Skip to main content

Sonnette Lombaard

Dat daar al minder ooghare oor is tussen oudpresident Jacob Zuma en sy opvolger Cyril Ramaphosa wat tans in die warm presidentstoel van Suid-Afrika sit, word duideliker by die dag.

Dié twee ANC-strydrosse het gister hulle bitter hofgeskil in die Johannesburgse Hooggeregshof hervat. Die twee landsleiers se openbare aanvat van mekaar eggo die huidige onstuimige Suid-Afrikaanse politieke slagveld en kan verreikende gevolge vir die land se toekoms inhou.

In die saak van die private strafregtelike vervolging van Zuma teen Ramaphosa, maak Zuma geskiedenis want dis die eerste keer dat een landsleier ‘n ander in ‘n private vervolging hof toe sleep.

In Januarie het die hoër hof die eerste rondte in dié stiergeveg tussen Zuma en sy opvolger tydelik in die guns van Ramaphosa beslis. Dit het gevolg nadat Ramaphosa se dringende interdik om Zuma te stuit in sy private vervolging van hom tydelik toegestaan is.

Die Zuma-regspan het toe al gewaarsku dat die strydbyl nog lank nie begrawe is nie en die uitspraak toe net as ‘n tydelike terugslag beskou. Zuma is geruime tyd in verskeie hof-aksies betrokke om sy naam in ere te herstel en geregtigheid te laat seëvier. Hy is vasbeslote dat alle Suid-Afrikaners die volle waarheid moet weet oor wat agter die skerms gebroei het en steeds doen.

Die saak waarin Ramaphosa die private vervolging van Zuma teen hom teenstaan, is gister voortgesit. Ramaphosa se regspan het aangevoer dat hul kliënt geen misdaad gepleeg het waaronder sy voorganger hom regtelik kan vervolg nie.

Zuma het Ramaphosa daarvan beskuldig dat hy nie opgetree het nie nadat hy laas jaar ‘n klagte teen staatsadvokaat Billy Downer ingedien het. In sy private vervolging teen die president, lys Zuma sy opvolger as ‘n medepligtige in die voortslepende Downer-sage, wat die Netwerk24-joernalis Karyn Maughan insluit. Zuma se kriminele aanklag teen Ramaphosa is dat die president by versuim betrokke is by sy private vervolging teen Downer en Maughan. (In sy aparte private vervolgingsaak kla Zuma vir Downer en Maughan daarvan aan dat hulle die NVG-wet oortree het met die openbaarmaking van ’n vertroulike mediese verslag wat by die hof ingedien is tydens Zuma se korrupsieverhoor.)

Adv. Ngwako Maenentje vir Ramaphosa het gister betoog dat die president niks onwettig gedoen het nie. Ramaphosa het wel opgetree ná die klagte deurdat hy Zuma in ‘n brief ingelig het dat dit na die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste aangestuur is.

Voorts is die justisie minister waaronder die Nasionale Vervolgingsgesag resorteer, ook versoek om die klagtes reguit na die Regspraktykraad te verwys vir ondersoek.

Maenentje het daarop gewys dat die gevaar van potensiële misdaadoortredings nie hierin ter sake is nie, want die klagtes teen Ramaphosa vereis nie onregmatige optrede van die landsleier nie.

“Wanneer ‘n president aandui dat hy ‘n klagte as ernstig beskou en dit na die regte kanale verwys, tree hy reg en ingevolge die grondwet op.”

Die Ramphosa-span het voorts aangevoer dat Zuma se private vervolging van die landsleier die publiek se vertroue in die Presidensie bedreig.

Zuma se regspan het egter vasgeskop dat die president nie ‘n voet het om op te staan om in sy amptelike hoedanigheid as landsleier die saak teen hom, waarin hy privaat vervolg word, teen te staan nie. Maenetje as die staat se prokureur kan dus nie regtens Rampahosa in hierdie hofsaak verteenwoordig nie.

Maenetje het dit aan die hof gestel dat Ramaphosa regte as ‘n gewone burger en as die president het. “Wanneer die menseregte van ‘n individu wat die presidentsamp beklee bedreig of geskaad word, kan hy hom tot die hof wend om sy regte te beskerm deur dié oortreding onwettig te laat verklaar en ter syde te stel.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!