Madi Pieterse
WES-KAAP – Dit het aan die lig gekom dat, ten spyte van die feit dat die SAPS in die Wes-Kaap in die vorige kwartaal op 699 onwettige vuurwapens beslag gelê het, nie ’n enkele een daarvan ingehandig is om vernietig te word nie.
Dat die vuurwapens onaangeraak en in storing bly, is ’n rede tot groot kommer. Dit versterk die kanse dat dit op die swartmark kan beland.
Syfers is deur die SAPS bekend gemaak tydens ’n DA-parlementêre vraagsessie en die navraag gerig deur die Wes-Kaapse Minister van Polisie-oorsig en Gemeenskapsveiligheid, Reagan Allen.
Die party het reeds herhaaldelik gevra dat die vernietiging van vuurwapens gedesentraliseer word na provinsiale vlak, wat die proses kan bespoedig en risiko verminder dat dit in die verkeerde hande beland. Tot dusver blyk dit egter dat die oproep aan Minister Bheki Cele en die nasionale SAPS leierskap op dowe ore val.