Skip to main content

Madi Pieterse

WESKUS – Vier manne van Paternoster is deel van die derde Weskus Sharks-rugbyspan wat op 11 en 12 November in Maleisië aan ’n 10-man kode toernooi gaan deelneem.

Die toernooi, Cobra 10’s, word vanjaar vir die vyftigste keer aangebied, die langslopende toernooi in die wêreld en vind plaas in Petaling Jaya, Selangor in Maleisië. Ander lande wat deelneem is onder andere Fiji, Australië, Skotland en Nieu-Seeland.

Die res van die 16-lede Weskus Sharks is van Vredenburg, St Helenabaai, Langebaan en Saldanha. ’n Tweede Suid-Afrikaanse span, NTK Rugbyklub van Parow, gaan ook weer deelneem.

Die Weskus Sharks tree aan onder die vaandel van die Benji Rugby-akademie van Vredenburg, ’n breinkind van oud-Blitzbok en internasionale speler, Ryno Benjamin, wat na sy uittrede besluit het om terug te ploeg in die gemeenskap waar hy grootgeword het. Ryno, beter bekend as Benji, het die hulp van twee plaaslike kenners, Liam Mahoney en Alfredo Barends, ingeroep om hom by te staan in sy taak om klinieke en afrigting aan te bied by skole en ook aan senior spanne in die area. Liam het ’n groot liefde vir sport en is goed bekend met die reël van sporttoere. Sy kennis hieroor kom handig te pas om die toerspan ‘in die lug’ te kry. Alfredo is die huidige Boland o/20 hulp-afrigter en staan Benji by met die afrigting van die Weskus Sharks. Benji gaan vanjaar ook as speler sy kant op die veld bring. NTK verskaf die dokter en fisioterapeut vir die twee Suid-Afrikaanse spanne.

Behalwe vir die besigheidsvleuel van die akademie is daar ook die Benji Sports Academy NPC wat met die hulp van borgskappe soveel as moontlik klinieke aan skoolspelers aanbied om sodoende ook belowende spelers te identifiseer vir toekomstige rugbyloopbane.

Liam het al ’n aantal rugbytoere onder die belt. In 2013 het hy ’n o/16-span Frankryk toe geneem en in 2018 en 2019 het plaaslike spanne reeds hulle eerste smaak van die Cobra 10`s toernooi gehad.

As gevolg van gebrek aan borgskappe is dit moontlik dat die toernooi vanjaar die laaste keer aangebied sal word, maar Liam is alreeds besig om alternatiewe bestemmings te ondersoek. Bali word reeds as opsie oorweeg.

Die kompetisie word gespeel in ’n rondomtalie-formaat waaraan 16 spanne deelneem. Toernooi-verorderinge soos uiteengesit deur die Internasionale Rugbyraad vir die 7’s-kode met variasies vir die 10-man kode word toegepas. Die hele toernooi word sedert 2016 lewendig uitgesaai en lok kykers wêreldwyd.

Om te kwalifiseer vir die Weskus Sharks moet spelers eerste span speel vir hulle klub en ook eie kostes kan dek vir die toernooi. Borgskappe en bydraes word verwelkom. Liam Mahoney kan in dié verband gekontak word op 071 133 5247.

Die span sal in Julie saam begin oefen. Moontlik kan hulle die 1999-wenners, Northlink Kollege van Kaapstad, se prestasie nadoen en die trofee Suid-Afrika toe bring.

Leave a Reply

error: Content is protected !!