Isaac Cloete
Volgens die DA in Namakwaland is die pad tussen Springbok en Vaalputs nie geskik om kernafval na dié terrein te vervoer nie.
Behalwe dat dit ‘n onveilige grondpad is, word die kernafval in die nag en donkerte met trokke hierheen vervoer.
Volgens Rodney Kritzinger, die DA-speaker by die Nama Khoi-munisipaliteit op Springbok, is die pad eintlik net geskik vir vierwiel-aangedrewe voertuie wat boere gebruik om van of na plase in die area te beweeg. En hulle ry gewoonlik deur die dag weens die veiligheidsrisiko wat die pad inhou.
Die DA het reeds in 2016 samesprekings gevoer met die nasionale ministerie van vervoer. Toe is aangevoer dat internasionale kriteria oortree was om kernafval op so ‘n gevaarlike pad te vervoer.
Weens druk van plaaslike gemeenskappe in Namakwaland, het die nasionale departement van vervoer toe onderneem om die pad op te gradeer, volgens Kritzinger, maar dit was nooit gedoen nie.
Intussen het die pad se toestand drasties versleg en kan kernafval van die trokke afval of lek en ‘n humanitêre ramp veroorsaak, word nou gevrees.
Die afgelope jare word die kernafval in betonhouers vervoer vanaf Koeberg in die Wes-Kaap na die afgeleë gebied in die Noord-Kaap.
Dit het plaaslike inwoners al ontstel en bekommerd gemaak oor ‘n moontlike kernafvaltragedie wat kan plaasvind soos wat jare gelede by die Tsjernobil kernkrag-aanleg in Rusland die geval was.
Kritzinger het verder gesê dat die DA al met die provinsiale kantoor van die departement van paaie openbare werke in kontak was, maar sonder enige sukses.
Volgens hom argumenteer hierdie departement dat die lae verkeersvolume op die pad tans nie ‘n opgradering regverdig nie. Selfs oproepe na Coghsta om in te gryp het nie veel gehelp nie.
Die DA het intussen ook die Noord-Kaapse LUR vir paaie en openbare werke gevra om die probleem te pak. As dit ook nie help nie, sal die DA verplig wees om die aangeleentheid terug te verwys na die parlement, want die aangeleentheid is van nasionale belang, volgens Kritzinger.
Kampvegters baklei al vir jare lank dat die kernafvalterrein verskuif moet word. Hulle voel dat Namakwaland as ‘n stortingsterrein gebruik word vir kernafval uit die Wes-Kaap.
Bennie Kriel woon op Kamieskroon, wat naby Vaalputs is. Hy is baie bekommerd oor die Vaalputs stortingsterrein en die besluit van die departement van minerale hulpbronne om die hoe vlak kernafval so na aan die Kamiesberg te stort.
“Wat is die bedreiging en watter risiko hou dit in vir die plaaslike gemeenskappe sou n ongeluk gebeur,” vra hy ontsteld.