Sonnette Lombaard
Die Afrikaner draai en swaai, maar ná bykans vierhonderd jaar aan Afrika se suidpunt is ons steeds aan’t verdwale. Hardkoppig en stiksienig, trap Kitty ver in die wȇreld klei om “haar nie te laat verraai nie”.
En so gly ons aan, meer dikwels, as nie, ons eie grootste vyand. Aan genoegsame saamstaan soos daai ander diaspora-volkie, die magtige Jode, wie dit in trotse prestasies uitrol en in geskiedenis vergestalt, het ons oënskynlik minder erg. Nie dat ons volk gebrekkig gaan aan presteer nie, MAAR in moddergooi, veral onder mekaar, bly ons boBAAS kekkelklase. Feit én hartseer. Of dit nou die absurde kelkie-of-beker-twis is, Calvinisme se vrome deugde teenoor charismaties se losser lofprysings, die noord-en-suid-stryd, grade teenoor diplomas, Nat teen Sap en later NP vs KP, ons Afrikaanses hou eenmaal van stry en baklei. En deel ons die slae onder mekaar uit, is ons op ons stukke en in ons noppies.
Dra ons baster-samestelling uit te uiteenlopende wortels deels skuld? Want al is ons blankes oorhoofs Eurosentries, skommel die kenmerke kleurryke invloede uit die Ooste en van die inheemse landgenote ons bloed. Selfs ons Europese wortels is ‘n gemengde dosis van soms onlekker pasmaats. Die jel van streng Calvinistiese dogma, Duitse presisie gemeng met die Franse flair en warmbloedige Latyners vra mos vir skisofreniese spatsels. Voeg daarby ons Afrikanergeit, want oorleef op ons vasteland brei en karteer onvermydelik gene.
In ons politieke boma vat die verskille onder ons volk behoorlik vlam. Van die vroegste tye het ons voormense vurige politieke vure gestook en aan die brand gehou. Bygesê, lig was nodig want om in donker Afrika wortel te skiet en te groei vat leeuemoed.
Hoewel die meeste mense aan politiek dink as party teen party, is dit in wese alledaagse oorlewing, oftewel hoe mense in groepe hulself bedryf met besluite en ooreenkomste. Soos dit hier ontvou het, was/is dit nie net blank teen ander “gekleurdes” nie maar ewe dikwels broer teen broer. Tans takseer ons strydende volkie met sy skaars 5 miljoen siele in ‘n land met 60 miljoen burgers, die volgende hoë hekkie. Sedert die koms van ons demokrasie word die voorheen taboe-kleurgrense voel-voel oorgesteek op soek na nuwe vennootskappe vir voortbestaan onder Afrika se skroeiende son.
Dié geskarrel sorg vir beswaarde vermaak tussendeur ewe enstige kopkrapkwessies soos beurtkrag en verslegtende infrastruktuur, werkloosheid en lou ekonomiese vooruitsigte.
Die mees kommerwekkende? Dat Afrikaanses amper ‘n kwarteeu in die millennium-landskap in steeds in toekomsboksies vasgevang is. Dít terwyl die wêreld snel verander en die speelvelde vloeiend bly.
In die speurtog na nuwe maatjies, dek twee groepe Afrikaanses die flanke. Regs pronk knaap Kallie Kriel en links preek Maximus en sy verligte manne vanuit die eksklusiewe hoogtes. Lg. is die voorskriftelike, selfaangestelde PC-polisie wat graag hulle brein-baaskap aan hul Afrikaanse langenote afwys. Want wat sal ons gewone volksgenote nou verstaan van hul hogere vlugte en kuiers saam met oudstryders? Helaas noudat die uitnodigings vir skouerskuur met kamerade begin opdroog, berig hulle begerig-nederig meer in lyn met die res van hul taalgenote se skamele bestaan. Hoogtyd. Skielik is die eksklusiewe kringetjie al meer uit pas met meerderheid Afrikanerdenke. Soos die wysheid lui: Liberals claim to want to give a hearing to other views, but then are shocked and offended to discover that there are other views.
Jip, politieke korrekheid bly die grootste euwel in die moderne mensdom. Vals tot op die been.
Dis egter nie al plek waar die Afrikaanse liberales kleitrap nie, want Media24 buig ook knie voor verradelike glansgode. Die eens trotse tradisie van feitelike en gebalanseerde beriggewing het gesneuwel en plek gemaak vir ‘n vreemde nuwe geslag journos wat nie toelaat dat feite ‘n sensasiestorie versuur nie. Gaap, gaap, mens hou ver verby en droom van ‘n plasie iewers in Afrika …
Aan die ander regse kant wil Kallie en sy kaders koning kraai … as voorbokke van beloofde nuwe waters van rus vir Afrikaanses. Teen ‘n prys natuurlik. Maar ou streke van snobisme en verstok omgaan met landgegewes pootjie papier-idees.
Dis ‘n feit soos ‘n heilige koei dat ons heil in Afrika afspeel en ons hier ter plaatse oplossings sáám met ander moet soek vir almal, minus natuurlik die groterwordende volksgenote onderweg van Kanada tot Kiwiland. Gesoek: vars, oorspronklike maniere om mekaar te verduur en saam te bou vir ‘n beter toekoms vir ons nageslagte. Alleen kan ons tog nie mas op nie en ons landgenote ís mede-reisigers. Afrikaner-sakeman Louis Liebenberg reik al geruime tyd fluks uit en sluit vennootskappe met twee kernvolke, die Zoeloes in KwaZulu-Natal en die Namas in Noord-Kaapland.
Stiksienigheid, skynheiligheid, verkramptheid en valsheid lei ons na Niemandsland. In Afrika geld ander reëls, ons moet eiesoortig plan maak om te bly sáák maak. Broers en susters, die Weste is lankal nie meer die begin en einde nie. Opkomende wȇreldreuse tree reeds aan op die internasionale verhoog. Indië, Brasilië en Kie speel nou saam kaart. China en Putin se robuuste Russe reik lank reeds uit na Afrika. Tydige herposisionering is van kardinale belang.
Dis laat in die dag. Tyd vir wakker skrik, Kallie se kaders regs en Maximus se linkse, liberale lawaaimakers! Kinderkrans, kortbroeke en PC-is-koel het geseil. Hier rol ons moue op en vleg hande, bou brûe saam met ons mede-burgers. In Afrika werk oorlewing anders. Voorwaarts!
Nou ja toe. Die wat hierdie geskryf nie verstaan nie sal nooit verstaan nie.
Daar word geklop gaan jy oop maak?
Goed gestel. Waarheid maak altyd seer daarom is dit so belangrik om te begin genees.