Skip to main content

George April

‘n Weduwee van Colorado in Mitchells Plain sit op moedverloor se vlakte oor ‘n waterrekening van meer as R600 000.

“Ek ‘n privaatmens, maar die situasie waarin ek sit, ten opsigte van die astronomiese minusipale rekening maak my siek.”

Cynthia Mentoor het vertel dat sy al vanaf 2021 met die kopseer sit, en navrae by Stad Kaapstad val op dowe ore.

“Ek het na aanleiding van die geweldige waterrekening gedurende 2021 ‘n loodgieter gehuur om vas te stel of daar enige lekkasies op my perseel was. Die loodgieter se bevinding was dat daar geen waterlekke op my perseel was nie, insluitende alle krane.

“Ek is ‘n fabriekwerker, en dis onmoontlik vir my om daardie geld te betaal. My grootste vrees is dat ek my huis kan verloor,” het Mentoor gesê. “Ek werk tans twee dae per week, en as dit loadshedding is, word ons nie betaal nie. Hoe verwag hulle moet ek daardie geld betaal, en dis nie eers my fout nie?”

Hulle het ook al baie briewe aan die stadsraad gestuur om die skuld af te skryf.

“In 2021 het ek ‘n loodgieter gehuur om te soek vir lekke in en rondom my huis. Daar was geen lekke nie, maar wel aan die kant van die Stadsraad. Ek was toe by die wyksraadslid in Woodlands, me Joan Woodman om ‘n onafhanklike loodgieter te soek vir die probleem.

“Munisipale werkers het opgedaag en die lekplek buite my perseel herstel. Ek was verskeie kere by die kantoor van Woodman, om my te help om my probleem op te volg, met geen positiewe resultaat nie.

“Ek het baie keer gevoel dat ek ‘n oorlas van myself maak, en dat die Kaapse Stadsraad ongevoelig en onsimpatiek is en nie my probleem ernstig opneem en hanteer nie. Omdat ek ‘n weduwee is, vrees ek dat  ek my huis sal verloor, daarom was ek genoodsaak om ‘n lening te maak.

“Mnre Marsala en Dawid Kamfer van Icosa het briewe aan die Stadsraad gerig en gevra dat die enorme skuld afgeskrywe moet word. Grootliks omdat die fout aan die stadsraad se kant was.

“Hulle terugvoering na ‘n tyd was dat ek reëlings moet tref om R5 000 per maand op die rekening te betaal, wat my verward en geskok gelaat het. Ek het ook intussen dreigbriewe vanaf die prokureurs van die Kaapse Stadsraad ontvang.

“Ek moet gereeld geld leen om aan die lewe te bly, wat ek soms nie eers kan terugbetaal nie.

“My lewe is baie stresvol en ek is as gevolg van die groot munisipale rekening konstant op medikasie.”

Die Waarheid het reeds Woensdag ‘n navraag aan die Stad Kaapstad gestuur, maar met die vakansiedae en beurtkrag was daar nog geen terugvoer nie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!