Skip to main content

Isaac Cloete

‘n Vermeende dwelmsmous se beursie is onlangs lekker deur die hof geruk.

Soveel so dat Luyanda Nokhele(48) van die Port Nolloth-area nou meer as R100 000 armer is, luidens ‘n bewaringsbevel.

Maandag het die hooggeregshof in Kimberley beslis dat ‘n bewaringsbevel aan die Valke toegestaan  word soos hulle versoek het.

Die bevel spruit voort uit ‘n voorval in Augustus 2020 in die Springbok-area, volgens kaptein Tebogo Thebe, woordvoerder van die polisie.

Op die dag het die openbare orde polisie (POPS) vir Nokhele in die Springbok-area langs die pad met ‘n groot sak gesien. Hy het by ‘n hike-spot gestaan en was vermoedelik na Kaapstad op pad om voorraad te gaan aankoop. Dit het die polisie egter toe nog nie op die stadium geweet nie.

Die polisie het hom toe gestop en gevisenteer. Hulle het ook die sak deursoek en afgekom op note ter waarde van R100 300. Nadat die polisie hom ondervra het, het hy vertel dat die kontant afkomstig was van ‘n diamanttransaksie op Port Nolloth.

Een van die Valke (aan Die Waarheid bekend) op Springbok het hom later ondervra, maar hy het by sy storie gehou. Dit was dat hy glo ‘n diamant op Port Nolloth verkoop het.

Die Valke was maar lugtig vir sy storie en het die kontant gekonfiskeer. Hierna het hulle begin met verdere ondersoeke.

Na die ondersoek vlam gevat het kon die verdagte nie bewys lewer dat hy oor ‘n wettige diamantpermit besit nie. Verder kon hy ook nie verklaar waarom hy in besit was van so baie kontant nie, volgens Thebe.

Fyn speurwerk het later onthul dat die verdagte ‘n bekende dwelmsmous in die Springbok/Port Nollloth-omgewing is. Die geld was dus waarskynlik verkry uit sy dwelmtransaksies.

Die Valke het intussen aansoek gedoen vir die bewaringsbevel wat Maandag deur die Kimberleyse Hooggeregshof toegestaan is. Dit behels dat die staat op die geld beslag gelê het en dit nie aan Nokhele kan terugbesorg nie.

Volgens die Valke op Springbok word Nokhele nou met skerper arendsoë dopgehou en sal hulle onmiddellik toeslaan indien dit nodig is.

Paul Swartbooi is ‘n direkteur by een van die diamantmyne te Buffelsbank, naby Springbok. Hy wou weet hoeveel kontantgeld ‘n persoon op hom mag hê. Ander gemeenskapslede hier wonder ook nou wie geregtig is om groot hoeveel kontant geld op een slag te hou, soos Cyril Ramaphosa waarskynlik laas gedoen het.

Leave a Reply

error: Content is protected !!