Engele aan stuur van Afrikaanse ster se wonderweë
Daar is Afrikaanse sangers en dan is daar Afrikaanse kunstenaars. Een van ons grootste sterre Rudi Claase pas vierkantig in die primaklas van kreatiewe geeste wat eiesoortig reis, woeker én wen. Anders bedraad en besnaard van kleintyd, was die verhoog sy sandput en plek van drome waar maak. G’n wonder hy toer sommer al as snuiter oorsee nie. Later verower hy die Afrikaanse musiekmark stormenhand en haal tussendeur ook fluks die skinderblaaie. Op 40 het hy rustig kalmeer, met min regrets en presteer voort, wat aan hom pas nog toekennings besorg het. Hy het met Sonnette Lombaard teruggestap op sy veelbesproke pad oor vier dekades en die sluier gelig oor blinker tongklapdinge wat wag.
Eers op die soveelste lui tel hy op. Die volksikoon wie met musiek kan toor, maak polite verskoning – hy is besig met ‘n velbehandeling. Koestering van liggaam en siel is kern wanneer jy week in en uit onder genadelose glansligte op die verhoog of voor kameras jou beste voet en glimlag moet paradeer. Wat Rudi Claase moet doen van nog voor hy amptelik tiener was, ter plaatse en oor grense.
Met ‘n ruim stuk kaaskoek en chai tee, keurig opgedien en aangedra deur Rudi kry ons eindelik oorkant mekaar sit op sy en vroulief Suzette se mooi stoep. Op die eksklusiewe landgoed tussen Pretoria en Johannesburg, nogal bekend as “die Afrikanerhemel”.
Hy en sy ongetemde kunstenaarsiel jel gemaklik met sy kunstige huis vol mooi lappe, meublement en musiekgoeters (deur die huisbaas kreatief saamgesnoer) en die gemanikuurde buite-omgewing. ‘n Welverdiende tuiskomplek nȧ ‘n lang en soms taai reis vir Rudi van vroeë roem deur skinder en skades na sy bekroonde plek as een van ons kreatiewe grotes. Wat sedert sy dae as wunderkind die wȇreld vol toer en met meer as 10 miljoen albumverkope in Suid-Afrika alleen spog, insluitende meer as vyf dubbele platinum-albums.
Agter Rudi se 700 oorspronklike musiekwerke hier en internasionaal, is ook trefferliedjies vir van ons bekendste sangers soos wyle Theuns Jordaan en Kurt Darren, Juanita du Plessis, asook die gewilde Sewe Oseane vir Andriëtte Norman.
Ongetwyfeld een van Suid-Afrika se beste sanger/liedjieskrywers en musiekregisseurs, bult Rudi se lywige, lys prestasies. Vandeesweek is hy nogeens bekroon met drie toekennings by die jaarlikse Afri-Indie Toekennings vir beste geestelike lied en beste musikale regisseur en ‘n eretoekenning vir meeste treffers geskryf. Voeg dit by die ATKV se gesogte Afrikoon-toekenning vir sy bydra om Afrikaans lewendig en relevant te hou, asook ‘n Ghoema-, Vonk- en Huisgenoot Tempo-toekennings.
Sy pad tot hier was nie altyd gelyk en geprys nie. As baba het sy blindederm gebars. Dié merke het voorbodig gekleef – tot vandag sukkel Rudi, wat andersins gesond en fiks is, met ingewandsprobleme. Hy was egter nie ‘n “normale” kind nie. ‘n Ou siel gebore, was hy “die eenkantkind, klein van postuur, wie nie ingepas het nie” en in die skoolbiblioteek weggekruip het. Dit het wel vroeg ‘n leesliefde gekweek, veral vir die klassieke Engelse werke, en hy het ook ‘n sagte plek vir ons eie Langenhoven.
Rudi het vroeg skool bevraagteken, was luid oor sy wens om net te sing en musiek te skep. Op ‘n dag tel hy ‘n Franse kinderboek op en begin dit vlot lees, selfs met die regte uitspraak! Dié buitengewone gawe met tale en woorde sou later tot unieke musiekskeppings lei.
Nog ‘n “anderste” seëning was sy superfyn-aanvoeling, toe al. Dit rig hom steeds. Hy leef en doen intuïtief en hoor en sien nog altyd dinge, wat ander nie kan nie. Toe ‘n rugbyspeler hom op skool spot wyl hy op die verhoog gesing het, het hy met sy vuiste en tong die mannetjie “wat agter ‘n stuk rubber aanhardloop” gesnoer.
“Dankie tog vir my dierbare en nié pushy ouers wat hulle vreemde seun altyd ondersteun het,” laat Rudi hoor. In sy gewone middelklas-gesin in die Vaaldriehoek was wyle pa Izak, ma Elsa en sus Anzel. Sy was sewe jaar ouer en dit was eers op haar troudag in 1995 “toe die troukar wegry dat my diep liefde vir my ousus my oorrompel het”.
Rudi se stemtalent is vroeg opgemerk. Op 11 wen hy die eerste van twee nasionale Reik-na-die-sterre kompetisie en toer as wunderkind na Japan. Nog toere en suksesse hier en oorsee volg. “My stem het laat gebreek, ek was lank die seun met die cute stemmetjie.”
Tussendeur moes Rudi vinnig grootword en vroeg verantwoordelikheid leer. En het hy vasgeval. Bipolȇre gemoedsversteuring is by hom gediagnoseer nadat hy op sewe sy lewe wou neem. Hy was tot onlangs op medikasie.
As ‘n ongewone seun, was sy seksualitiet ‘n issue … meer vir ander as vir hom, voeg hy by. “Ek was en is romanties aangetrokke tot die siel en intellek van ‘n ander mens.”
Sy eerste huwelik met ‘n man het later versuur en ‘n volkstydskrif het dit as skinderstorie verkoop. “Terwyl glansryk met my lewe gesmous is, was ek op swart koffie en die laaste beskuit in ons huis.” Al het die sprokie in die openbaar gevou kies hy om die mooi daarvan te onthou.
Intussen het hy en ‘n Afrikaanse sangeres as sangduo die volk se harte geroer maar hul lieflingskap was van korte duur. Beter dae en oorbegin het gewink toe sy hart geheel is. ‘n Gemeenskaplike vriend bring hom en ‘n snipperige Engelssprekende eva bymekaar. Hy en Suzette was gou onafskeidbare sielmaters wat ure kon gesels, ook per foon as hy op toer was. Met een weg van die huis af-toer, wis hy dat hy haar erg aan sy sy mis. “In daai intense verlange-oomblik was ek smitten.” Hulle het begin date en is ‘n jaar later getroud.
Die kritiek uit die gay gemeenskap het seergemaak maar nie sy geluk bederf nie. Sewe jaar later is hy en donkerkop Suzette steeds dolgelukkig en deel hul huis met twee woef-kinders Boegie en Boetie. Sy harts- en sielmaat ken en het hom lief in al sy fasette en is sy grootste ondersteuner. En hy is ‘n tweede, wonderlike familie ryker!
Respek vir mekaar, is die gom in hul huwelik, verklap Rudi. Dis vir hom ononderhandelbaar in enige verhouding. “Wedersydse agting vir mekaar se menswees. Om mekaar werklik te hoor en te sien, en mekaar se lewens mee te leef.”
Dít, tesame met die groot vrede wat Rudi wis hy teen sy veertigste jaar beleef, is prysloos. Ná ‘n reis vol stampe en stote én sterk groei, verstaan hy nou die duurste ding op Aarde is stilte. Hy is ook lief vir fliek en analiseer dit graag agterna. Om sy figuurskaatse af te stof en daarmee te woema, is nog ‘n lekkerte.
As ‘n Christen reis Rudi hoopvol aan, eien kanse en die sameloop van “toevallighede” (synchronicity) onderweg. Een so verrassing was sy ontmoeting met sakeman Louis Liebenberg en sy vrou Dezzi. Hulle het hom ‘n jaar gelede vir ‘n konsert bespreek en is sedertdien vriende. Dit was ‘n eer om ‘n lied vir hulle Lente-troue laas jaar te komponeer, sȇ Rudi. Hy steur hom nie aan diegene wat ander motiewe daaraan wil koppel nie, omdat hy twee mooi mense ryker geword het.
Rudi leef om elke dag ‘n verskil te maak en is kinderlik opgewonde oor sy besondere projek saam met die Liebenbergs. Sy reuse-musiekblyspel sal vroeg in 2024 by Sun City afskop. “Daar is dansers en kore soos nog nie hier gesien nie.” Die tema is diamante en sy held Langenhoven maak ook ‘n draai.
Dié Afrikaanse reus fassineer Rudi en sy wysheid dat “’n mens nie engele in die hemel moet soek nie, maar die hemel by engele” tref hom volskoots. Rudi leef immers vir goddelike oomblikke en hou van alomteenwoordige engele se geselskap. “Ek kan oorgawelik getuig dat wanneer engele fluister, jy fyn moet luister …”