Skip to main content

Dirk Lotriet

As jy verby pres. Jan Brand se standbeeld in Pres. Brandstraat, Bloemfontein stap, sien jy dit dadelik: die statige Ou Goewermentsgebou is uitbundig getooi in vlaggies en baniere wat die nuus uitbasuin: Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) vier vanjaar sy vyftigste verjaardag.

Die NALN is al die afgelope halfeeu besig om Afrikaanse letterkunde- musiek- en toneelskatte te versamel, en niemand twyfel dat hulle dit vir die volgende vyftig jaar steeds sal doen nie, sê me. Annelien Diedericks van die NALN.

Nie dat dit ‘n maklike taak is nie. As mens deur die imposante ou gebou stap, besef jy net hoe geweldig omvangryk die taak is wat die personeel aandurf.

Die NALN se museumversamelings beloop ‘n beraamde driekwartmiljoen items. Benewens meublement en personalia uit talle skrywers se literêre nalatenskap, sluit dit boek- en publikasieversamelings in, asook kluise vol manuskripmateriaal, tydskrifte en koerante, knipselversamelings, bladmusiek-, plakkaat- en programversamelings, kunswerke en oudiovisuele versamelings en ander unieke bewaringswaardighede.

Die NALN se ambisie is toekomsgerig. Hierdie materiaal word in die eerste plek versamel, bewaar en ontsluit as ‘n erfenis aan die geslagte wat kom, as ‘n lewende erfenis waarop ‘n toekoms gebou kan word.

Die letterkundemuseum is letterlik die huis waarin die Afrikaanse literatuur woon, en wat ‘n huis is dit nie! Die Ou Vrystaatse Goewermentsgebou getuig van die noukeurigheid waarmee die NALN hulle verantwoordelikheid aanpak.

Die gebou is in opdrag van president Johannes Brand gebou om die verskillende staatsdepartemente van die Oranje-Vrystaatse regering te huisves.

Die eerste verdieping se voorgewel is deur Richard Wocke ontwerp en die sluitsteen is deur President Brand gelê op 31 Mei 1875.

In 1895 is die tweede verdieping gebou en die res van die gebou is ontwerp deur sir Herbert Baker, argitek van die Uniegebou in Pretoria, en is in 1906 voltooi.

Op 28 Oktober 1908 is die oorspronklike gebou in ‘n brand verwoes. Van 1909 tot 1911 is dit grootliks gerestoureer op grond van Baker se bloudruk. Verbeterings, veral in die fasade en toring, was die werk van die regeringsargitek F. Taylor.

Die toring was onder meer nouer en 10,5 m hoër as die oorspronklike een, en was toegerus met ‘n geronde kroon – die simbool van Britse imperialisme.

Van 1877 tot 1902 was die Ou Regeringsgebou die hoofkwartier van die Regering van die Oranje-Vrystaat. Die Vrystaatse Volksraad het van 1877 tot 1893 in die Derde Raadsaal vergader. Daarna het dit die setel van die Regering van die Oranjerivierkolonie gebly, en in 1911 die provinsiale hoofkwartier van die Oranje-Vrystaat geword.

In 1972 is die gebou tot nasionale erfenisgebied verklaar.

Sodra jy deur die hekke na die gebou stap, word jy oorval deur ‘n gevoel van statigheid – ‘n eienskap wat regdeur die museum opvallend is. Elke afdeling van die museum is met die grootste sorg en die klem op outentisiteit beplan.

In die voorstelling van prof. DF Malherbe se studeerkamer, byvoorbeeld, kan jy sy lessenaar, sy pype en selfs die opslaanstoele sien waarop student gesit het wanneer hulle hom besoek het.

Niks stel die deeglikheid van die personeel egter so goed voor soos die boeke op die rakke nie. Toe die uitstalling opgestel is, is die boeke in Malherbe se boekrakke genommer en presies in dieselfde volgorde op die uitstalling se rakke gepak as wat dit in sy eie studeerkamer was.

Die NALN beperk hom egter nie tot die argaiese nie. Met tipiese Vrystaatse gasvryheid het die instansie nie net die hand vriendskap uitsteek na ander Afrikaanssprekende groepe nie, maar ook na dele van die groter Suid-Afrikaanse letterkundegemeenskap.

Sedert 1996 het die NALN hernude fokus op die werke van swart en bruin Kaapse skrywers in Afrikaans gebring en sy versameling daarvan uitgebrei.

In 1994 het die NALN begin beywer vir ‘n literêre museum vir Sotho. Die museum is in 1999 aangekondig en is in 2006 met die hulp van NALN-personeel en NALN-befondsing geopen.

As mens egter met ‘n arendsoog kyk, sien mens die tekens van verval. Weliswaar nie so ooglopend soos oral in Suid-Afrika waargeneem kan word nie, maar tog.

Daar is heelwat waterskade van die onlangse swaar reën, sandsteen moet hier en daar vervang word en daar is dringend nog personeel nodig om hierdie kultuurskat soos ‘n geoliede kloktoringhorlosie te laat loop.

NALN se formidabele taak moet grootliks met eie fondse, skenkings en donasies deur die Vriende van NALN (gaan kyk gerus na hulle Facebook-blad) betaal word.

Die Waarheid doen dus vandag ‘n beroep op die Afrikaanse kultuurgemeenskap om die Afrikaanse letterkunde-erfenis vir toekomstige geslagte te help bewaar. Ons is ‘n kultuurgroep wat na ons kultuur kan kyk sonder die hulp van die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap.

Soos die woorde agter-op Pres. Brand se standbeeld by die voorhek tereg sê: Alles zal recht komen als elkeen zijn plicht doet.

As jy in Bloem is, gaan besoek die NALN. As jy ‘n paar rand kan afknyp, skenk dit aan hulle. Afrikaans het jou nodig.

Leave a Reply

error: Content is protected !!