Suid-Afrika se minister van justisie, Ronald Lamola, het sy skok uitgespreek nadat hy ingelig is dat ‘n hof in die Verenigde Arabiese Emirate reeds in Februarie ‘n uitleweringsverhoor vir Atul en Rajesh Gupta gehou het. Die hof het tóé reeds die aansoek deur Suid-Afrika van die hand gewys, maar die Suid-Afrikaanse regering is onlangs eers hieroor ingelig.
Die broers word daarvan verdink dat hulle hul verband met oudpresident Jacob Zuma misbruik het om kabinetsaanstellings te beïnvloed en winsgewende regeringskontrakte, bekend as staatskaping, te bekom.
Die Guptas het reeds in 2018 uit Suid-Afrika gevlug en is verlede jaar op versoek van Suid-Afrika in die VAE in hegtenis geneem.
Volgens Lamola sal Suid-Afrika die hof se beslissing appelleer, aangesien die VAE-hof die saak op ‘n tegniese punt van die hand gewys het.
Luidens die hof in die VAE hou die aanklag van geldwassery verband met misdade wat in die VAE sowel as Suid-Afrika gepleeg is. Dit beteken dat die VAE jurisdiksie het om dit te vervolg. Die inhegtenisnemingsbevel wat Suid-Afrika aangevra het, is ook gekanselleer. Lamola het aangedui dat dit “onverklaarbaar” is.
“Hierdie vlak van nie-samewerking is hoogs ongekend in die arena van uitleweringsversoeke,” het ‘n verklaring van die Ministerie van Justisie gesê.
Die Guptas is ná onlangse mediaberigte in Switserland opgemerk.