Skip to main content

Die Johannesburgse Hooggeregshof het gister gehoor dat oudpresident Jacob Zuma se private vervolging van pres. Cyril Ramaphosa die publiek se vertroue in die Presidensie bedreig.

Dit was een van die argumente wat deur Ramaphosa se regspan aangevoer is in die saak waarin Zuma vir Ramaphosa daarvan beskuldig dat hy nie opgetree het nadat hy laas jaar ‘n klagte teen staatsadvokaat Billy Downer ingedien het nie.

Die Waarheid stem heelhartig met die president se regspan saam dat die president nie meer vertroue by die publiek inboesem nie. Maar dis nie heeltemal eerlik om die Zuma-vervolging die skuld te gee nie.

Die sluier van geheimhouding rondom die CR17-bespiegelinge, die Phala Phala-aantygings, die kragkrisis, die hantering van die Covid-pandemie, die president se rol in kader-ontplooiing en die Lady R-bewerings doen oneindig meer skade, en die persepsie bestaan dat Ramaphosa self ‘n sleutelrol speel in die verdoeseling van die feite rondom hierdie krisisse, indien nie in die krisisse self nie.

Meneer die president, die mense van die land sien jou as ‘n leier wat g’n vinger lig om korrupsie hok te slaan, werk te skep of die ekonomie te herstel nie. Die publiek se vertroue in jou is lankal tot niet. Die idee dat die publiek enige vertroue in jou het, is koek hiernamaals, pure dagdromery. Die privaatvervolging teen jou bedreig nie die publiek se vertroue in jou nie – geen hofsaak kan iets bedreig wat nie bestaan nie.

Suid-Afrika het ‘n president nodig waarna die mense van die land kan opkyk, een wat hulle kan vertrou. Jy is dit nie. Die geskiedenis gaan jou onthou as die grootste politieke ramp wat hierdie land nog getref het.

Leave a Reply

error: Content is protected !!