Skip to main content

Kweek gesonde selfbeeld met spieëls

Om na jouself te kyk in die spieël of tydens ʼn video-oproep gee gestalte aan wat ons oor en van onsself dink. Wat jý egter sien, is nie wat ander sien nie. Die spieël is ʼn relatiewe nuwe uitvindsel en voor dit het mense oor tye reeds na hul eie weerkaatsings gekyk, soms in die spieëlbeeld van ʼn waterpoel. Sedertdien is die spieël ʼn objek om onsself beter te verstaan, ook oor hoe ander ons sien. Dit hou antieke en kontemporêre akademici aan die peins of dit wat ons van onsself dink, afhang van hoe ons onsself kan sien. Gerald Eloff het in die spieël geloer om te kan saampraat.

Geskiedkundiges weet nie presies wanneer mense na hul eie weerkaatsings begin kyk het nie maar die antieke Griekse mite van Narcissis dui daarop dat dit al ʼn geruime tyd is. So vroeg as 6200 BCE by Çatal Hüyük in Turkye, het mense van die steentydperk spieëls uit vulkaniese rots gepolitoer. Volgens rekords en ná die ontdekking van die argeologiese terrein in die 1960’s, is bevestig dat vroue van dié plaasgemeenskap met die spieëltjies in hul hande begrawe is (hoekom is ek nie verbaas nie!?).

Rots tot brons

Soortgelykte artefakte is by El-Badari in Egipte in 4500 BCE ontdek, gemaak van seleniet (ʼn witterige kristal) en met hout geraam. Gedurende die Kopertydperk het metaalspieëls die lig gesien, deur die handewerk van Mesopotamiërs wat erts in weerkaatsende oppervlaktes gesmee het. Daarna het die Etruskers en Grieke met dun diskette van gepolitoerde, konvekse brons gevolg.  Die res is geskiedenis.

Misterieuse refleksies

Behalwe dat mense destyds na hul eie refleksies kon staar, het ʼn gevoel van misterie spieëls omgeef – omdat mense dit nie verstaan het nie. Dit was algemeen dat mense se tekort aan kennis in dié era plek gemaak het vir fantasie en die magiese. Ook wyer in die wêreld het mense toe spieëls begin inspan om waarsêery te beoefen (dink maar aan Sneeuwitjie se bekende refrein wanneer sy aan die spieël vra of sy die mooiste in die land is!) Spieëls het vinnig in seremonieuse objekte en bonatuurlike portale verander waar jy kon kommunikeer met die gode. Bygelowe het mense laat glo dat spieëls jou wense kan laat waar word, of jou siel kan steel!

Glasspieël na ’n Zoom-vergadering

Dit het ʼn rukkie geneem voor uitvinders spieëls uit glas gemaak het wat ʼn baie meer akkurate weerspieëling van iemand gee, as net ʼn blinkgepoleerde klip. Op die Murano-eiland in Italië het Venesiese kunstenaars vanaf die 13de eeu pragtige glasspieëls gemaak. Daarna het Europa gevolg, wat gelei het tot die spieëls wat ons vandag ken.

Spieëls het uiteindelik die fisiese objek vir introspeksie en selfleer geword. Dit sluit in jou rol in die samelewing – omdat dit jou toelaat om jou eie gesig vir uitdrukkings, vorms en karaktertrekke te ondersoek, volgens Sabine Melchior-Bonnet, die skrywer van Mirror: A History. Sy skryf dat sy gedurende haar navorsing gevind het dat spieëls baie gewild onder die middelklas in die samelewing was, omdat hulle dan die hoër klasse in terme van voorkoms en liggaamshouding kon naboots. Onder die hoër klasse was dit minder gewild, dalk weens hulle adellike herkoms – hulle het alreeds geweet wie en wat hulle is.

Kinders kan reeds (op tweejarige ouderdom) hulself in die spieël erken, ʼn belangrike oomblik in ʼn mens se ontwikkeling van jou selfbegrip, of sense of self.

Wat van blindes?

Die vraag is egter: Hoeveel van ʼn persoon se selfbegrip sal verander indien jy nooit ʼn akkurate weerspieëling van jouself kan sien nie? Blinde mense en antieke stamme wat nie tegnologie gehad het nie, het nie ʼn spieël nodig gehad nie om selfbegrip te hê.

Om jou eie weerkaatsing in die spieël te sien, moet tog ʼn sielkundige impak hê, aangesien dit moeilik is om die weerkaatsing in ʼn spieël te skei van die werklike mens. Volgens Dorsa Amir, ʼn antropoloog, bestaan baie basiese menslike drange nog altyd – soos die drang om te weet hoe ander mense jou waarneem en wat hulle van jou dink.

Kubertegnologie is spelbreker

Met die toename van video-vergaderings (soos Zoom en Skype), sien Amir ook hoe baie mense na hulself kyk wanneer hulle praat. Voor dié vergaderings, het niemand eintlik geweet hoe hulle lyk as hulle met iemand anders gesels nie. Dié verwikkelinge het vir seker tot veranderinge in gedragspatrone gelei. Amir beweer dat die tegnologiese innovasies dié drange (die behoefte om te weet hoe mense ons waarneem) sterker gemaak het.

Tara Well, ʼn sielkundige by die Barnard Kollege en skrywer van Mirror Meditation, stem. Ons gebruik spieëls (of Zoom) om te sien hoe ander mense ons waarneem. Dit word problematies as ons oor ons eie beeld obsessief raak en natuurlik meet aan die onrealistiese standaarde wat deur die samelewing gestel word.

Die geheim is om jouself nie as ʼn objek te sien nie, maar die spieël te gebruik om ʼn dieper waardering vir jouself te kweek. Ons moet na onsself kyk, dieselfde as wat ons na ʼn vriend sal kyk, volgens Well.

Jy, net omgedraai

Die beeld wat ons in ʼn spieël waarneem, is natuurlik nie ʼn ware verteenwoording van onsself nie, maar ʼn omgekeerde beeld. Ons breine het al daaraan gewoond geraak, daarom het studies dikwels al bewys dat mense hul spieëlbeeld bo hul fotobeeld (jy op ʼn foto) verkies. Dié sielkundige fenomeen word veroorsaak deur die “blootstellingseffek”, wat beteken dat ons meer hou van dinge wat aan ons bekend is. Dis dalk waarom mense dikwels van ʼn foto van jou hou – dié een wat jouself glad nie aanstaan nie. Jou vriende sien jou “ware” beeld, terwyl jy gewoond is aan jou omgekeerde beeld (in die spieël).

Baie akademici argumenteer dat die omgekeerde spieëlbeeld wat ons sien, veroorsaak het dat ons onsself verkeerd interpreteer. ʼn Nie-omgekeerde spieël sal jou beeld weerspieël soos ander mense jou sien, aldus John Walter, die uitvinder van True Mirror.

Volgens hom is ons breine aan die linker- en regterkant verskillend, en as ons verskillende dinge sien en voel en dit dan aan ander mense vertolk, sal ons gesig en oë hierdie inligting asimmetries oordra. Dit mag dalk naby aan reg wees, maar nie heeltemal akkuraat nie. Ons gedagtes en emosies is nie in lyn met wat ons sien nie.

Die vraag bly egter: Hoe sou ons onsself gesien het indien ons nie weet hoe ons lyk nie? En moet ons nie begin minder omgee oor hoe mense ons waarneem nie, en dalk eerder ons spieëlbeelde gebruik om onsself te verbeter?

Leave a Reply

error: Content is protected !!