As daar een plek is wat ‘n baie spesiale plek in die hart van die akteur, komediant en vermaaklikheidster Nataniël beklee, is dit Frankryk. Die ster was al dikwels openlik oor sy passie vir die Franse kultuur, kookkuns en kuns.
“Ek gaan nou al dertig jaar na Parys en daardie stad bevat alles wat my siel nodig het,” deel Nataniël. “Die Franse ervaring begin sodra ek op ‘n Air France-vlug klim. Daar is soveel om te sien en te ontdek. Elke keer as ek Parys verlaat, is ek uitgeput en dit neem my weke om al die inligting en beelde wat ek inneem terwyl ek daar is, te verteer.”
In vennootskap met Air France, die vinnigste en gerieflikste manier vir Suid-Afrikaners om na Frankryk te reis, bring Nataniël sy passie vir Franse gastronomie tuis. “Franse kos is van my gunsteling in die wêreld en elke keer as ek Parys mis, slaan ek ‘n paar Frans-geïnspireerde disse by die huis aanmekaar,” voeg die ster by.
In die hoop om Suid-Afrikaners te inspireer om dieselfde te doen, deel Nataniël sy heerlike Ratatouille Tarte Tatin sodat Suid-Afrikaners ‘n bietjie Franse flair in hul eie huise kan bring.
Bestanddele:
Een groot ui, gekap
Halwe vinkel (fennel), gekap
Drie knoffelhuisies, gekap
Een rooi soetrissie, in repe gesny
Een geel soetrissie, in repe gesny
Een groot brinjal, in skywe gesny met ‘n dikte van 25mm
Twee groot baba murgpampoentjies, in skywe gesny met ‘n dikte van 25mm
Vier eetlepels balsamiese asyn
Twee eetlepels suiker
20 klein tamaties, gehalveer
Een teelepel meel
Een rol skilferkorsdeeg
Sout
Gemaalde swartpeper
Olyfolie
Vars basiliekruidblare
Metode:
Braai die vinkel, ui en knoffel saam tot sag oor matige hitte en hou eenkant. Rooster die brinjal tot goudbruin aan albei kante en hou eenkant.
Rooster die murgpampoentjies tot goudbruin aan albei kante en hou een kant. Smelt die balsamiese asyn en suiker saam.
Bedek die bodem van ‘n 24 tot 28 cm ronde oondbak met die asyn-en-suikermengsel. Bedek die bodem met babamurg, eiervrug/brinjal en enkele tamaties.
Rangskik in ‘n patroon van jou voorkeur, maar laat die stukke mekaar oorvleuel. Geur liggies met sout, peper en olyfolie.
Rangskik ‘n laag ui, vinkel en knoffel bo-op.
Voeg die rooi en geel soetrissies bo-op asook enkele tamaties tussenin. Sprinkel meel, sout, peper en olyfolie oor. Vul aan met die res van die brinjal en babamurg. Geur met sout en peper.
Plaas die deeg bo-oor en vou die kante toe. Maak ’n klein gaatjie in die middel en bak teen 180 grade vir 30 tot 40 minute.
Sodra dit gaar is, laat dit vir 20 minute afkoel. Plaas die gereg versigtig op jou opdienskottel en garneer met basiliekruidblare.
Geniet dit!