Skip to main content

Kobie Cilliers

RUGBY

* Die spanne wat deurgedring het na die halfeindronde van die United Rugby Championship (URC) is ‘n akkurate weerspieëling van die sport se wêreldranglys.

Drie klubs van Ierland, die voorste internasionale span ter wêreld, sal vir ‘n plek om die URC-eindstryd meeding, terwyl slegs een span van Suid-Afrika, vierde op die ranglys, die laaste vier van die toernooi gehaal het. Frankryk (tweede) speel in die Top 14-reeks en Nieu-Seeland (derde) ding mee in die Super Rugby Pacific-reeks en is dus nie deel van die URC nie.

Die Stormers speel Saterdag om 16:00 in die DHL-stadion in Kaapstad gasheer vir die buiteperd Connacht, wat Vrydagaand vir ‘n effense opskudding gesorg het deur hul meer gerekende landgenote Ulster in hul kwarteindstryd te klop. Die ander halfeindstryd tussen Leinster en Munster word later dieselfde dag om 18:30 in Dublin beslis. Dié Ierse spogklubs het onderskeidelik met die Sharks en die Glasgow Warriors van Skotland afgereken.

* Die losskakel Manie Libbok was Saterdag ‘n ster in die Stormers se oorwinning met 33-21 teen die Bulls in hul URC-kwarteindstryd op die Kapenaars se tuisveld.

Libbok was suksesvol met al sewe sy pogings pale toe en en het ook met sy taktiese skopwerk uitgeblink. Hy was boonop uiters gevaarlik as ‘n baldraer en het verskeie bresse geslaan en spasie vir sy spanmaats geskep.

Die 25-jarige Libbok het beslis weer sy hand opgeteek vir ‘n plek in die Springbok-groep nadat hy die afgelope klompie wedstryde ‘n effense insinking in sy skopwerk en spelpeil ervaar het. Maar hy sal die naweek – en in die eindstryd as die Stormers vir Connacht sou klop ­ – bestendig moet wees en met sy goeie vertonings volhard om sy Bok-kanse lewendig te hou.

Al het die Stormers vir Connacht in die eerste wedstryd van hul URC-veldtog gemaklik met 38-15 geklop, het die Iere soos die seisoen gevorder het stoom opgetel. Hulle was veral puik by die afbreekpunte in die oorwinning van 15-10 teen Ulster. Tuisveldvoordeel behoort egter deurslaggewend vir die Stormers wees.

* Wat die Bulls betref: Dit was die Pretorianers se sesde agtereenvolgende nederlaag teen die Stormers in die URC.

Jake White, afrigter van die Bulls, het ná Saterdag se nederlaag gesê dat dit tyd is vir “nuwe energie en nuwe idees”. Hy het belowe daar sal veranderinge op sy bestuurspan en ook speleraanwinste wees om die span te versterk.

* Neil Powell, die Sharks se direkteur van rugby, het agterna aanvaar dat die twee geel kaarte wat sy span teen Leinster gekry het die Durbaniete duur te staan gekom het.

Leinster het Saterdag die Sharks in die Aviva-stadion in Dublin met 35-5 geklop.

Die Bok-vleuel Makazole Mapimpi is vroeg in die kragmeting afgestuur en laat in die wedstryd moes die flank James Venter ook tien minute in die koelkas deurbring.

Maar dit is gedane sake en die einde van ‘n teleurstellende URC-seisoen vir die Sharks.

Die nederlaag bring ook ‘n einde aan Powell se tyd as tussentydse afrigter van die span. Powell het laat verlede jaar benewens sy take as direkteur van rugby, ook die pos van hoofafrigter op ’n tydelik basis oorgeneem nadat die Sharks en Sean Everitt se paaie geskei het.

John Plumtree sal van aanstaande seisoen af die Haaie se afrigter wees.

TENNIS

* Die Madrid-Ope is ‘n Meesters 1000-toernooi wat gesamentlik deur die mans se ATP-toer en die vroue se WTA-toer aangebied word. Dié gesaghebbende kleibaan-byeenkoms bied maksimum ranglys-punte buiten die Grand Slams en word deur spelers as belangrike voorbereiding vir die Franse Ope beskou.

In die eindstryd vir mans het Carlos Alcaraz van Spanje, tweede op die wêreldranglys, en die Duitser Jan-Lennard Struff, die eerste sogenaamde “gelukkige verloorder” om die eindstryd van ‘n Meesters 1000-toernooi te haal, mekaar die stryd aangesê.

En net ter verduideliking: Struff (33) was Vrydag in die halfeindronde teen die Rus Aslan Karatsev aan die wenkant, slegs dae nadat hy teen dieselfde teenstander in die laaste ronde van kwalifiserings-wedstryde verloor het. Maar Struff was ongeag sy nederlaag in die kwalifiseerder in die hoofloting ingesluit nadat ‘n ander speler hom op die nippertjie onttrek het.

Die 20-jarige Alcaraz was egter te goed en het Sondagaand in die spore van sy legendariese landgenoot Rafael Nadal gevolg deur slegs die tweede speler te word wat sy titel in Madrid suksesvol kon verdedig.

Hy het die eindstryd in 2 uur en 24 minute met 6-4, 3-6, 6-3 gewen. Struff het nietemin die jong Spanjaard hard laat swoeg vir die oorwinning.

“Dié oorwinning voor my tuisskare is vir my baie spesiaal en iets wat ek altyd sal onthou,” het Alcaraz ná sy sege gesê.

* Aryna Sabalenka, tweede op die wêreldranglys, het Saterdag in die eindstryd vir vroue in Madrid die wêreldnommereen, Iga Swiatek, met 6-3, 3-6, 6-3 geklop om die toernooi vir ‘n tweede keer te wen.

Die 25-jarige Belarus het wraak geneem vir haar nederlaag teen die einste Poolse teenstander twee weke gelede in die eindstryd in Stuttgart.

Dit het ‘n einde gebring aan Swiatek se wenrekord van nege agtereenvolgende wedstryde, maar is nie ‘n reuse-terugslag vir haar selfvertroue nie voordat sy poog om haar Franse Ope-titel later vandeesmaand suksesvol te verdedig.

Swiatek, ‘n tweemalige wenner van die major by Roland Garros in Parys, het terugbaklei ná Sabalenka die wedstryd uitstekend begin het, maar die Belarus het die derde stel oorheers om die eerste WTA 1000-eindstryd tussen die die wêreld se voorste twee spelers sedert 2014 te wen.

Sabalenka, wat ook in 2021 in Madrid geseëvier het, het die 13de WTA-titel van haar loopbaan ­– en slegs haar tweede op klei – in 2 uur 25 minute beklink.

“Ek is uiters tevrede met hierdie wen, veral teen Iga op die klei; dit is altyd taai wedstryde teen haar op hierdie oppervlak,” het vanjaar se Australiese Ope-kampioen agterna gesê.

Swiatek het Sabalenka in haar onderhoud gelukgewens, maar ook weens verskeie laat aande ‘n hou na die toernooi se organiseerders gemik, met kragmetings wat gereeld eers in die vroeë oggendure voltooi is.

“Dit is nie pret om teen 01:00 nog op die baan te wees nie,” het sy gesê. “Maar ek is in elk geval tevrede dat ek hierdie ervaring kon oorkom en oorleef en dit tot in die eindstryd kon maak.”

FORMULE EEN

Max Verstappen het Sondagaand op die Miami International Autodrome sy Red Bull-spanmaat, Sergio Perez, in die Miami Formule Een-Grand Prix geklop.

Verstappen, wat negende weggespring het, het sy derde oorwinning in vanjaar se vyfde Grand Prix behaal. Hy het in sy se 38ste loopbaan-oorwinning die wenstreep 5.384 sekondes voor Perez oorgesteek en die duo het dus nog ’n eerste en tweede plek aan die oorheersende Red Bull-span besorg.

Fernando Alonso (Aston Martin) was derde, George Russell (Mercedes) vierde, Carlos Sainz (Ferrari) vyfde en Lewis Hamilton (Mercedes) sesde.

Dit was Alonso se vierde podiumplek vanjaar.

Verstappen het na dese 119 punte, Perez 105, Alonso 75, Hamilton 56, Sainz 44 en Russell 40.

In die vervaardigersafdeling loop Red Bull met 224 punte los voor gevolg deur Aston Martin (102), Mercedes (96) en Ferrari (78).

Die volgende Grand Prix is die Emilia Romagna Grand Prix op 21 Mei op Imola.

Leave a Reply

error: Content is protected !!