Skip to main content

Deon Groot glo in veelsydigheid

Deon Groot, sanger van die treffers Hemelpoorte, Ek Sweer en Prikkel gesels met Gerald Eloff oor kwaadwillige kommentaar op video’s, die mooi meisies wat daarin speel en die belangrikheid om veelsydig te wees.

Hoe veelsydig moet jy as kunstenaar wees om vandag die pot aan die kook te hou? Dis sekerlik nie net album verkope en lewendige optredes wat jou aan die lewe hou nie? Maak jy enigsins geld uit YouTube uit?

Ek dink veelsydigheid is baie belangrik – ’n mens moet na die mark gaan kyk en die platforms wat vir die kunstenaar beskikbaar is. Jy moet jouself leer om ekstra te doen en jouself te bevorder. Leer hoe om die video-apps te gebruik, hoe om met mense te kommunikeer – dis nogal ʼn moeilike ding om onder die knie te kry. As dit by die musiek kom, wel, dit gaan nie help as jy nét kan sing nie. Jy moet die platvorms identifiseer wat kan werk en hoe om mense daar te kry. YouTube dien maar as ʼn besigheidskaartjie vir kunstenaars, om te wys wat ons doen.

Daar is soms negatiewe kommentaar op sangers se YouTube-video’s – Dis duidelik deur mense wat uit is om snedig en kwaadwillig te wees – wat is jou gevoel hieroor?

Ek glo dat daar ʼn plekkie onder die son vir almal is. Ek dink nie mense wat die negatiewe kommentaar lewer besef dit altyd nie. Dié mense moet hulself ook vra – hoe wil hulle hê moet mense met hulle praat, as hulle iets aanpak? Behandel ander soos wat jy wil hê hulle moet jou behandel.

Wat is die vreemdste ding wat ʼn aanhanger al vir jou gegee het, of gevra het?

Ek het nog nie regtig iets vreemds van ʼn aanhanger gekry nie. Ek is dankbaar vir elke geskenkie wat ek ontvang. By die Dolosfees het ons ʼn kunswerk gekry wat iemand geskilder het – daar is eintlik so baie goed wat ons kry – ek hou alles as aandenkings. Daar was wel die eenkeer in die gimnasium wat ʼn tannie my genader het. Dit was net na my vrystelling van Bietjie Liedjie, en toe ek haar sien, toe dink ek sy erken my van die video af. Toe se sy: “Seuna, jy gebruik daai masjien heeltemal verkeerd, laat ek jou wys hoe hy werk!”

Ek dink ʼn vraag wat op al die manne se lippe – waar kry jy al die mooi meisies wat in jou video’s speel?

Ons het ʼn bemarkingsagentskap wat help daarmee. Dis soms ook die videograaf wat dansgroepe ken, en so raak hulle betrokke. In die laaste video wat ons gedoen het, is dit my eie meisie wat daarin speel Dit was lekker om haar deel van die produksie te maak.

Is daar ʼn Suid-Afrikaanse kunstenaar saam met wie jy nog sal wil werk? Hoe besluit jy op jou keuse van kunstenaar?

Ek dink voor ʼn mens daai besluit neem, moet jy kyk na die liedjie wat jy het en waar hy in die mark gaan inpas. Ek het onlangs met Jakkie Louw gepraat, ek het ʼn lekker spelerige liedjie wat ek in ingedagte het vir ons twee. Aan die ander kant is daar weer Franja du Plessis of Caroline Brussouw saam met wie jy ʼn mooi liedjie, of ʼn liedjie wat handel oor verhoudings, kan sing. Ek dink ʼn liedjie soos Laat die vure brand sal saam met iemand soos Jan Rhaap of Juan Boucher werk. Dit is lekker om saam met musiekvriende te werk as dit by colabs kom.

Skryf jy jou eie lirieke, of het jy iemand wat dit vir jou skryf?

Dit sluit weer aan by die belangrikheid van veelsydigheid. As jy self skryf, kan jy meer na die tafel bring in terme van wat die mark wil hê. Ek dink jy gee ook meer van jouself aan luisteraars, en dis waarvan hulle hou. Ek skryf my eie lirieke.

Ek hoor bietjie Nickleback se invloede in jou musiek – het hulle as inspirasie gedien, of watter groepe het jou musiek beïnvloed?

Jy het reg gehoor! Beslis Nickleback, The Calling en dan ook Daughtry – Chris Daughtry was destyds een van American Idols se deelnemers. Ons meng dit so ʼn bietjie met ʼn Bluegrass en Country -ondertoon wat gemaklik op die oor val en wat by Afrikaanse musiek pas. Die styl lê my naby aan die hart.

Is dit waar dat sangers al die mooi meisies kry? Of is daar reeds iemand langs jou sy? (dis natuurlik ʼn vraag vir die dames!)

Ek dink darem nie sangers kry die mooiste meisies nie! Ek is wel dankbaar, want ek voel ek het wel die mooiste meisie in die wêreld gekry… ʼn Mens kry daai een wat jou smelt. As jy op die mooi meisies fokus, moet jy ook na hul harte, hul menswees en waar hulle is in die lewe gaan kyk. In daai opsig, het ek ʼn pragtige meisie gekry.

Leave a Reply

error: Content is protected !!