Madi Pieterse
WESKUS – Die woord was skaars uit dat inskrywings vir die Bergrivier Kanomarathon oop is of Daantjie Malan van die Strand het sy wegspringplek verseker.
Die kanomarathon, wat sedert 1962 aangebied word en oor ’n afstand van sowat 240 kilometer beslis word vanaf die Paarl tot by Velddrif aan die Weskus, vind vanjaar van 5-8 Julie plaas.
Kanovaart SA het ook bevestig dat die SA K1 Rivierkampioenskappe tydens vanjaar se vaart beslis sal word, ’n besluit wat groot opwinding onder deelnemers veroorsaak.
Daantjie,’n Meesters-kategorie deelnemer, het die marathon al elf maal voltooi, maar dié 63-jarige prokureur redeneer tong-in-die-kies dat, sou die twee wat hy in Covid-tyd gedoen het getel het, hy ’n dertienmalige voltooier sou wees.
Hy vertel dat dit die kameraderie tussen deelnemers is wat hom jaarliks laat terugkeer. Hy het in 2002 vir sy eerste Bergrivier aangetree. Van sy vriende het destyds ’n aantal Bergriviere voltooi en hy wou nie agterbly nie. Min het hy geweet waarvoor hy hom inlaat … vir weke daarna kom hy nie gemaklik sit nie!
Vandag is hy baie meer bedrewe in die kuns van rivierroei, veral in die kolkende waters en hindernisse wat op die Bergrivier gevind word. Die feit dat die Kaapse winter baiekeer gepaard gaan met stortende reën, dik mis en sterk winde, maak ook nie die situasie alte maklik nie.
Maar Daantjie moedig alle roeiers aan om ten minste een maal die Bergrivier Kanomarathon aan te pak, ook vir die lewenslesse wat langs die pad geleer word. Hy glo dat as jy die Bergrivier oorwin het, jy enige hindernis kan oorkom. En dit lê ook die basis vir toekomstige wedrenne, soos die PE2EL surfski-resies.
Terwyl deelnemers aan die Bergrivier Kanomarathon besig is met voorbereidings, is die Weskus Distriksmunisipaliteit besig met die jaarlikse Werk vir Water-projek in die Weskusstreek. Die program is daarop gemik om indringer- en uitheemse plante te verwyder wat baie meer water as inheemse plantegroei gebruik.
’n Toegekende toelae van Departement Omgewingsake aan WDM vir die 2022/2023 finansiële jaar vir Werk-vir-Water skep agtien voltydse werksgeleenthede en werkers ontvang ook bykomende opleiding soos waterveiligheid, gesondheid, noodhulp en onkruiddoder-toepassing.
Tans is die span werksaam op die Bergrivier waar uitheemse plantegroei tussen Hermon en Velddrif verwyder word. Dit is ’n noodsaaklike aksie aangesien die Bergrivier ’n groot waterbron in die area is en ’n sleutelrol speel met betrekking tot toerisme aan die Weskus . Die skoonmaakproses verseker ook dat die Bergrivier Kanomarathon sonder voorval kan plaasvind.