Skip to main content

Isaac Cloete  

Na nog ‘n gru-ongeluk het vier volwassenes en ‘n baba hul lewens verloor.

Die vyf buitelanders van Zimbabwe het op die pad  tussen Steinkopf en Port Nolloth in die Noord-Kaap gesterf toe die dubbelkajuitbakkie waarin hulle gereis het, omgeslaan het.

Blykbaar het al vyf op die toneel gesterf nadat van hulle uit die bakkie geslinger was. Daarna het die bakkie aan die brand geslaan.

“Weens die impak van die ongeluk het die bakkie ook aan die brand geslaan en een persoon (‘n ryloper) was in die proses verkool,” het Brian Sithole by die Springbok-hospitaal vertel.

Sithole se broer, Shepherd Matongo, asook laasgenoemde se baba het ook in die ongeluk omgekom. Die ander oorledenes was Liberty Dube en Reginald Dube en die onbekende ryloper.

Volgens hom was die vyf persone Sondagaand baie laat vanaf Springbok na Port Nolloth onderweg.  Hulle het later drie persone, (ook Zimbabwiërs), wat geryloop het, opgelaai.

“Die vermoede bestaan dat die bestuurder van die bakkie sy konsentrasie verloor het. Hierna het hy beheer oor die bakkie verloor toe dit teen die padrelings gebots en daaroor getuimel het,” het Sithole aan Die Waarheid vertel.

Die ongeluk het net voor ‘n draai in die Anenous-pas(R382) buitekant Steinkopf gebeur, volgens Mark Cloete van Port Nolloth.

“Die bakkie het oor die padrelings gebars en teen rotse ente ver gaan beland. By dié gedeelte het al baie ongelukke, met lewensverliese, gebeur,” het hy verder vertel.

Cloete, ook ‘n bekende in die diamantbedryf op Port Nolloth, het van die familie van die oorledenes ondersteun na die gru-ongeluk.

Die polisie het eers Maandag op die toneel gekom omdat die ongeluk so laat Sondagaand of vroeg Maandagoggend gebeur het, volgens Sithole.

Drie beseerdes (twee mans en ‘n vrou) was per ambulans na die Springbok-hospitaal geneem. Onder hulle was Matongo se vrou, Senzeni Sibiya Matongo, asook die ander twee rylopers.

Eers Dinsdag kon Cloete asook familie en vriende van die oorledenes hulle hier kom besoek.

Een van die rylopers het moeilik aan Die Waarheid probeer verduidelik wat vermoedelik gebeur het voor en tydens die ongeluk. Hulle glo dat die mistigheid en spoed op die bergpas ook ‘n rol in die ongeluk kon gespeel het.

Volgens Sithole het hulle geen idee wanneer die oorledenes terug na hul tuisland, Zimbabwe, gestuur gaan word nie, weens ‘n gebrek aan n tekort aan forensiese personeel op Springbok.

* Die Zimbabwiërs  was betrokke by diamantdelwery in Namakwaland, volgens Cloete wat delwers help  met die verkryging van finansiering van diamantkonsessies.

Leave a Reply

error: Content is protected !!