Skip to main content

Een van die mees gesoekte verdagtes in sake wat verband hou met renosterstropery in Mpumalanga, Odis Maluleke (47), is Saterdag weer by Kabokweni in hegtenis geneem nadat hy vir lank ‘n voortvlugtige was rakende vorige hofsake.

Luidens berigte is Maluleke aanvanklik in 2015 saam met drie van sy makkers aangekeer nadat hulle die Kruger Nasionale Wildtuin deur die Skukuza Krugerhek probeer binnekom het. Hul voertuig is deursoek en die soektog het ‘n jaggeweer, 12 lewendige rondtes ammunisie sowel as ‘n byl opgelewer.

Maluleke is op borgtog van R20 000 vrygelaat, maar het versuim om later in die hof te verskyn. Die ander drie het wel die hofsaak bygewoon.  ’n Lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik.

Vier verdagtes is in Februarie 2019 in hegtenis geneem nadat die polisie sowel as SANParke-amptenare inligting oor renosterstropery ontvang het. Maluleke was onder die viertal, en die drie ander was nie die oorspronklike drie wat in 2015 saam met hom gearresteer was nie.

Tydens die arrestasie is die verdagtes in besit gevind van twee renosterhorings, ‘n jaggeweer, vyf rondtes lewendige ammunisie, asook ‘n mes. Al vier verdagtes is in hegtenis geneem en dienooreenkomstig aangekla.

Die drie verdagtes is op borgtog van R3 000 elk vrygelaat en Maluleke s’n is op R30 000 vasgestel. Hy het weer nie die verhoor bygewoon nie, en ‘n tweede lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik. Hy het Saterdag sy rieme styfgeloop en is tans in aanhouding nadat hy gister in die Mhala-streekhof verskyn het. Sy saak is tot 18 Mei 2023 vir verdere ondersoek uitgestel is. Die verdagte bly intussen in aanhouding tot sy verskyning in die Skukuza-streekhof.

Leave a Reply

error: Content is protected !!