Skip to main content

 

Padpelgrims se herfssprokie lei na drome tussen mynhope

What makes the desert beautiful, the little Prince said, “is that it hides a well somewhere … whether it’s the stars or the desert, what makes them beautiful is invisible! Dié tydlose wyshede in Antoine de Saint-Exupéry se The Little Prince bekoor geslagte lank. Ná ‘n pasafgelope besoek saam met JV-vennote aan Namakwaland, wis Sonnette Lombaard dat dié wyle Franse filosoof-vlieënier-skrywer sou gedy in die weergalose, ongetemde skoonheid van Namaland. Sy vertel oor die betowerende kontrei en als wat tans daar tussen geharde klipstapels en diamantduine kook, want dié dorre streek in Noord-Kaapland versteek talle skitter juwele misterieus tussen kokerbome en kopermyne, kliprante, blink mane vol beloftes én ‘onaansienlike’ mynhope.

Aan die einde van die 1970s het ‘n buksie-Jood aan Suid-Afrikaners sy blink sakedroom verkoop. Van ‘n prima-vermaak-en-speelplek met selfs ‘n see, en dit als op die binnelandse vlaktes in die destydse tuisland Bophutwaswana! Sun City en later Lost City het oor die volgende dekades verrys en Sol Kerzner en sy suksesse is deel van ons en elders se geskiedenis.

Nou meer as ‘n halfeeu later, is dit die Afrikaner-sakeman Louis Liebenberg se beurt om sy landgenote van nóg so unieke skatkis, ver weg van die stadslawaai, te oortuig. Daar in die afgeleë noordwestelike hoek van die land waar groot dinge al eeue lank donder en druis.

Die Weskus en Namakwaland se binneland is besaai met uitskotmynhope nadat De Beers die eerste-rondte rykdomme daarin vir homself gevat en toe geskoert het. En steeds wag nog skatte in die einste sandstapels. Louis glo daar is groot goud en geld vir die volgende paar geslagte in die onuitputlike duine en sandhope. Toetse en die daaglikste opbrengste tans bevestig dit. Ditto aan die aangrensende kus in die groot waters van die kalm see hier en as hy sy sin kry, gaan dit die juiste plek wees waar Suid-Afrikaners aanstons in ons land se ryk mineraalskatte kan begin deel. Om sterker saam die toekoms in trek, in die gees en op die spoor van ons kannie-dood-voorouers …

Met die meer as 20 mynlisensies reeds in sy besit, woel Louis se maatskappye en delf al die laaste paar jaar hier suksesvol na nog diamante, en selfs goud. Met die verwagte, volgende groot stormloop wat wink – die gesogte swaar minerale wat ryklik in die uitskothope wag om ontgin te word. Aansoeke vir lisensies vir die delf van die swaar minerale is ingedien en word tans afgewag.

Dink aan die mega-wêreldstad Doebai wat tussen seesand en woestynsand verrys het, por Louis sy toergaste aan. Ons luister aandagtig neffens die sielvolle blou Weskus-see as skitterende agtergronddoek tot die omringde wit mynhope vol skatte. En as Doebai olie-geseënd is en goudstawe die Witwatersrand groot gegiet het, het Namakwaland of kortweg Namaland steeds genoeg blink klippies, goud en swaar minerale wat die toekoms van dié arm, agtergeblewe streek radikaal kan swaai.

Louis en vroulief Dezzi het ‘n groep van sowat 40 JV-vennote genooi om saam met hulle die Noord-Kaap en veral sy maatskappy se mynbedrywighede oor ‘n allemintige 144 000 hektaar eerstehands te gaan beleef. Vennote van reg oor die land het gespring vir die beperkte plek op die toerbus. Want sien is mos glo. Dit hét toe ook hul stoutste verwagtinge oortref! Teen die vierde dag is daar in konsensus gekoor oor wat presies hier aan die gebeur is!

Want wyl die hoofstroommedia week in en uit skinder en gisstories oor Louis kwistig versprei, is wat hier tussen diamantduine oor ‘n reuse-gebied besig is om te ontvou, wat tel. Ongetwyfeld “the best kept secret in the land,” is ‘n frase wat jy agterna oral hoor opklink.

Dit is lank Louis se uitgesproke droom om saam met ander rolspelers in dié sonderlinge streek, insluitende die inheemse Nama-bevolking, te woeker om die gebied se ryk mineraalskatte in gewone burgers se hande te sit. “De Beers het die gebied en sy skatte kom verkrag. Ons rehabiliteer dit nou en wil saam met plaaslike rolspelers werk om die rykdom steeds hier te vind en terug in hande van die plaaslike gemeenskap en ander landgenote te sit,” het Louis verduidelik.

Dat Namaland só uitklopkontrei is, waarteen die besoeker en enige sintuig min bestand is, was ‘n aangename verrassing vir baie van die toergaste. Bygesê, Simon van der Stel was al toentertyd betower deur hierdie uniek-magiese land- en kusstreek. Met goeweneurstewels wat diep en wyd getrap het, lei hy in 1685 ‘n ekspedisie na Namakwaland. Waar die geselskap verstaanbaar onder die Land van Khoi se sjarme swig. Die nalatenskap van sy bekoring kronkel deur Namaland soos die sierlike Skouspel-bergpas buite Springbok, so genoem nadat die Hollander dit bekyk en terstond as “a spectacular view” verklaar het. Inderdaad.

Hierdie toersprokie het op ‘n koel herfsdag in die Moederstad amptelik afgeskop. Van alle uithoeke en nerings van reg oor die land, het genoeg van die toerlede vooraf darem iets gewis van Namaland se unieke bates vanaf die legendariese inwoners en menskarakters, tot die gesogte en gewilde blomme en natuurlik die ruim diamante- en kopervondse knus versteek tussen duine, kliprante en kokerbome. Maar om vanuit ‘n lekker hoog-sit-in-die-bus en deur die oë van trotse Namakind Louis Liebenberg as verteller sy saakmaakplek te beleef, was vir almal spesiaal. En ja, die plek bruis begogeld, getuig ons nuut-bekeerdes voortaan!

Met die Namaklong se onderhoudende-storievertelkuns, geanker deur ‘n vlymskep-geheue en deurleefde kennis, was Louis toe die grootse, inheemse vonds op ‘n onvergeetlike padtoer en pelgrimstog. Hoe mooi volsirkel sal dit vir Louis en sy kleurryke lewe wees, wanneer sy drome hier begin gestalte kry! Jou hart se oorgawe klop reeds onwillekeurig saam.

Saam met vroulief Dezzi, het die gasheerpaar die voorste bussitplekke enduit ingeneem. Almal was begerig vir die ontdeksafari in Namaland se agterplaas, kuslangs en binnelangs. Gou nadat ons Kaapstad gegroet het, doem duine weerskante van die bus op, lywige rante gestip met sagte voue of dimpels en, wel, interessante uitstolpings. ‘n Vroulike landskap. Dezzi vra musiekkeuses en ná die dosis Afrikaanse gunstelinge van Dozi, Theuns, Rudi en Kie, weergalm die bekendste rock van hardebaarde AC/DC. Thunderstruck. Ons en die heuwels langs ons rock ritmies saam, wyl die groot wiele bly rol. Daai salige gevoel daal neer van jy is reg geplaas op hierdie oomblik, net hier. Met almal wat langsamerhand in eie gedagtegang verval, wis jy toe reeds ons is bevoorregte besoekers om hier in die Land van Sublieme Skoonheid te kom wandel en eiesoortige heide te ruik en ervaar!

Die volgende donderslag wag toe agtermiddag aanbreek. Links deur die busvenster begin die son in die verte struikel, en regs loer ‘n blink ronde volmaan reeds tussen kliprante. Kameras kliek hoorbaar. Ons is toe wraggies in Towerland, duskant Lalaland. As Christopher Cross se koer oor die maan in New York jou ontvoer, sluk dié prima-een in gestroopte Namaland jou silwersag die nag in.

Op Springbok wag mynbestuurder Buks Potgieter en sy vriendelike personeel om ons met potjie en afval (Namalandstryl) skaamteloos verder te verlei. Die koel luggie doen niks afbreek nie aan harte wat eensgesind warm tussen helder vure gloei …

Vroegoggend rol die buswiele weer. Vandag beloer ons Louis se myne waar sy toekomsdrome skuil. Van Buffelsbank. Nuttaboy, dan kuslangs na Kleinzee en Koingnaas sien ons eerstehands hoe diamante ontgin word en vertel Buks en Stefan Rohner opgewonde van die groot planne vorentoe. Mynhoop op mynhoop ló hier, so ver jy kan gewaar, almal stille getuienis dat jy Namaland nooit dúrf vlak skat nie.

Met die draaislag koers ons binnelands terug oor Kommagas. Word nogeens blink bederf met die sinkende son links en ‘n volmaan terselfdertyd regs. Onvergeetlike prentjies vir behaaglike sus. Maar eers nog ‘n uithaler-skaap-op-die-spit. Dan nagsê vir welgeluksalige rus onder Namaland se sambreelsterre.

Vroeg Saterdag druk ons verder noord: eindbestemming die bekoorlike hawedorp Port Nolloth! Die opgewondenheid is tasbaar want die Weskus se ware kroonjuweel waarteen min voorbereid of bestand is … dit hook enige hart volskoot vanaf die binnekoms tot die uitry die volgende oggend. Gestip met bekoorlike houthuise, ietwat volksvreemd in voorkoms, teen horisonne. Maak sin, dis uit Skandinawië ingevoer, verweer teen wind en weer steeds ver weg. In die hawe skommel twee groot skepe greinserig. Van die eense grootbaas De Beers wat deesdae oor die grens sy streke uithaal. Same old.

Die Scotia Inn Hotel haal uit met smaaklike vars, seekos en vroegaand drom ons saam in die pool kamer vir ernstig mik en aanlê. Dis serious kompetisie teen mekaar en die locals is ook in. Oudergewoonte, gooi Louis R10 000 vir die wenner in. In die naelbyt-eindstryd laataand is die plaaslike stasiebevelvoeder (genaamd Fridge!) gesnoeker deur die besoekende JV-vennoot, Coerd de Klerk.   .

Die laaste oggend gooi ons oulaas ‘n swierdraai deur die seedorpie. Stop by die soutpanne vir vinnige uitklim op Louis se grootwordgrond. Hier waar hy as skoolrugby-laatie getackle en sy visies vroeg gevoed is. Dis toe waar dat Port Nolloth se aanslag op sintuie oorweldigend is, álle weerstand duik. Die legendariese kusdorp begogel jou slinks soos g’n eva kan nie. In ‘n waas van welriekende seemis wat jy nie weer wil afwas nie. Dit was onderweghawe en toe tuiskoms of tydelike halte vir baie legendes en befaamde inwoners wie hier vasgespoel het. Die meegee voor soveel Godgegewe beauty was sigbaar maklik, gevolg deur dronk drome vir die ryk skatte in en uit die see. Van der Stel se huis staan steeds hier. In ons skatkistrommel, verdien Port Nolloth sy ereplek!

Die lang pad na Kaapstad wag. Eers ‘n laaste tiekiedraai want nog ‘n eiesoortige en befaamde streeklegende Adriaan Nieuwoudt vier die volgende dag 79 jaar. Ons kon mos nie hom en sy onder-beleg Eureka-paradysie duskant Garies misry nie! Teen middagete, skaars uit die bus, vloei die gasvrye Boerbederwe: outydse yskaspoeding, vetkoekies en maalvleis, melktertjies … stad-se-kind lê onbeskaamd weg! Oom Aderjaan, nog fier en flinke denker aan die vooraand van 80, is die kersie op die koek! Gesels land en sand oor van daai voosgeskryfde kubusdrome, PW se verraad in krisisuur tot ons land se toekoms saam in …

Die groot lugvoël wag – en die grondpad vra geduld. Ons moet dun rieme sny. Dit raak ‘n trippie waaroor Hollywood kan droom. Raakvatter Nicky reël vanuit die bus met die lughawepersoneel om vir ons te wag, buig of bars. Vriendelike busbestuurder Julian kry kits-heldmantel en ons vlieg laag. Tasse en al, snol ons oor die flitsende aanloopbaan, kry ons sit net-net. Toe die vlerke lig, noordwaarts die donker nag in, doef harte warm-dankbaar.

Louis Liebenberg se droom oor hoop tussen mynhope in sy heimat sal voortaan saam in ons drome boer. Is dit Nkosi Sikelel’ iAfrika wat opklink in my ore? God seën hierdie klipharde aarde en verdomde, verleidelike vasteland waar ons voormense van ver kom inwortel en voortplant het. Waar ons getaak is om dit nou sáám vir diegene ná ons te berei …

2 Comments

Leave a Reply