Sonnette Lombaard
Meer as 200 raad-op Namibiese vennote in diamantpakkies sien bloedrooi omdat AE Switch nie sy beloftes en verpligtinge nakom om miljoene in hulle e-beursies beskikbaar te stel vir uitbetaling nie.
Hannes Badenhorst, ‘n direkteur by Zircon, bevestig dat 263 Namibiërs geld in diamantpakkies by dié maatskappy en Tariomix belȇ het, en waarvan winste van miljoene nou vas sit. Daar is tot dusver R11miljoen aan opbrengste aan hulle uitbetaal maar die vennote kan nie hulle geld-opbrengste onttrek nie.
Die vennote in ons noordelike buurland stoom omdat geglo word AE Switch is opsetlik onwillig om te help en lafhartig skuil agter nuwe wette oor geld oor landgrense.
Dié lelike nadraai volg nadat Forever Diamonds and Gold vir AE Switch in Februarie in ‘n kernhofsaak getroef het. In ‘n belangrike beslissing het die Hooggeregshof in Pretoria toe gelas dat AE Switch sy omstrede oornagsluiting van sy e-beursplatform waarin vennote van sakeman Louis Liebenberg miljoene belê het, dadelik moet herstel. Liebenberg het dit as vyande se opportunistiese vuilspel gebrandmerk.
AE Switch is die maatskappy wat die e-beursstelsel bedryf het waarin Liebenberg se JV-vennote miljoene in sy diamantpakkies gedeponeer het. Dis op 2 Februarie sonder waarskuwing en “onbepaald” gesluit, wat vrese onder beleggers oor hul geld gesaai het.
Die hof het ná ‘n verhoor oor drie weke ten gunste van Liebenberg beslis. Daarvolgens moes AE Switch die vennote se geld teen 24 Februarie 2023 vrygestel het. Die stelsel moet ook oopbly vir een volle jaar om die geld uit te betaal. Vennote moet geverifieerde bankbriewe aan AE Switch verskaf om hul bankbesonderhede te bevestig voordat die geld oorbetaal sal word.
Volgens Badenhorst was daar tydens aanvanklike en opvolg-gespekke met AE Switch reg vanaf die begin pertinent genoem dat Namibiȅrs ook geld in die diamantpakkies sal belȇ. “Ons wou doodseker maak dat geld in AE Switch se e-beursstelsel ook vir vennote oor grense beskikbaar sou wees,” verduidelik hy.
Badenhorst beaam dat Tiaan Lombard, uitvoerende hoof van AE Switch, by die gesprekke teenwoordig was en telkens die versekering gegee het dat daar geen probleme met buitelandse vennote se uitbetalings sou wees nie.
Dit het aanvanklik ‘n jaar lank glad verloop, maar toe het probleme opgeduik wat AE Switch toeskryf aan gebeure buite sy beheer nadat die Departement van Binnelandse Sake vroeg in 2022 nuwe reëls in werking gestel het vir geld wat oor grense verwissel word. AE Switch het reeds in Maart 2022 die Namibiërs se e-beursies geblok en beweer die Reserwebank sal die maatskappy blok as hy probeer om die geld in die e-beursies in te betaal.
Sedertdien sukkel die Namibiese vennote om toegang tot hul miljoene in hul e-beursies te kry en dit te onttrek. Dit word gesien as kwaadwillig en suur druiwe nadat AE Switch die bitter hofsaak verloor het en nou stert tussen die bene rondskarrel en boonop hul besigheid moet probeer red.
Badenhorst benadruk dat Forever Diamonds and Gold deurlopend onsuksesvol met AE Switch probeer kontak maak om sy gestrande Namibiese vennote te help. “Ons het bewyse van al ons futiele pogings. Dit voel of ons hande afgekap is.”