Skip to main content

Dwarsdeur die wêreld sien ons nie net ‘n afname in die aantal individuele insekte nie, maar ook ‘n ineenstorting van insekdiversiteit. Die hoofoorsake van hierdie kommerwekkende neiging is grondgebruik-intensivering in die vorm van groter benutting vir landbou en bouontwikkeling asook klimaatsverandering en die verspreiding van indringerdierspesies as gevolg van menslike handel.

Dit is die hoofgevolgtrekkings waartoe gekom is in die spesiale ondersoek na insekafname. Een van die drie redakteurs van die studie is PD Dr Florian Menzel van die Instituut vir Organismiese en Molekulêre Evolusie aan die Johannes Gutenberg Universiteit Mainz (JGU).

“Ons doel was nie om insekbevolkingsafnames te dokumenteer nie, maar om die oorsake en gevolge daarvan beter te verstaan,” het Menzel gesê. Saam met bosentomoloog professor Martin Gossner van die Switserse Federale Instituut vir Bos-, Sneeu- en Landskapnavorsing (WSL) en bioloog dr. Nadja Simons van TU Darmstadt, het Menzel internasionale navorsers gekontak om die inligting wat hulle oor insekafnames kan verskaf, te versamel en om nuwe studies oor die onderwerp te stimuleer.

Die spesiale uitgawe wat deur Menzel, Gossner en Simons geskryf is, sluit 12 navorsingsverwante artikels, twee meningsartikels en ‘n uitgebreide hoofartikel in.

Meer uitgebreide gebruik van grond, klimaatsverandering en indringerspesies is die hoofoorsake van insekafname.

“In die lig van die resultate wat tot ons beskikking is, het ons geleer dat nie net grondgebruik-intensivering, aardverwarming en die toenemende verspreiding van indringerspesies die hoofdryfvere van die globale verdwyning van insekte is nie, maar ook dat hierdie drywers met mekaar in wisselwerking tree,” het Menzel bygevoeg.

Ekosisteme wat byvoorbeeld deur mense versleg is, is meer vatbaar vir klimaatsverandering en so ook hul insekgemeenskappe. Daarbenewens kan indringerspesies makliker vestig in habitatte wat deur menslike grondgebruik beskadig word en die inheemse spesies verplaas. Dus, terwyl baie insekspesies afneem of uitsterf, floreer en vermeerder min ander, insluitend indringerspesies.

Dit lei tot ‘n toenemende homogenisering van die insekgemeenskappe oor habitatte heen. “Dit lyk of dit die gespesialiseerde insekspesies is wat die meeste ly, terwyl die meer veralgemeende spesies geneig is om te oorleef. Dit is hoekom ons nou meer insekte kry wat bykans enige plek kan leef terwyl daardie spesies wat spesifieke habitatte benodig, aan die kwyn is, ” het Menzel uitgewys.

Die gevolge van hierdie ontwikkeling is talle en oor die algemeen nadelig vir die ekosisteme. Die verlies aan hommeldiversiteit het byvoorbeeld gelei tot ‘n gepaardgaande afname in plante wat op sekere hommelspesies staatmaak vir bestuiwing.

“Oor die algemeen bedreig ‘n afname in insekdiversiteit die stabiliteit van ekosisteme. Minder spesies beteken dat daar minder insekte is wat in staat is om plante te bestuif en plae in toom te hou. En natuurlik beteken dit ook dat daar minder kos beskikbaar is vir insek-etende voëls en ander diere wat hulle eet. Hulle voortbestaan kan dus in gevaar gestel word weens die afname in insekgetalle,” beklemtoon Menzel.

In hul hoofartikel stel Menzel, Gossner en Simons maniere voor waarop ons die beste kan reageer op die effekte wat hul versamelde data aan die lig gebring het. Hulle bepleit ‘n bepaalde benadering vir toekomstige navorsing oor insekafname. Gestandaardiseerde tegnieke moet aangewend word om insekdiversiteit oor baie habitatte en lande te monitor, te meer aangesien ons in baie streke van die wêreld steeds nie weet hoe dit met die insekte gaan nie.

Die navorsers stel ook die skepping van ‘n netwerk van onderling-verbonde natuurreservate voor sodat spesies van een habitat na ‘n ander kan beweeg. Minder hitte-verdraagsame insekte sal dus in staat wees om te migreer van gebiede waar aardverwarvfming temperature tot hoër hoogtes of koeler streke in die noorde laat styg. Verder het ons maatreëls nodig om die verspreiding van indringerdier- en plantspesies deur ons geglobaliseerde handel en toerisme te verminder.

“Dit is nog ’n probleem wat die laaste dekades uiters ernstig geword het,” het Menzel afgesluit. Een voorbeeld wat in die huidige spesiale uitgawe aangehaal word, is die inval van nie-inheemse insekvretende visse in Brasilië wat ‘n groot afname in varswaterinsekte veroorsaak het.

Leave a Reply

error: Content is protected !!