Die polisie in Hillcrest het twee verdagtes in hegtenis geneem wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het en probeer het om ‘n huiseienaar van sy vuurwapen en ander waardevolle besittings te beroof by ‘n woning in Mephoweg by KwaNgcolosi in Hillcrest.
Inligting tot die polisie se beskikking dui daarop dat drie mense, twee mans en ‘n vrou, wat glo ‘n T-hemp met ‘n polisiekenteken gedra het, by die huis ingegaan en hulself voorgestel het as ondersoekbeamptes van SAPD Hillcrest en dat hulle ‘n saak van moord ondersoek. Hulle het na bewering geëis om die huis te deursoek en het op die huiseienaar se gelisensieerde vuurwapen beslag gelê. Sy dogter het verdagte gedrag van hulle waargeneem en gemeenskapslede daarvan in kennis gestel. Hulle het tot haar pa, wat toe reeds geboei was, se redding gekom.
Aangesien die ‘polisiebeamptes’ versuim het om enige vorm van identifikasie te toon, is die saak by die polisie aangemeld. Twee mans is in hegtenis geneem en die polisie is steeds op die uitkyk vir die vroulike verdagte wat na bewering voor die polisie se aankoms op die toneel verdwyn het. Die verdagtes is in besit gevind van die slagoffer se vuurwapen asook ‘n ander vuurwapen waarvan die reeksnommer afgevyl is. ‘n Daaropvolgende soektog op hul voertuig het gelei tot die ontdekking van KwaZulu-Natal se polisievoertuigregistrasieplate, maar ondersoek het bewys dat die nommer op die registrasieplate aan ‘n polisievoertuig in SAPD Sunnyside in Pretoria, Gauteng provinsie behoort. Die polisie se Covid-19-maskers is ook in die voertuig gevind.
Die verdagtes sal vandag in die hof verskyn op aanklagte van huisroof, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie asook die nabootsing van polisiebeamptes.