Skip to main content

Kobie Cilliers

RUGBY

Die meeste rugby-aanhangers sou verwag het dat die Stormers Saterdag hul United Rugby Championship (URC)-halfeindstryd in die DHL-stadion teen die Ierse klubspan Connacht sou wen, maar die feit dat die eindstryd op 27 Mei ook op die Kaapenaars se tuisveld beslis sal word, kan as ‘n welkome tog uiters onverwagte bonus beskou word.

Stormers-ondersteuners het skaars die vreugde- en braaivleis-vure aangesteek toe die tweede halfeindstryd in Dublin tussen Leinster en Munster ‘n verrassende wenner opgelewer het.

’n Skepdoel in die doodsnikke deur Munster se binnesenter, Jack Crowley, het die voorlopers in sowel die URC as die Europese Heineken Champions Cup-reeks, Leinster, se doppie geklink.

Munster het ’n absorberende kragmeting teen hul Ierse landgenote met 16-15 gewen en sodoende verseker dat die Stormers weens hul derde plek op die URC-punteleer (agter slegs Leinster en Ulster) gasheer vir die eindstryd sal speel. Munster het die liga-seisoen in die vyfde plek op die URC-punteleer afgesluit en sal dus vir die laaste en beslissende wedstryd van die uitkloprondes na Kaapstad moet reis.

Sommige Leinster-ondersteuners sal waarskynlik woedend wees dat die klub besluit het om die halfeindstryd sonder verskeie van sy beste spelers aan te durf. Leinster is trots op sy diepte en die span se afrigter, Leo Cullen, wou van sy groot name laat rus vir eerskomende naweek se eindstryd van die Heineken Champions Cup-reeks.

Maar die Stormers en hul ondersteuners sal nie kla nie. ’n Video-opname is laat Saterdagaand op sosiale media gedeel – en het intussen ook in Ierland soos ’n veldbrand versprei – wat wys hoe die Stormers feesvier ná die Munster-opskudding. Het Leinster gewen, sou die Stormers hul tasse vir ’n besoek aan Ierland moes pak.

Hopelik sal John Dobson, die Stormers se afrigter, sy spelers se ingesteldheid lank voor die eindstryd op die regte plek kry, want Munster durf nie onderskat word nie. Hierdie Ierse span het juis vroeër die seisoen met die Stormers in Kaapstad afgereken.

Maar terug by afgelope Saterdag se halfeindstryd. Die losskakel Manie Libbok was weer ‘n uitblinker vir die Stormers in hul oorwinning met 43-25. Hy het met twee drieë, vyf doelskoppe en ‘n strafdoel 23 punte in sy span se sege bygedra. Libbok het boonop twee drieë met uiters akkurate dwars-skoppe geskep.

Dobson het ná die oorwinning erken hy het “emosioneel” gevoel en dit as “ongelooflik spesiaal” beskryf.

“Hierdie span is uniek. Hy behoort aan die mense van oral oor die demografie heen, arm en ryk. Dít is die verbintenis wat vir ons só belangrik is,” het Dobson gesê, onder wie se afrigting die verdedigende kampioen nou vir die tweede agtereenvolgende seisoen die eindstryd van die URC op sy tuisveld sal aanbied.

“Ons het voor die wedstryd in die kleedkamer gepraat oor hoe die wespaviljoen, waar kaartjies R300 gekos het, volgepak was. Die mense het ook nie soos die soort gelyk wat van Clifton af kom nie. Dit was gewone mense wat ’n opoffering maak om daar te wees eerder as om as ’n familie elders heen te gaan.

“Daar is ’n polisiehoof by ’n tak op die Kaapse Vlaktes wat gesê het dat daar minder geslagsgeweld op ’n aand is wanneer die Stormers wen. Jy kan daarin lees wat jy wil. Dis uiters sterk.”

Nog goeie nuus vir die Stormers is dat die Springbok-duo van Deon Fourie (baljagter-flank) en Marvin Orie (slot) weer vir die eindstryd beskikbaar sal wees.

Dobson het gesê hy het besluit om hulle nie vir die halfeindstryd teen Connacht te kies nie nadat hulle in die aanloop tot die kragmeting onderskeidelik met ’n dyspier- en skouer-besering gesukkel het.

“Hulle was medies fiks, maar ons het gedink dat dit wys sal wees om sonder hulle te probeer wen. Dit was ’n yslike verligting dat ons kon. As dit ’n eindstryd was, sou hulle gespeel het.”

* Die Blitsbokke is Sondag deur Australië in die Toulouse-sewestoernooi met 21-19 in die halfeindronde om die vyfde plek geklop.

Suid-Afrika se sewesspan se kans om outomaties vir aanstaande jaar se Olimpiese Spele te kwalifiseer, hang na dese aan ’n dun draadjie.

Die laaste toernooi in die huidige seisoen van die Wêreldreeks word eerskomende naweek in Londen beslis. Slegs die boonste vier spanne op die puntelys ná afloop van die toernooi in Engeland kwalifiseer outomaties vir aanstaande jaar se Spele in Frankryk. Die Blitsbokke beklee met 116 punte tans die sewende plek.

Sondag se kampioen in Toulouse, Nieu-Seeland (186 punte), Argentinië (159), Frankryk (139) en Fidji (138) is reeds van deelname aan aanstaande jaar se sportskouspel verseker.

Die Franse, weens hul status as die gasheer vir die Spele, is ongeag hul plek op die puntelys van deelname verseker. Die feit dat Frankryk egter onder die topvier geëindig het, beteken dat die span wat vyfde op die puntelys eindig, die laaste outomatiese kwalifiseringsplek sal beklink.

Australië (125) is tans in die vyfde plek, gevolg deur Samoa (116). Hoewel die Samoane en Suid-Afrika albei op 116 punte is, is die eilandmanne sesde weens ’n beter punteverskil.

Nieu-Seeland het Sondag die Toulouse-toernooi gewen deur die Argentyne in bykomende speeltyd met 24-19 te klop. Dit is die Kiwi’s se vyfde toernooisege van die seisoen.

Die Nieu-Seelanders kan nie meer op die reeks se puntelys ingehaal word nie en is dus dié seisoen se Wêreldreeks-kampioenspan. Dit is die 14de keer dat Nieu-Seeland die algehele wenner is.

MotoGP

Suid-Afrika se MotoGP-held Brad Binder (Red Bull KTM) het gemengde welslae in die naweek se Franse Grand Prix op die Bugatti-baan in Le Mans behaal.

Binder, van wie daar baie verwag is ná sy briljante tweede plek in Saterdag se blitsren, het ’n ietwat teleurstellende sesde in Sondag se Grand Prix geëindig nadat hy in die tiende plek weggespring het.

Dit was ’n geskiedkundige 1 000ste MotoGP-byeenkoms en meer as 278 000 toeskouers, die meeste nog by ’n MotoGP-wedren, het gekyk hoe Marco Bezzecchi (Mooney VR46 Ducati) eerste oor die wenstreep jaag.

Binder het kort ná die wegspring in die eerste rondte van die baan gejaag en kosbare tyd verloor. Dit het hom tot in die 16de plek laat afskuif. Hy het egter sy weg weer oopgeveg en was halfpad deur die Grand Prix terug in die agtste plek.

Maar Binder is met ’n lang rondte gestraf nadat hy sy spanmaat, Jack Miller, verbygesteek het, van die baan gejaag en te vinnig (binne ’n sekonde) teruggekeer het.

Jorge Martin (Pramac Ducati) was tweede, Johann Zarco (Pramac Ducati) derde, Augusto Fernandez (GASGAS) vierde en Aleix Espargaro (Aprilia Factory) vyfde.

Verskeie van die top-renjaers, soos die huidige wêreldkampioen, Francesco Bagnaia (Ducati Lenovo), Marc Marquez (Repsol Honda), Alex Rins (Honda), Joan Mir (Repsol Honda), Luca Marini (Mooney VR46 Ducati), Alex Marquez (Gresini Ducati) en Maverick Viñales (Aprilia Factory) het geval en kon nie die wedren voltooi nie.

Bezzecchi het met sy oorwinning die gaping tussen hom en Bagnaia op die puntelys dramaties laat krimp. Bezzechi (93) is nou slegs een punt agter Bagnaia, wat geen punte in Frankryk verdien het nie.

Binder lê derde met 81, Martin vierde met 80, Zarco vyfde met 66 en Luca Marini (Mooney VR46) sesde met 54.

Die volgende Grand Prix word op 9, 10 en 11 Junie op die Mugello-baan in Italië beslis.

Leave a Reply

error: Content is protected !!