Skip to main content

Selfs EFF eis kop van spirituele kader se moderne god

Bykans ‘n kwarteeu in die 21ste eeu in, is die mens se sedelike verval nooit uit die nuus nie. Pas oor die Pase het dit opnuut na vore getree met die skandemaak van nog ‘n groot geestelike leier. Sosiale media gons onophoudelik nadat die hoogaangeprese, hoogheilige Dalai Lama se luste teenoor ‘n jong seun skandelik ten aanskoue uitgehang het en verfilm is. Hoe lank nog voor die moderne mens se oogskille finaal sal afval vir die omvang van euwels en misbruike en vergrype veral teenoor kinders en vroue vanuit agter geloofmaskers? wonder Sonnette Lombaard.

Wyl die mensdom fluks op pad is om ‘n grensverskuiwende maankolonie te vestig vanwaar daai epiese reis na Mars aangedurf sal word, hou Aardse en veral sondige dinge ons paraat op ons tone want ons blou planeet gaan nie mank aan opsienbaarhede uit wyduiteenlopende oorde nie. Vat nou die hoogaangeprysde Dalai Lama, die uitgewekene Tibetaanse spirituele leier vanuit die Ooste, wie skielik in skande moet kniel en om vergifnis moet smeek. Dit nadat sy heilige beeld eensklaps afgeruk is met skokkende beeldmateriaal oor sy omstrede optrede in Indië.

Die mendom gons én frons nadat die Dalai se bizarre optrede wat na kindermolestering ruik, oopgevlek is. Die Dalai se span moes blitsig vure probeer doodslaan nadat die video van die skokgebeure van reeds ses weke gelede gister die wêreld ingestuur is.

Terselfdertyd juig genoeg siniese siele verlig omdat hulle meen dis hoogtyd dat die skynheiligheid dikwels versteek onder heilige klede afgepluk moet word – nie almal sing saam in die koor van die goddelike massa-verering van aardse sondaars nie. Tel my in.

Die omstrede Tibetaanse leier (87) wie ook in die Weste supersterstatus geniet, word loflik aangepys en voorgehou as eietydse heilige. Veral liberaaldenkende Westerlinge én hul leiers is gretig om met hom skouer te skuur en/of saam met hom te wil kniel. Selfs ons eie geliefde biskop Tutu het die Tibetaanse kaalkopsjarme skynbaar onweerstaanbaar gevind en saam met hom die boek, getiteld The Book of Joy gepen.

Nou bevind die ouerwordene geestelike uit die Verre-Ooste hom egter skielik in warm waters nadat videomateriaal oor sy orige optrede onlangs in Indië uitgelek het. Dit wys die Dalai waar hy ‘n jong Indiese seun hoorbaar versoek om sy tong te suig, wat hy dan boonop terstond aanbied daarvoor. Hoewel die seun, wat net vir ‘n drukkie gevra het, (goddank, gelukkig) nie aan die Dalai se vreemde versoek voldoen nie, stuur dit skokgolwe deur die samelewing en selfs geswore vyande is eensgesind in hulle veroordeling van dié “walglike afdwaling”. Van net nóg ‘n eietydse hoogpriester, voeg ek by.

Die Dalai se kaal kop word nou wyd geëis deur ontstelde ouers, kerk- en politieke leiers, en kinderterapie-werkers wyl miljoene aanhangers tot in hul siel (uit hul geloof?) geskok is. Hulle sukkel glo om, wel, te glo wat hulle oë sou verkies om nooit te sien nie. Onmoontlik wanneer dit in kleur uitspeel op elke media- en sosiale media-platform van hier tot in Timboektoe.

Die bekende plaaslike mode-ontwerper Simon Rademan skryf op sy Facebookblad dat hy voortaan die dalai lama in kleinletters sal skryf. Volgens hom sal dié “teleurstellende horribale, verwaande, obsene ekskursie” die Dalai se beeld baie skade onder sy derduisende aanhangers berokken. “Ek wil dit bitterlik graag nie glo nie, maar ek moet.”

Ook die EFF se Julius en sy rooi baret-kaders het in ‘n sterk bewoorde verklaring versoek dat die Dalai terstond vir kindermolestering gearresteer word.

Baie getroue volgelinge en aanhangers (om watter redes ookal) sal die storm om die Dalai wil deursien. My kollega en hoof van Die Waarheid Mediahuis, Dirk Lotriet, se interessante stuiwer in die kollektebord, spruit uit sy en die geestelike se gedeelde liefde vir klassieke tydwysers.

Die 14de Dalai spog met ‘n besondere polshorlosie, nie ‘n alledaagse gesig onder teologiese reuse nie, gee Dirk toe.

Die manstydskrif GQ berig die Dalai se gesogte Rolex Day Date in soliede geel goud met ‘n blou gesig is ‘n geskenk van oud-Yankpresident Franklin D Roosevelt. In Tibetaanse Boedhisme word blou met die hemel en spirituele insigte vereenselwig wyl witgeel die aarde en regte wêreld verteenwoordig.

Volgens die artikel word die Dalai reg deur sy openbare lewe opgemerk met rare tydlesers van Patek Philippe en Rolex. Hy versteek dit diskreet binne sy gewrig, en dikwels aan ‘n goedkoop armband. Dis glo vir die Dalai nie net ‘n statussimbool nie, maar ‘n “digterlike manier” om sy fassinasie met tydsverloop en die interwerkinge van als te verstaan.

Die Dalai was sy Yankprezzie ryker nog voordat hy tien kersies doodgeblaas het. Die Patek Philippe 658 was ‘n diplomatieke triomf, en deur twee intelligensie-offisiere, een glo Leo Tolstoy se kleinseun, aan die jonge Dalai in persoon afgelewer. Dit het sy horlosie-entoesiasme aan die gang gesit. Foto’s van waar hy sy horlosies self instandhou, is al gepubliseer en in sy boek Dalai Lama: The Book Of Humanity – A New Ethic For Our Time, bieg hy dat hy sy humeur heeltemal verloor wanneer hy met die fyner onderdele kleitrap.

In watter kamp jy ookal wei, is dit ‘n feit dat die millenniummens, wat blindelings die klatergoud van die Kardashians en Kie aanbid, supersterstatus alledaags en goedkoop verkwansel. Bono, voorsanger van U2, vergelyk hom graag dikwels met Jesus. Talentvol is dié Ier beslis, maar op water kan hy helaas nog nie loop nie…

Dat die moderne mensdom bedrewe geraak het om helde met voete van klei trapplek te gee, is hartseer. Ditto die gerieflike blinde oog wat so maklik daarvoor gedraai word. Punt, binne vandag se hol samlewing gedy die ophemeling van te veel verdagte wesens. Vandaar die smagting na eenvoud en gestroopte heiligheid…

Die groeiende golf wat nou optrede teen die Dalai eis, is tydig. Die rockgodstatus van millennium-geestelikes wat hoogty vier, raak dik vir ‘n daalder. Ons Afrikaner-volkie is ewe skuldig met ons soms beswymende oorgawe aan vreemde konkoksies wat as “dieper” geloof gesmous word. Nie dat ons stywe Calvanistiese wortels nie verstrengel raak in eietydse eise nie. Terwyl die Pous pas sy Paasrede vanuit die Vatikaan gelewer het, het ek gedink aan die langerwordende pikswart lys van eeue-lange vergrype en erge misbruike (kindermolestering) wat eers die laaste paar dekades uit die Katolieke binnekringe tuimel.

Die misbruik en vergrype deur geestelikes agter heilige mure en instellings is ‘n durende euwel wat te lank geduld is. Die lewenslange en kettingskade van sulke vergrype teenoor veral kinders is ‘n klad op die mensdom en geloof se naam en moet in wortel en tak uitgeroei word. Amen.

One Comment

  • Nadia says:

    Fantastiese artikel, soos gewoonlik gepen vanuit Sonnette se pen!

    So in my kraal. Ek wil net sê Bono en Dalai Lama het ook al verskil in die verlede. Dalai Lama wou gehad het Bono moes die kernkunstenaar by ‘n konsert oor eenheid. Bono het publiek verskil oor hulle uitkyke.

    Dis altyd sleg, jammer en hartbreekend as enige leier hulle auotoriteit misbruik. Ongeag van watter skaal dit is, wat weereens vir my reflekteer dat hulle is net menslik. Ek hoop glo en vertrou in Dalai Lama, dat hy sal hopelik sterker terugbons. Dit is gewoonlik die Geestelike Leiers wat sterker terugbons post-trauma. Dan kry hulle nog meer autoriteit. Gretha Wiid, die kenner op huwelikke se man het haar geskei. Rick Warren (Skrywer van Purpose Driven Life) se seun het selfmoord gepleeg, hy het sterker as ooit vantevore terug gebons en praat prontuit met sy worstelinge daardeur. Louis Giglio sal gereeld preek oor sy worsteling met depressie. Joyce Meyer praat oor haar woede-buie. Beste geloofsleiers woeker met hulle swakpunte.

    Van al die Geestelike Leiers op hierdie planeet aarde, is hy voorwaar een van die min wat ek werklik op soveel verskillende vlakke respekteer, maar tog ook net menslik is, nes ek en jy!

    Die hoogste bome vang die meeste wind. Natuurlik sal hulle sondes op die groot klokke gehang word.

    Hy is speels, so dus sien ek sy kinderlike fasinasie met tyd en horlosies, so in sy streep. Ons het geloofsleiers nodig, somtyds dink ek dis goed as hulle foute so beklemtoon word, wat ons hopelik (moontlik) kan forseer om ons eie pelgrimsroetes aan te pak, sonder leiding. Dis tog hoekom ons hier op aarde is… om die beste weergawe van onsself te raak.

    Wat as my en jou grootste vrotkolle hoofopskrifte haal? Sal ons dan nogsteeds die klippe optel om mekaar te stenig?

Leave a Reply

error: Content is protected !!