Dirk Lotriet
Wie op aarde kan nie gek wees oor die speletjie-loodgieter Mario nie?
Vandat ons die eerste keer in 1981 in Donkey Kong gesien het waar hy op balke rondhol en oor vaatjies spring, het die besnorde Italiaanse loodgieter diep in ons almal se harte ingekruip.
Ek is ‘n groot ondersteuner van Mario – dit is trouens een van my grootste drome om eendag een van daardie ikoniese oranje oopklap-Nintendo-speletjies uit die 90’s in die hande te kry. Mario verteenwoordig vir my nostalgie uit van die beste jare van my lewe.
Dit was dus met groot opgewondenheid dat ek die naweek saam met my gesin na The Super Mario Bros Movie gaan kyk het.
Die vroeë tonele in Brooklyn is belowend. Mario (Chris Pratt) en sy senuweeagtige kleinboet Luigi (Charlie Day) is twee besnorde jong ouens wat hul eie loodgieteronderneming op die been probeer kry – TV-advertensie en al.
Daar is ‘n amusante stuk chaos waarin hulle eerste opdrag deur ‘n knorrige hond gesaboteer word.
Vir my sesjarige dogtertjie was die hond, Francis, se fratse in die eerste paar minute die hoogtepunt van die rolprent – wat ‘n aanduiding is van wat volg.
Die res is ‘n psigidilliese deurmekaarspul wat lyk of dit deur iemand op die een of ander moderne ontwerpers-dwelm uitgedink is.
Mario beland onverklaarbaar in die sprokiesagtige Mushroom Kingdom, waar stuitige pratende sampioene onder die bewind van ‘n blonde borrelkop-prinses genaamd Princess Peach (Anya Taylor-Joy) woon.
Maar die arme Luigi word gevang deur die bose Bowser (Jack Black), wat ‘n naam het wat suggereer dat hy ‘n hond is, en ‘n liggaamsbou wat daarop dui dat hy ‘n draak is, maar wat eintlik die leier is van ‘n ras van skilpaaie genaamd Koopas.
Deur merkwaardige toeval kom die broers op hierdie surrealistiese planeet net nadat Bowser ‘n gloeiende ster in die hande gekry het wat hom in staat sal stel om Mushroom Kingdom te verower.
Dit word gou duidelik die regisseurs nie eers probeer het om ‘n onafhanklike, afgeronde animasieprent te maak wat enigiemand kan geniet nie, en eerder daarop gekonsentreer het om speletjies-verwysings te stapel tot vermaak van die speletjies se toegewyde aanhangers.
Die ergste is dat die film nie net vinnige verwysings na die Mario-speletjies het nie, dit het lang stukke wat daaruit geneem is tot nadeel van die storie. Eerder as om met die intrige te laat voortbeweeg, hou die regisseurs aan om die karakters op swaartekrag-veragtende lugaanvalsbane te laat hardloop of met renmotors op ‘n reënboog te ry, net omdat dìt is wat in die speletjies gebeur. Hulle bring die storielyn keer op keer tot stillstand vir die speletjie-aanhangers.
Die animasie is uitstekend, amper fotorealisties – ‘n herinnering van net hoe ver hierdie kunsvorm gevorder het. En daar is groot name soos Seth Rogan en Jack Black wat vir die stemme van die karakters verantwoordelik is. Maar dit kan die onbeholpe storielyn nie red nie, en wat is ‘n kinderfliek meer as ‘n storielyn?
Ek is versot op kinderrolprente, maar hierdie een het ‘n verbysterende gebrek aan grappies, kinkels, onvergeetlike dialoog, opwindende toertjies, traanpink emosionele oomblikke, en enigiets anders wat ‘n animasieprent in ‘n kyker se geheue verewig.
My vrou het die leemtes na die rolprent probeer verdedig deur te noem dat dit gemaak is as vermaak vir kinders.
Sy is natuurlik reg – en dit is presies my beswaar teen The Super Mario Bros Movie. Dis net breinlose vermaak om kinders vir negentig minute redelik stil te laat sit. En in ‘n wêreld waar breinlose vermaak wat vir die laagste gemene deler gemaak word, is iets met bietjie meer diepte – iets soos die briljante Trolls, The Jungle Book, A Bug’s Life of Mulan – ‘n stukkie goud.
Kinders worstel met dieselfde probleme as volwassenes – rou en verlies, eensaamheid en geweld. ‘n Kinderrolprent hoef nie noodwendig antwoorde op hierdie kwessis te verskaf nie, maar dit moet met deernis daarmee handel met behulp van dinamiese dialoog, humor, onvergeetlike karakters emosionele energie.
The Super Mario Bros Movie doen dit ongelukkig nie. Ek het die teater verlaat met ‘n gevoel dat die liefhebbers van die Mario-speletjies hier deur lui rolprentmakers gebruik is as melkkoei om munt uit die sukses van Mario te slaan.
Dit kos deesdae R900 vir ‘n gesin van vier om op ‘n naweek te gaan fliek as jy springmielies en koeldrank inreken.
Maar uiteindelik is die koste van ‘n rolprent-uitstappie net geld. As mens ouer word, besef jy net hoe belangrik die goed is wat jy voorheen as onbenullig afgemaak het.
My vrou het ‘n gebreekte nek en die herstelproses na lewensbedreigende operasies is pynlik, moeisaam en nie sonder uitdagings nie. Die geleentheid om saam met my kinders iets te doen, is skaarser as pratende sampioene. Hierdie tipe uitstappie is dus vir my ‘n rare gebeurtenis. Die kaartjies was duur, maar die tyd wat ek saam met my gesin deurgebring het, was vir my oneindig meer as dit werd.
Die rolprent self, in isolasie gesien, was egter nie naastenby die prys van die kaartjies werd nie. Ek dink dit het Mario vir my vir altyd verwoes.