Drie manlike verdagtes tussen die ouderdomme van 20 en 35 sal na verwagting vandag voor die Klerksdorp-landdroshof verskyn vir oortreding van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteit, 2004 (Wet No. 10 van 2004).
Die beskuldigdes se hofverskyning spruit uit hul arrestasie nadat lede van die Stilfontein Veediefstal en Bedreigde Spesies (STES)-eenheid inligting ontvang het dat ‘n Nylkrokodil van ‘n krokodilplaas in Hartebeesfontein gesteel is. Lede van die STES en Natuurbewaringsbeamptes is na ‘n verlate plaashuis gelei waar ‘n 2,5m lange Nylkrokodil ter waarde van R25 000-00 ontdek is. Die krokodil was onder boomtakke versteek. Die verdagtes is in hegtenis geneem en die polisie het ook beslag gelê op ‘n voertuig (bakkie) wat in die pleging van die misdaad gebruik is. Die krokodil is toe aan sy regmatige eienaar terugbesorg.