Skip to main content

Meinhardt – Koffie in die tronk

’n Gastehuiseienaar en sanger  uit die Pragtige Karoodorp Beaufort-Wes debuteer die herfs met die enkelsnit Koffie in die tronk, wat “die  hopelose realiteit van liefde waarbinne ons soms moet leef” uitbeeld.

Meinhardt, wat al in 2004 tot die Afrikaanse musiekmark toegetree het, het ’n goed-geoliede stem wat sterk herinner aan die helende effek wat karooplante soos katbos en kambroo  op die mens kan hê.

Dus, Koffie in die tronk, wat ook uit sy eie pen verskyn het, is nie net nog ’n geween en gekners van tande oor die liefde wat verskillende metafore kan aanneem nie; dit is amper ’n bevrydingslied wat die liefdestronkdeure oopsluit en onderwerpe soos “verslawings binne verhoudinge” en “eensaamheid” kaalvuis aanpak.

“Die liedjie,” vertel Meinhardt, “gaan oor juis hierdie  taboe-onderwerp en die eensaamheid in ’n verhouding of gesin wat dit skep,  waaroor mense nie eintlik wil praat nie.

”Dit,” verduidelik hy, “lei tot ’n eensame verhouding van verlange waar die liefde net afwaarts spiraal tot daar aan die einde niks meer oorbly nie.

“Ironies genoeg skep die gebrek aan liefde die afhanklikheid, wat vir al die betrokke partye tot nog  ’n groter gebrek aan liefde lei. Dié vraag word aangespreek:  Is dit ’n oormaat van gee en gee, of die opgee, wat aan die einde van die dag  lei tot ’n donker put van selfvernietiging?”

Die snit het vir hom ook ’n baie persoonlike betekenis, want hy was al ook binne so ’n tipe verhouding vasgevang.

“Ek glo dat beide partye binne só ‘n ongesonde liefdesverhouding, afhanklik is daarvan; hulle leef om te oorleef, en almal betrokke bly in dieselfde tronk vasgevang as die fisiese afhanklike persoon. Daar is soveel forms van afhanklikhede waarna ons gryp in ons desperate soeke na  liefde en aanvaarding.

“Ek glo dat ons meer bewustheid rondom die onderwerp moet skep, want dit kan baie gesinne uit dié tipe liefdesnood red. Dié snit pak wel ernstige knelpunte aan, maar dit handhaaf steeds ’n ligte gevoel en skep ’n gevoel van hoop.

“Ek glo dat almal met dié snit sal kan identifiseer, want,  aanhou klou, weer probeer, en hoe lank nog? het al universiële frases in die liefdeswoordeboek geword,’’ vertel Meinhardt. “Ek hoop dat die lied baie gesinne en geliefdes weer ’n bietjie hoop in  liefde sal gee, liefde wat aanhou klou.’’

Die hoop word ook aan die einde van die snit verwoord: … in die donker gang van twyfel sal ek jou kom haal…

Leave a Reply

error: Content is protected !!