Skip to main content

‘n Jarelange kliënt van eers Barclays Bank en daarna First National Bank (FNB), is woedend nadat R9 000 wat by ‘n FNB OTM inbetaal is, net ‘verdwyn’ net.

Die kliënt, wat anoniem wil bly in die hoop om steeds die geld terug te kry, het aan Die Waarheid ‘n dokument as bewys voorgelê van die insident.

“Ek het op die 27ste April R9 000 se R200-note by ‘n OTM by Emperors Palace gedeponeer aangesien ek gedink het dat, met al die sekuriteit en kameras oral, dit veilig sou wees. Die masjien was nog besig om die geld te tel toe dit net afskakel. My kaart is uitgespoeg, maar daar was geen strokie as bewys van die deposito wat agterna gelewer is nie. Die geld het ook nie in my rekening gereflekteer nie. Iets wat dadelik moes gebeur.

“Ek het dadelik die FNB tolvrye nommer gebel, en die vrou het bevestig dat sy nie só ‘n transaksie op die sisteem kon sien nie. Sy het my aangeraai om dadelik na die tak by OR Tambo Lughawe te gaan aangesien hulle, volgens haar, 24-uur per dag oop is. Ek het ook die casino se sekuriteitsafdeling gekontak, en hulle het in die oggend bevestig dat die geld beslis nie deur die OTM ‘uitgespoeg’ is nie, m.a.w. dit is in die masjien se kluis.

“Dit tak by die lughawe was gesluit en het eers 08:00 oopgemaak, al was dit ‘n vakansiedag. Wendy, ‘n kliëntediensagent, het al die besonderhede op ‘n ATM/ADT/BCR CLAIM FORM genoteer, en dit na die betrokke afdeling gestuur.

“Sy het belowe dat die geld binne 24-uur in my rekening sou wees, en ook genoem dat daardie betrokke OTM gereeld probleme soos wat ek ondervind het, veroorsaak. Volgens Wendy sou die persoon wat die vorm ontvang, dadelik op die OTM se joernaal kan sien dat die R9 000 ongeallokeer was, en kon dit na my rekening stuur.

“Nadat ek op 2 Mei steeds niks van FNB af gehoor het nie, het ek ‘n e-pos gestuur na debitcarddisputes@fnb.co.za. Sewe e-posse later kry ek ‘n skrywe van hierdie adres af, wat my inlig dat die nie eintlik die regte departement is om hieroor navraag te doen nie, maar as ek seker besonderhede rakende die OTM insident aanstuur, dat ‘iemand my sal kan help’.

“Teen 8 Mei, 11 dae nadat die geld deur die OTM ‘ingesluk’ is, het uit uit radeloosheid ‘n boodskap per WhatsApp na ‘n FNB besigheidsbestuurder gestuur. Ek ken die dame persoonlik. Sy moes iéts reggery het, want dieselfde oggend nog het ‘n persoon van FNB my gebel. Haar storie was dat hulle nie die navraag uitgesorteer kry nie. Ek wou dadelik weet hoekom NIEMAND my tot dusver kon kontak en my inlig hieroor nie.

“Sy het nie hierop geantwoord nie, maar belowe om my binne ‘n uur terug te bel. Dit het gebeur, en sy het gesê dat sy ‘weer die dokument wat op die 27ste April ingevul was’ sou e-pos na die ‘regte departement’ toe. Ook dat sy my weer 3:00 sou terugbel. ‘n Oproep van die OR Tambo-tak het 21:30 daardie aand gekom! Ek is meegedeel dat die R9 000 wel geallokeer was, maar dat hulle ‘sal moet uitvind na watter rekening toe’. Dit is duidelik nie na mý rekening oorgeplaas nie.

“Dit is nou die 12de Mei, en die geld is steeds nie in my rekening nie. Hoeveel ander kliënte sukkel so met hierdie bank as daardie OTM ‘problematies’ is volgens die FNB werknemer?

“Al wat ek vra is dat hulle mý geld teruggee! Ek werk vir ‘n salaris en onderhou 3 huishoudings, maar nou moet ek geld leen vir petrol om by die werk te kom en van brood leef!”

Leave a Reply

error: Content is protected !!