Norrevøk (hersiene uitgawe) deur C. Johan Bakkes
Johan Bakkes is die geliefde skrywer van aweregse reisjoernale. Vyftien jaar ná die eerste uitgawe van Norrevøk tref dit weer die rak – nie slegs as heruitgawe nie, die skrywer het bygereis en bygewerk.
Bakkes en sy vriende maak ’n draai in Rusland en ry op die Trans-Siberiese trein voordat hy sy alleenreis in China aanpak. Ons lees ook oor die hart van die Kgalagadi en die koning van Kabula in Wes-Zambië.
Dit is ’n terugblik sowel as nuwe gewaarwordings soos net Bakkes dit kan verhaal.
Casparus Johannes Bakkes is ‘n skrywer van veral reissketse. Hy is op 21 Oktober 1956 in Stellenbosch gebore as die oudste van vier kinders van die bekende skrywer Margaret Bakkes en die geskiedkundige dr. Casparus Marius Bakkes. Hy is ‘n geoktrooieerde rekenmeester en professor in toegepaste rekenmeesterskap aan die Universiteit van Wes-Kaapland, asook ‘n wêreldreisiger en toergids. Hy is met die kunstenaar Nana Vorster-Bakkes getroud. Sy broer, Christiaan Bakkes, is ook ’n skrywer.