. Vroeër het Ramaphosa se regspan dit aan die hof gestel dat Zuma se private vervolgingsaksie ‘n misbruik van mag is.

Adv. Dali Mpofu vir Zuma het dit aan die hof gestel dat oudpres. Zuma ‘n speelding geword het vir die media en diegene wat hom wil kruisig.

Volgens hom sou dit in ‘n veel ernstige lig beskou word  indien enige ander oudpresident se mediese inligting in ‘n hofsaak onregmatig gelek is.

Zuma se vervolgingsaak teen Ramaphosa spruit uit sy aparte private vervolging van staatsadvokaat Billy Downer en News24-joernalis Karyn Maughan. Zuma kla hulle aan nadat private mediese inligting oor hom in sy vroeë korrupsieverhoor gelek is. Zuma beskuldig Downer dat hy vertroulike mediese inligting oor hom aan die media gelek het in die belangrike korrupsieverhoor waarin Downer die hoofaanklaer is.

Hy het daarna Ramaphosa ook apart aangekla as ‘n medepligtige wat versuim het om op te tree nadat hy hom oor dié oortreding van die Nasionale Vervolgingswet ingelig het.

“As dit die vertroulike inligting van oudpresidente Mandela of Mbeki was wat onregmatig gelek is, sou dit in ‘n ernstiger lig beskou gewees het. Maar omdat dit oudpres. Zuma is, wat nou ‘n speeding vir die media en sy vyande is, is almal skielik onseker,” het Mpofu betoog.

Uitspraak in dié kernsaak tussen die huidige landsleier en sy voorganger is voorbehou. Dit speel af teen die huidige onstuimige Suid-Afrikaanse politiek. Zuma is in verskeie hofsaksies betrokke om sy naam in ere te herstel en geregtigheid te laat seëvier. Hy is vasbeslote dat alle Suid-Afrikaners die volle waarheid moet weet oor wat agter die skerms gebroei het.

Leave a Reply

error: Content is protected !!