Skip to main content

‘n Vredendal-vrou is Donderdagaand vir die soveelste keer aangerand en haar moordenaar het eers Vrydagoggend besef sy is dood.
Monique Thabosche (23) het saam met haar kêrel, Henry Moses (38), in Mangaung in Vredendal gewoon.
Vriende en familie is nou besig om ‘n petisielys op te stel, sodat haar vermeende moordenaar-kêrel nie borgtog kan kry nie.
Henry het eers die volgende oggend omstreeks 5-uur besef sy meisie, Monique is dood.
“Hy het toe sy eie familie ingelig, wat op hul beurt Monique se mense ingelig het,” sê Randell, broer van die oorledene. “Monique het by ‘n vriendin gekuier, en Henry het haar kom haal. Hy het haar toe aangerand en haar met ‘n koppie op die kop en in die gesig geslaan. Ná die aanranding het sy teruggegaan na haar vriendin, en vertel hoe Henry haar geslaan het. Sy is toe glo weer terug huis toe. Net daardie man sal egter weet of hy haar daarna weer aangerand het.”
“Volgens die nadoodse ondersoek het die hou wat sy op die kop gekry het, haar dood veroorsaak,” het haar broer voortgegaan.
“Sy was van dag een af in ‘n onstuimige verhouding met die man, vir die 4 jaar wat sy by hom gewoon het. En ek weet van een keer dat die polisie my suster moes gaan haal, nadat sy ook wreed aangerand is. Henry was in die selle toegesluit, maar ons familie weet nie of Monique ooit met die saak voortgegaan het nie. Sy laat nou haar 2-jarige kind uit daardie verhouding agter,” het Randell duidelik hartseer gesê.
Henry sal Woensdag 19 April vir moord in die Vredendal-hof verskyn, en geliefdes van die oorledenes hoop hy kry nie borg nie.
Die polisie het nog nie op medianavrae gereageer nie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!