Skip to main content

Madi Pieterse

ST HELENABAAI – Wanneer mens na Prillie* Christians se storie luister, is verstomming definitief die hoofreaksie.

Prillie, ten spyte daarvan dat hy slegs tussen 20 en 30% sig het, het van jongs af die lewe met albei hande aangegryp en die drome wat hy vir homself gehad het, met durf en deursettingsvermoë waar gemaak.

Prillie is St Helenabaai se herwinningsman. Hy het ’n pasgemaakte waentjie wat hy sleep – kilometers vêr byna elke dag (St Helenabaai is ’n lang dorp met ’n lang hoofstraat) – om produkte te gaan haal by verskillende besighede in die dorp om by die huis te gaan sorteer voordat ’n oorwinningsmaatskappy dit oplaai.

Hierdie merkwaardige man is gebore op Stompneusbaai (’n verlengstuk van St Helenabaai), waar hy skoolgegaan het tot graad 3. Dit is in hierdie tyd dat die gesin uitgevind het dat sy sig swak is, die oorsaak van kleintydse meningitis. Hy moes noodgedwonge na die Skool vir Blindes in Bellville gestuur word.

Die jongman was ietwat van ’n rebel en einde graad 11 is hy geskors. Alhoewel daar nie baie werksgeleenthede vir siggestremdes is nie, het hy tóg as algemene werker by ’n opleidingsinstituut vir ambagsmanne werk gekry, waar hy vir 15 jaar was en ook as NEHAWU-vakbondverteenwoordiger opgetree het.

Terselfdertyd het hy by Damelin Kollege ingeskryf om na-uurs arbeidswetgewing te studeer en sy diploma verwerf. Hy was die eerste siggestremde wat deur hulle studeer het. Ná Damelin het hy ook ’n Sosiale Regsdiploma by UWK verwerf.

Een van Prillie se drome was om die Comrades te hardloop en in 1992 voltooi hy hierdie moordende wedloop in net meer as agt ure.

Met diplomas in hand was Prillie se volgende stap om ’n besigheid te begin waar hy sy kennis in arbeidswetgewing kon toepas. Ongelukkig, in die harde besigheidswêreld, het dinge nie uitgewerk nie  en het hy besef dat hy nie genoeg verdien om vir homself, sy vrou Lena (wat heeltemal blind is) en hul seun te sorg nie. Prillie het besluit om terug te keer huis toe.

Terug in St Helenabaai het hy wel van tyd tot tyd lede van die gemeenskap adviseer rondom sy kennisveld, maar dit was steeds nie genoeg om hom en sy gesin aan die lewe te hou nie.

Maar Prillie is nie ’n man wat bakhand staan nie en kan en wil ook nie ledig by die huis sit nie. Dus, lank voordat herwinning ’n alledaagsheid geword het, het Prillie begin herwin. En hy het nog nie opgehou nie. Behalwe vir kontrakte wat hy met ’n aantal besighede het, ondersteun inwoners hom ook deur herwinningsprodukte by sy huis af te gee om hom sodoende te help om sy inkomste aan te vul.

Voordat Prillie sy eerste pasgemaakte waentjie geskenk gekry het, het hy met ’n groen vullisdrom produkte gaan haal. Na die eerste waentjie het heelparty gevolg. Gruis en ongelykheid  langs die pad waar hy die waentjies sleep, eis sy tol, maar elke keer wanneer ’n nuwe waentjie die lig sien, is dit ’n verbetering op die vorige een.

Prillie is trots op wat hy doen en wat hy in sy lewe vermag het. Sy grootste genot is egter dat hy vir homself en vir Lena kan voorsien.

*Prillie se doopname is Arthur William. Sy noemnaam kom van sy Pa, April, af. As oudste seun in die gesin is hy Klein April genoem, wat later Prillie geword het. En dit is soos hy alom bekend is.

Leave a Reply

error: Content is protected !!