Dirk Lotriet
‘n Profeet word nie in sy eie land geëer nie. ‘n Hokvegter ook nie op sy eie kontinent nie, blyk dit nou.
Die Suid-Afrikaanse MMA-vegter Drickus du Plessis het onlangs gesê hy wil die eerste waarlik Afrika-vegter nog word wat ‘n titel in die UFC wen.
Anders as byvoorbeeld die Nigeries-gebore-middelgewigkampioen Israel Adesanya, wat in as kind Nieu Seeland toe getrek het, in Kiwi-land woon, oefen en daar afgerig word, woon en oefen Du Plessis in Pretoria en assosieer hy as ‘n man van Afrika.
Hy kry egter baie kritiek van mense uit Afrika – Drickus kan nie waarlik ‘n Afrikaan wees nie, want hy is wit, sê hulle. Hy is eintlik net ‘n Europeër, ‘n koloniseerder, sê hulle. Hulle meen ‘n Afro-Amerikaner is ‘n Afrikaan. Maar ‘n wit Suid-Afrikaner kan nie ‘n Afrikaan wees nie en basta.
“Ons is lief vir ons mede-Suid-Afrikaner, maar hy is g’n Afrikaan nie! Hy woon net toevallig in ‘n Afrika-land,” sê Zandisile Marotya.
“As ‘n perd in ‘n skaapkraal gebore word, maak dit hom nie ‘n skaap nie,” sê Dorzhi Badmaev.
Thabani Mfandaidza van Harare in Zimbabwe meen “om ‘n Afrikaan te wees, is rasverwant. Mens moet liewer na Du Plessis as ‘n Suid-Afrikaner verwys.”
El Joe Lewis van Trinidad en Tobago reken “dis tyd dat iemand vir die ou verduidelik hoekom hy nie ‘n Afrikaan is nie”.
Ajishefinni Adeleke van Lagos, Nigerië, sê Du Plessis probeer die ware Afrika-konings in die UFC diskrediteer. “Dit gaan hier oor ‘n oogprobleem. Wit outjie, probeer kalm bly en ken jou plek!” sê hy.
“Drickus is ‘n spierwit seun wat in Suid-Afrika bly en daarop aanspraak maak dat hy ‘n Afrikaan is … dis vir my skreeusnaaks! Dis hoekom ek agter (Julius) Malema staan,” sê Abraham Lech Obulu van Nigerië.
Danwill Mingo van George sê “as ek Amerika toe gaan, sal hulle my ‘n Afro-Amerikaner noem. Nie vir Drickus of Charlize nie…”
Baie swart Suid-Afrikaners staan egter bankvas agter Drickus. Ntomba Msomi van Durban skryf op Facebook: “Drickus het niemand se goedkeuring nodig nie, veral nie die van UFC-ondersteuners wat nog nooit ‘n voet in Afrika gesit het nie. Ons ware Afrikane waardeer en erken ons broer Drickus, die man is ‘n Afrikaan, of jy nou daarvan hou of nie! Kan nie wag dat Stillknox vir Rob Whittaker in sy volgende geveg aan flarde slaan nie!” sê hy.
Emile Graige Alexander van Johannesburg onthou ‘n tyd wat Drickus se voorouers op parkbankies gesit het wat vir “Europeërs” gereserveer is. “Dis lekker om te sien hy het ‘n verandering gemaak. Komaan Drickus! Laat die man toe om as Afrikaan te identifiseer!”
Lawrence Ndala van Johannesburg sê “die een wat in Afrika woon, oefen en gebore is, is die ware Afrikaan.”
EnzoKhambule van Katlehong noem Stillknox “ons seun”. “Suid-Afrika al die pad!” sê hy.
Aggrey Sakala sê Drickus is ‘n Afrikaan. “Hy lyk net bietjie anders.”
Die Waarheid se lesers wat oor die onderwerp gepols is, stem saam.
Johan Jack Smith, die bekroonde skrywer van die roman Zola, sien hom nes Du Plessis as ‘n Afrikaan.
“Ek is gebore op hierdie vasteland, en so is my voorsate sedert die 1600s.
“Hulle het oor die Drakensberge getrek, was betrokke in die Anglo-Boere-oorlog en het skouer aan skouer langs Shangaans in die goudmyne van die Witwatersrand gewerk.
“So as ’n wit persoon in Australië gebore word, is hy nie ʼn Australiër nie, net omdat hy nie aboriginaal is nie?
“Of omdat jou voorgeslagte wit is, en nie Indiane nie, is jy nie ʼn Amerikaner nie? Jy is waar jy gebore is, en basta.”
Jacques Strauss van Melkbosstrand stem saam. “Vir my persoonlik gaan dit oor geboortereg, geen mens kan jou van jou burgerskap ontneem nie.”
Ambassadeur Carl ‘Mpangazitha’ Niehaus, President van die politieke party ARETA, sê
Hierdie aangeleentheid gaan vir hom in die eerste instansie oor mentaliteit/opstelling. “Ek ken nie vir Drickus Du Plessis persoonlik nie, so ek kan nie op grond van persoonlike ervaring ’n oordeel vel oor sy mentaliteit as ’n Afrikaner en Afrikaan nie.
“Vir my is die kern van Afrikaan-skap erkenning dat die stryd vir geregtigheid in Suid-Afrika – en ook dwarsdeur die hele Afrika kontinent – in die eerste instansie gaan oor die regstelling van, en restitusie vir, rassisme en koloniale uitbuiting (veral ekonomiese ongeregtigheid en uitbuiting) van swart Afrikane.
Vir my is die definisie van ’n werklike Afrikaan of jy hierdie basiese realiteit erken en aanvaar, ongeag of jou verkleur wit of swart is. Dit is sekerlik waar dat swart Afrikane, op grond van hul direkte histories en huidige ervaring van rassistiese en koloniale onderdrukking en uitbuiting (wat wit mense nie het nie), veel eerder hierdie realiteit erken en uitleef, maar dit beteken nie dat daar nie ook wit Afrikane is wat hierdie realiteit erken en dit wel in hul daaglikse doen late uitleef nie.
Dit is ook waar dat daar swart Afrikane is wat, ten spyte van alle rasisme en onderdrukking wat hulle beleef het, nog steeds hierdie realiteit in hul doen en late verloën. Ek dink iemand soos Cyril Ramaphosa is ’n aaklige voorbeeld van ’n swart Afrikaan wat dit doen en dus sy eie Afrikaan-skap verraai en uitverkoop. Tesame met Ramaphosa is daar is ’n hele kapitalistiese komprador-klas van swart Afrikane wat in hierdie vieslike kategorie van verraairers val.
Dit lyk vir my na ’n valse aanname om te probeer argumenteer dat as ’n gebore Afrikaan vir ’n periode (lank of kort maak nie saak nie) buite Afrika woon (soos Israel Adensanya), as gevolg daarvan outomaties minder van ’n Afrikaan is. Ek weet van Afrikane wat vir baie jare buite Afrika woonagtig is, maar wie hulself nog steeds ten volle identifiseer met die stryd vir regstelling van, en restitusie vir, rassisme en koloniale uitbuiting, en hulself aktief daarvoor beywer.
Persoonlik was ek vir agt jaar in die buiteland (meestal in Nederland). Vyf jaar as Suid Afrika se ambassadeur in Den Haag, en drie jaar as teologiese student by die Universiteit van Utrecht. Gedurende hierdie periode van langdurige verblyf in die buiteland – buite Suid Afrika en Afrika – het my mentaliteit dat die essensie van die bevrydingstryd in die eerste instansie gaan oor die bevryding van swart Afrikane nooit vir ’n enkele oomblik verander nie, en het ek daagliks volgehou om my vir daardie stryd te beywer. In dié konteks glo ek dat ek deurgans ’n waarlike Afrikaan gebly het, en dit nog steeds tot en met vandag is.
Daar was egter, hoofsaaklik wit en tot ’n veel mindere mate swart, mense wat fisies woonagtig gebly in Suid Afrika, maar nieteenstaande tog daardie bewussyn verloor het en dus nie vegters is vir die bevryding en restitusie van swart Afrikane van en teen rasisme en koloniale uitbuiting nie. Tot die mate wat diegene daardie essensiële bewussyn verloor het, glo ek dat hulle ook hul Afrikaan-skap verloën en verloor het.
Dus, my konklusie is dat, indien Drickus du Plessis homself as die eerste waarlike Afrika-titel-aanspraakmaker beskryf, sal ek graag wil weet of hy erken dat volle identifisering met die eeue lange bevrydingstryd van swart Afrikane teen kolonialisme, die kern van sy Afrikaan-snap moet uitmaak.
Indien dit wel die geval is verdien hy inderdaad om omhels en erken te word as ’n waardige Afrikaan. Indien nie, dan het Drickus nog ’n opdraende pad om te loop, om uiteindelik daarby uit te kom en om homself as waarlike Afrikaan te kan beskryf, en as sodanig deur (oorweldigend swart) Afrikane erken en aanvaar te word.
Die letterkunde-man Floris van Zyl van Rawsonville dink dat identiteit diep geanker lê in ons kultuur en sommiges sou debateer dat ‘n ou soos Drickus, en dan by uitstek alle Suid-Afrikaners van Europese herkoms, nie deel in die ‘Afrika-kultuur’ nie.
Klou ons nog te veel vas aan ons Europese wortels en tradisies of kan ons sê dat die Afrikaner, hier in suider Afrika sy eie, egte Afrika-aanse kultuur kom skep het? As die antwoord “Ja” is daar, dan moet ons tog erkenning kry as ware ‘Afrikane’. Ons leef binne haar boesem, bevrug deur ‘n Europeër honderde jare terug, ons word gebore as ware kinders van Afrika, want sy is ons Moeder.
- Du Plessis beklee op die oomblik die sesde plek op die UFC se middelgewig-ranglys. Hy veg op 8 Julie by UFC 290 teen Robert “Bobby Knuckles” Whittaker, die voormalige middelgewigkampioen.
As hy Whittaker in daardie moeilike geveg kan klop, sal hy sekerlik ‘n kans kry om Adesanya vir die title te takel. Adesanya wat in Lagos gebore is, maar as tienjarige na Rotorua in Nieu-Seeland getrek het. Adesanya, wat, nes Du Plessis, bevoorregte kinderjare gehad het. Adesanya wat in Auckland woon en oefen.
Hierdie debat is nog lank nie afgehandel nie…