Skip to main content

Madi Pieterse

Saterdag, 8 September 1990. Dit was ’n gewone lentedag in Bonteheuwel op die Kaapse Vlakte, koelerig in die oggend, warmer soos die dag gevorder het. Taswell Alexander het sy dag losweg beplan gehad. Hy sou sy vrou by die werk gaan aflaai in Soutrivier en dan sy Rover neem sodat die enjin skoongespuit kon word.

Met die omdraaislag terug huis toe wou die Rover nie vat nie en Taswell besluit om vriende daar naby te vra vir hulp. As oud-leier van die Ugly Americans-bende in Bonteheuwel het hy oral kennisse en vriende gehad wat kon help om probleme soos ’n voertuig wat nie wil vat nie uit te sorteer.

Hulle kon egter nie dadelik help nie aangesien hulle ’n werksvoertuig, ’n VW Golf wat op een van die hoofweë onklaar geraak het, moes gaan sleep. Taswell het besluit om saam te ry. Ten spyte daarvan dat die bestuurder teen ’n hoë spoed gery en dit Taswell onrustig gemaak het, het hy ingesluimer, net om skielik tot die werklikheid teruggeruk te word toe die insleepvoertuig teen ’n stilstaande voertuig bots. Die impak het vir Taswell teen die agterkant van die kajuit gegooi en hy kon hoor en voel hoe sy kop die ruit tref! Sy volgende gewaarwording was onuitspreeklike pyn.

Ure later in Conradie Hospitaal moes hy hoor dat die ongeluk hom ’n kwadrupleeg gelaat het, met ’n C4 kompleet ruggraatbesering. Hier was hy, die 25-jarige oud-leier van die Ugly Americans in Bonteheuwel, ’n man wie se naam vrees ingeboesem het in die bendewêreld, totaal hulpeloos.

Die pad wat vir hom voorgelê het, was nie ’n maklike een nie. Hy moes as’t ware van voor af leer leef, met geweldige beperkinge, afhanklik van ander vir feitlik enige beweging wat hy wou maak. Een stukkie positiwiteit was dat Conradie Hospitaal die beste spinale hospitaal in Suider-Afrika was en kon Taswell nuwe maniere aanleer soos deur sy verlamde liggaam dikteer.

Ongelukkig, drie maande na sy ontslag, het sy vrou hom verlaat. Die egpaar het twee kinders gehad, Taswell jnr, 7 en Tamara, 13 maande.

Depressie het oorgeneem en Taswell het, rolstoel en al, hunkerend na die ondersteuningstruktuur en outoriteit wat hy voorheen in die bendewêreld gehad het, ou vriende opgesoek en teruggekeer na die lewe voor sy huwelik en die ongeluk. Aan hande en maniere om hom rond te neem en in partytjieplekke in te dra en huis toe te neem, was daar geen tekort nie. Vir die volgende tien jaar was dit sy lewe – partytjies, meisies en nagklubs.

Drie betekenisvolle gebeure het skielik ’n verandering teweeggebring. Eers het Tamara, toe tien jaar oud, tot bekering gekom. Taswell het besef dat hyself ’n drastiese verandering in sy eie lewe moes maak. Soos hy gelewe het, was geen voorbeeld vir sy kinders nie.

Die tweede is die dae nadat hy en vier vriende deur die polisie afgetrek, gearresteer en aangekla is vir die besit van ’n onwettige vuurwapen. Omdat Taswell nie uit die voertuig kon klim tydens arrestasie nie, is die vuurwapen by sy voete geplaas en gevind nadat die ander agterin die polisievoertuig geplaas is.

Vir die volgende drie dae is hulle in die selle by Ottery polisiestasie aangehou. Niemand wou verantwoordelikheid vir die vuurwapen neem nie en omdat dit by Taswell se voete gevind is, het dit gelyk asof hy die hoof-aangeklaagde sou wees.

“Wat maak jy hier Taswell?” was die vraag aan homself. Hy het besef dat, ten spyte van die rolstoel, hy steeds tronk toe kon gaan, al was hy nie die skuldige nie.

Derdens was daar ’n vergeldings-aanval op Taswell en ’n vriend nadat ’n Ugly American ’n lid van ’n ander bende geskiet het. In die bendewêreld is vergelding ’n gegewe, maak nie saak of jy daarmee te doen gehad het of nie. Een skoot is tydens die aanval afgevuur. Taswell se vriend is deur die sy geskiet; hyself het ongedeerd daarvan afgekom. Die onverstaanbaarste van dié dag se gebeure was dat ’n gat in die rugleuning van die rolstoel gevind is, presies waar hy gesit het. Daar was geen verklaring vir die wonderwerk nie.

’n Skrale ses maande later het Taswell tot bekering gekom. ’n Paar maande later het hy ’n kerkdiens bygewoon, waar een van die predikers hom aangemoedig het om ’n boek oor sy lewe te skryf.

Die groot taak het baie jare geneem om te voltooi. Taswell het wel by Conradie Hospitaal geleer om met ’n mondstokkie te tik, teken en skilder, maar omdat hy net daarmee kon werk wanneer hy in die rolstoel was (nekspiere word gebruik om die stokkie te gebruik) was die tyd om te skryf beperk. Hy het ook baie las van druksere gehad en kon daarom vir lang tye nie sit om te werk nie. Alhoewel hy ook ’n spraakherkenningsprogram gebruik het, was die pas stadig.

Tussen 2004 en 2006 het hy ’n teologiese korrespondensie-kursus gevolg waarna hy as lekeprediker en later as pastoor aangestel is om by verskillende gemeentes te preek.

Die langverwagte boek, Cutting Edge Grace, is in Maart 2021 bekend gestel. Taswell se volle verhaal word hierin uiteengesit, waaronder gebeure wat gelei het tot sy betrokkenheid by die bendelewe en sy vinnige opgang om as 19-jarige reeds ’n leier te kon wees. Die ingewikkelde vlegsels van netwerke om die hierargieë van die bendewêreld in die Kaapse Vlakte en die Bo-Kaap asook die geestelike betekenis agter werkinge en rituele te verstaan, word in detail verduidelik en fyn verweef met die verloop van sy lewe.

Die jare se harde werk aan Cutting Edge Grace het verdere vrugte afgewerp. In September verlede jaar het Taswell ’n doktorsgraad in Teologie daarvoor in ontvangs geneem. Dit was vir hom ’n besondere dag.

Taswell Alexander het nog baie planne gehad. Hy was reeds besig met ’n tweede en derde manuskrip. Ongelukkig het die jare in die rolstoel en die gesondheidsprobleme wat daarmee saamloop, sy tol geeïs en is hy sowat ’n maand gelede oorlede, in sy geliefde Bonteheuwel, in die huis waarin hy grootgeword het. Hy het die laaste drie maande van sy lewe hier spandeer tussen mense wat vir hom lief was.

Cutting Edge Grace lewe egter voort en vertel dat geen lewe nutteloos is of hoef te wees nie, dat elkeen, met die genade van die Vader, só kan leef dat ander daardeur inspireer kan word. Taswell en baie ander is ’n bewys hiervan.

Die boek is op Kindle beskikbaar.

Leave a Reply

error: Content is protected !!