Skip to main content

Isaac Cloete

“Julle is reg, dit is n groot boom wat geval het.”

So praat veeboere van Willie van den Heever (50), die bekende boer en sakeman wat onlangs skielik gesterf het na ‘n kort siekte.

Willie, oorspronklik van Eksteenfontein (Xhobes) in die Richtersveld, het Sondag onverwags beswyk. Volgens sy vrou, Angeline, was Willie nog voor dit springlewendig en kerngesond.

“Ons het hom Vrydag na die hospitaal op Springbok geneem omdat hy siek gevoel het. Hier was toe ontdek dat hy geelsug gehad het. Sy lewer was ook aangetas. Maar hy was nie opgeneem nie.”

Saterdag het Willie, tuis, twee keer geval. Na die tweede val het sy die Mosmed24 ambulansdiens gebel, wat hom dadelik na die hospitaal gehaas het.

Hier was toe ontdek dat sy lewer opgeswel het en dat daar dadelik na die intensiewe waak-eenheid (ICU) by die Harry Surtie hospitaal te Upington met hom gejaag moes word. Blykbaar was dit nie die regte besluit om hom so ver (400km) per pad te vervoer nie, was die mening van hospitaal-personeel op Upington, het sy verder genoem.

Willie het Sondagnamiddag teen 18:00 beswyk en dit het skokgolwe deur veral die Richtersveld-gemeenskap gestuur.

Angeline wil nie graag vingerwys nie, maar voel dat haar man eintlik al Vrydag by die Springbok-hospitaal opgeneem moes gewees het.

“Ons wil nie aannames maak nie, maar miskien kon beter voorsorg sy toestand laat verbeter het. Maar nou ja, dis die wil van die Here.”

Volgens Angeline is sy en haar drie dogters (en kleindogter) stukkend oor die groot en onverwagse slag. Nou is al sy alleen om hulle besighede te bedryf.

“Hy het my elke dag vertel hoe lief hy vir my was. Hy het soms gevra waarom ek hom ook nooit dit vertel het nie, het sy geskerts.”

Sy vrou en dogters was sy alles en sy trots. Vir hulle het hy ten alle koste beskerm en gekoester. Hy het ook seker gemaak dat hulle “genoeg sal hê” as hy eendag nie meer daar is nie, volgens Angeline.

Die Van den Heever-egpaar is al vir vyf en twintig jaar getroud en was baie geheg aan mekaar. Hulle het ook ‘n winkel in Eksteenfontein, behalwe sy boerdery. Willie was voor sy heengaan ‘n kontrakteur en het die laaste paar jare kontrakte gehad by die myn in Aggeneys.

Willie en die bekende veeboer, Burre Burger, was baie naby aanmekaar, veral ten opsigte van die boerdery en veevoer. Burger was verslae oor Willie se skielike dood.

“Jy was ‘n rots en fighter, wat jou dorp se boere altyd eerste gestel het. Jy het nooit gekla nie en altyd vertel dat jy oraait is soos ons boere maar is. Rus sag, groot boom.”

Willie was veral lief om “yebo” uit te roep om te aan te dui dat hy saamstem of iemand se aandag het.

Hy word Sondag te Eksteenfontein te ruste gelê te midde van groot belangstelling.

Leave a Reply

error: Content is protected !!