Skip to main content

Die voormalige Amerikaanse president Donald Trump word deur toeskouers by UFC 287 verwelkom. Foto: Twitter / @ufc

 

Kobie Cilliers

GEMENGDE-GEVEGKUNS

Donald Trump, voormalige president van Amerika, was Sondagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) onder die toeskouers in die Miami-Dade Arena vir UFC 287 om te kyk hoe Israel Adesanya van Nieu-Seeland uiteindelik met sy aartsvyand, Alex Pereira van Brasilië, afreken.

Trump, wat verlede week in die hof in New York verskyn het op aanklagtes dat hy sakerekords vervals het om omkoopgeld te verdoesel in ‘n poging om met die verkiesing in 2016 te knoei, is luidkeels deur die toeskouers verwelkom toe hy op die stadion se grootskerm verskyn het.

Die 76-jarige Trump het in die hof onskuldig gepleit.

Trump het by die byeenkoms in Miami in die voorste ry saam met die voormalige wêreld-swaargewig-bokskampioen Mike Tyson, die musikant Kid Rock en die president van die UFC, Dana White, gesit.

White is ‘n goeie vriend van Trump en het voorheen gereeld in die openbaar oor sy steun vir die Republikeinse Party gepraat.

Trump was waarskynlik in die Dade Arena om die Miami-gesetelde UFC-vegter Jorge Masvidal, wat in die hoofvoorgeveg betrokke was, te ondersteun. Dit was die 38-jarige Masvidal se laaste geveg en die MMA-legende moes sy loopbaan van meer as 20 jaar ongelukkig met ‘n nederlaag teen Gilbert Burns afsluit.

Masvidal het na berig word glo Trump in sy huis in Mar-a-Lago besoek nadat hy een van die voormalige president se politieke byeenkomste bygewoon het.

Trump is ‘n uitgesproke aanhanger van die gemengde-gevegkuns.

Hy het in 2021 as kommentator diens gedoen in ‘n boksgeveg waarby die voormalige swaargewig-bokskampioen Evander Holyfield betrokke was.

Trump se oudste seun, Donald jr., was Sondag self ‘n lid van die kommentaarspan vir die UFC 287-skouspel.

“Ek is mal oor goeie gemengde-gevegkunstenaars en goeie gevegte,” het Trump destyds voor die Holyfield-geveg in ‘n verklaring gesê.

* Adesanya, wat in Nigerië gebore is, het die UFC-middelgewig-titel wat hy in November teen die einste Pereira afgestaan het, Sondag teruggewen.

Die 33-jarige Adesanya, met die bynaam “The Last Stylebender”, het in die tweede ronde met ‘n aanskoulike uitklop-oorwinning in sy vierde kragmeting teen “Poatan” vir die eerste keer met die Brasiliaan afgereken.

“Ek hoop almal van julle voor jul skerms (televisie-kykers) en binne in die arena kan minstens een keer in jul lewe hierdie vlak van blydskap ervaar,” het Adesanya agterna gesê.

“Ek hoop almal van julle kan voel hoe f***** gelukkig ek is, minstens net een keer in jul lewe. Maar raai wat? Jy sal nooit hierdie vlak van blydskap ervaar as jy nie in jou lewe vir iets gaan nie … wanneer hulle jou grond toe slaan, wanneer hulle probeer om op jou te k**, wanneer hulle k** van jou praat, en hulle hul voet op jou nek prober druk.

“As jy op die grond bly lê, sal jy nooit daardie wilskrag vind nie. Versterk jou gemoed en ervaar daardie vlak van blydskap soos jy uitrys, minstens een keer in jou lewe.”

RUGBY

Suid-Afrika se aanslag op die mees gesogte klubrugby-titels in Europa, die Kampioenebeker-reeks en die Uitdaagbeker-kompetisie, is die afgelope naweek in die kwarteindrondtes beëindig.

Terwyl die Bulls (Kampioenebeker) en Cheetahs (Uitdaagbeker) se hoop om ‘n trofee reeds twee naweke gelede gesneuwel het, is die Sharks, Stormers en Lions se Europese veldtogte Saterdag gestuit.

Die Durbaniete en Kapenaars het in die Kampioenebeker in wegwedstryde teen onderskeidelik Toulouse (20-54) en die Exeter Chiefs (17-42) slae gekry, terwyl die Lions in die Scotstoun-stadion in Glasgow, Skotland, teen die Glasgow Warriors in die kwarteindronde van die Uitdaagbeker met 21-31 verloor het.

Die feit dat Suid-Afrika se vier voorste rugby-franchises hierdie seisoen in drie verskillende kompetisies moet meeding – die Europese Kampioenebeker- en Uitdaagbeker-reeks plus die United Rugby Championship (URC) en die Curriebeker-reeks – eis sy tol.

Die Stormers en die Bulls het verlede seisoen se URC-eindstryd beslis en hoewel hierdie twee Suid-Afrikaanse spanne om die titel meegeding het, was die Kampioenebeker- en Uitdaagbeker-reeks nie deel van ons plaaslike spanne se verpligtinge nie.

Vanjaar is egter ‘n ander verhaal en die feit dat Suid-Afrika se topvier-franchises se diepte oor drie verskillende reekse versprei word, kan gesien word in die manne se spel.

Bogenoemde unies moet eenvoudig gewoond raak aan die strawwe vereistes, die ervaring van die gesukkel ter harte neem en soos dit goeie beroeps-sportspanne behaag, met oplossings en ‘n goue middeweg vorendag kom.

* Die Blitsbokke het die naweek in die Singapoer-sewestoernooi ‘n nuwe laagtepunt bereik deur vir die eerste keer in die geskiedenis teen daardie reus van sewesrugby, Spanje, te verloor.

Die Suid-Afrikaners se gesukkel in die Ooste het hul kans om regstreeks vir aanstaande jaar se Olimpiese Spele in Parys te kwalifiseer ’n ernstige knou toegedien.

Suid-Afrika het van die vyfde na die sewende plek op die Wêreldreeks se puntelys teruggesak nadat die Blitsbokke  slegs ’n skamele vyf punte in die naweek se toernooi, wat Saterdag en Sondag beslis is, kon insamel.

Slegs die boonste vier spanne, Frankryk uitgesluit omdat hy die sportskouspel in 2024 aanbied, kwalifiseer ná hierdie seisoen outomaties vir aanstaande jaar se Spele. Nieu-Seeland is na dese bo-aan met 164 punte, gevolg deur Argentinië (140), Fidji (130), Frankryk (122), Australië (112), Samoa (111) en dan Suid-Afrika (106).

Die Kiwi’s het hul kaartjies na die Spele bespreek deur die Argentyne in die Singapoerse eindstryd met 19-17 te klop. Dit is Nieu-Seeland se vierde toernooi-oorwinning in die 2022-’23-seisoen.

Daar is slegs twee toernooie, in Toulouse en Londen, in die huidige seisoen oor, dus word die Blitsbokke se kans om ‘n haas uit die hoed te trek al hoe minder.

Die Toulouse-toernooi word van 12 tot 14 Mei gespeel, met Londen wat ’n week later beslis word.

GHOLF

John Rahm het Sondag in die 40ste herdenkingsjaar van sy Spaanse landgenoot Seve Ballesteros se tweede triomf in die Amerikaanse Meesterstoernooi die gesogte groen baadjie op die Augusta National-gholfbaan in Georgia verower.

Die 28-jarige Rahm het met vier houe gewen ná ’n laaste rondte van 69 houe.

Die toernooi is op grootskaal deur ongure weer ontwrig en toe die vierde rondte Sondag uiteindelik begin, het dit nog gelyk of die LIV Golf-rebel Brooks Koepka van Amerika op pad is om sy vyfde major-titel te wen.

Maar Rahm, die wenner van die Amerikaanse Ope in 2021, was op die laaste dag in ‘n klas van sy eie.

Hy het hom na dese by Ballesteros aangesluit as slegs die tweede Spanjaard wat meer as een van die vier grotes in wêreldgholf kon wen.

“Ek was bewus daarvan dat dit ’n mylpaal vir my groot held (Ballesteros) was en ek weet hy het my vandag daar van bo af ondersteun.

“Dit is ’n bitter spesiale oorwinning vir my,” het Rahm gesê toe die groen baadjie aan hom oorhandig is.

Die Amerikaners Jordan Spieth (66), Patrick Reed (68) en Russell Henley (70) het die toernooi almal op 281 houe afgesluit en gesamentlik vierde geëindig.

Charl Schwartzel, die enigste van die Suid-Afrikaners wat Vrydag die valbyl oorleef het, het met tellings van 74, 73, 73 en 77 saam met Fred Couples 50ste geëindig.

Leave a Reply

error: Content is protected !!