Die persoonlike rykdom van Brittanje se koning Charles III beloop £600 miljoen (13,5 miljard rand), wat hom meer as 60% ryker maak as sy ma, wyle koningin Elizabeth II, volgens ’n skatting deur The Sunday Times. Verlede jaar het die koerant die koningin se persoonlike fortuin op £370 miljoen (8,3 miljard rand) bereken.
‘n Deel van Charles se inkomste kom uit die bestuur van die Hertogdom Cornwall, ‘n koninklike landgoed wat 130 000 hektaar grond, 260 plase en eiendomme regoor Engeland en Wallis insluit, soos ‘n krieketveld in Suid-Londen. Die hertogdom word tradisioneel deur die regerende monarg se oudste seun bestuur.
Tussen 2011 en 2022 het Charles glo die hertogdom se jaarlikse winste met 42,6% verhoog deur verskeie goedere, soos koekies en bier, te verkoop, asook kommersiële eiendomme uit te huur. Die koning het £212,7 miljoen ($262,1 miljoen) van die hertogdom alleen ontvang tussen 2012 en 2022, volgens die koerant.
Die verslag het Charles se voormalige adviseur, wat verkies om anoniem te bly, aangehaal wat gesê het dat die koninklike “slim geraak het om geld by die hertogdom weg te bêre” ná sy egskeidingsooreenkoms van £17 miljoen ($21 miljoen) met Diana, prinses van Wallis, in 1996 .
Charles het die troon opgeneem nadat sy ma in September 2022 op die ouderdom van 96 oorlede is. Sy het meer as 70 jaar geregeer, meer as enige monarg in die Britse geskiedenis.