Skip to main content

Isaac Cloete 

Uiteindelik gaan ‘n ernstige aanrandingsvoorval op ‘n persoon met ‘n gestremdheid in die hof gaan draai.

Dawid Markus was in 2019 ernstig aangerand deur ‘n polisieman in Hondeklipbaai, het hy vertel.

Hy het toe ‘n saak van poging tot moord aanhangig gemaak. Weens die Covid-19 rompslomp en ander vertragings was die saak vir vier jaar byna vergete.

As gevolg van druk, vasberadenheid en hoop kom die saak nou vandag (Donderdag) in Garies voor.

Markus vertel so asof die gebeure gister plaasgevind het:

“Op die betrokke dag in Julie, 2019, het die polisiebeampte my ‘n paar taai klappe gegee, terwyl ek met my bakkie gaan staan het. Hy het my hierna met die vuis in die gesig geslaan en ‘n spanner gaan haal.”

Volgens Markus het die geregsdienaar (aan Die Waarheid bekend)  teruggekeer en hom met die spanner op die voorkop geslaan. Hierna het hy aan Markus geskree dat hy hom sou vrek maak, het Markus vertel.

Omstaanders het later gaan keer en die polisieman van hom weggevat, het Markus verder vertel.

Asof dit nie genoeg was nie, het Markus boonop ook ‘n bloutjie by die Hondeklipbaai-polisiestasie geloop toe hy ‘n klag teen die aanrander gaan maak het.

Die polisieman (aan Die Waarheid bekend) aan diens het toe glo aan hom gesê dat die “aanrander ‘n slegte job” gedoen  het. Dit impliseer dat hy vir Markus beter moes geneuk het.

Markus beskou die aanranding op hom in ‘n baie ernstige lig omdat hy weerloos was as ‘n persoon met ‘n gestremdheid.

“Sy woorde kom neer op poging tot moord, derhalwe moes die polisieman onmiddellik gearresteer wees,” protesteer Markus.

Hy het aangevoer dat Hondeklipbaai-polisiestasie wel klagtes van inwoners vat, maar dat daar meestal niks met die klagtes gebeur nie.

Dit het intussen aan die lig gekom dat iemand by geleentheid Markus se wasgoed helder oordag van sy wasgoedlyn “gesteel” het. Behalwe dit het hy in September 30 skape verloor, “weens vooraf beplande vrektes,” beweer hy.

Markus het aan Die Waarheid vertel dat hy ‘n spesmaas het wie by die twee voorvalle betrokke was of kon gewees het.

Oor vandag se saak is Markus baie duidelik:

“Ek hoop dié keer kan geregtigheid seëvier en dat die geweldenaar aan die kaak gebring sal word. As iemand met ‘n gestremdheid voel ek nogal geteiken en onveilig in Hondeklipbaai.”

Markus het intussen n politieke party, die National Economic Fighters (NEF) gestig. Hy is tans ‘n raadslid by die Kamiesberg munisipaliteit, op Garies.

Hy is verder ‘n vurige  kampvegter vir delwers wat sonder mynpermitte,  regeringshulp en ondersteuning moet swoeg en sweet, het hy ten slotte vertel.

Leave a Reply

error: Content is protected !!