Skip to main content

Hildegard Antoinette Steenkamp (50) is deur die Palmridge Gespesialiseerde handelsmisdaadhof skuldig bevind op 336 aanklagte van bedrog en diefstal.

Die beskuldigde was van 2004 tot 2017 as rekenmeester by ‘n farmaseutiese maatskappy Medtronic Africa aangestel, en het later bedank. Verslae het onthul dat Steenkamp magtiging gekry het om krediteure by te voeg of van die maatskappy se databasis te verwyder as deel van haar posbeskrywing.

Sy het later haar man tussen 2004 en 2016 as ‘n krediteur by die maatskappy se databasis gevoeg waar Steenkamp ongeveer R4,63 miljoen uit die maatskappy se rekening na haar oorlede man se boedelrekening oorgeplaas het, terwyl ander maatskappyfondse glo na haar seun se persoonlike rekening oorgeplaas is.

Die maatskappy het hul eie interne ondersoek gedoen en ‘n saak is geopen en na die Valke se ernstige kommersiële misdaadondersoekspan in Germiston oorgeplaas vir verdere ondersoek. Die Valke se deeglike ondersoek het aan die lig gebring dat die maatskappy finansiële verlies gely het vir dienste wat nooit deur Steenkamp se oorlede man gelewer is nie. Die saak teen haar seun wat ook in hegtenis geneem is, is daarna teruggetrek.

Steenkamp het haarself in 2018 aan die owerhede oorgegee en is op borgtog vrygelaat. Sy het verskeie hofverskynings gemaak en is later skuldig bevind. Die saak is tot 14 en 16 Augustus 2023 vir vonnisoplegging uitgestel.

Leave a Reply

error: Content is protected !!