Isaac Cloete
Die Arriveer-veilig-by-jou-bestemming-veldtog van die Noord-Kaap het die week afgeskop.
Op Dinsdag (4April) het die Noord-Kaapse veldtog op Springbok afgeskop.
Die amptelike verrigtinge het plaasgevind by die weegbrug langs die N7, buitekant hierdie Namakwalandse hoofdorp onder leiding van die LUR van vervoer, veiligheid en skakeling, Nomandla Bloem. Sy was vergesel van die provinsiale kommissaris, luitenant generaal Koliswa Otola.
Verskeie politici van Namakwaland soos die uitvoerende burgemeester van die Namakwa distrikmunisipaliteit, Mervin Cloete, asook Rodney Kritzinger, speaker van die Nama Khoi-munisipaliteit, was deel van die gevolg.
Bloem was die hoofspreker. Tydens haar toespraak sy gesê: “Dit is belangrik dat ons fokus op verkeersopvoeding en die bevordering van goeie gedrag en die toepassing van verkeersreëls op ons paaie.”
Bloem het ook verwys na die verhoogde verkeersvolume tydens Paasfees. Sy het verder verwys na die hoofroetes in die Noord-Kaap, soos die berugte N7, ook genoem “die pad van die dood,” tussen Springbok en Steinkopf.
Haar pleidooi was dat almal tydens die Paasvakansie en daarna saam moet werk om veilig by hulle bestemmings uit te kom.
Rodney Pieterse, hoof van die departement van vervoer, veiligheid en skakeling, het die doel van die verrigtinge uitgestippel. Hy het ook verwys na die berugte N7 en die voortdurende noodlottige ongelukke hier.
Hy het ten slotte die belangrikheid van die veldtog beklemtoon en padgebruikers tot versigtigheid gemaan.
Kritzinger het na die dag se verrigtinge, as die speaker, ‘n pleidooi gelewer dat inwoners weer gedurende dié tyd oor hulle geloof sal reflekteer.
“Heg asseblief die ware waarde van Paasfees daaraan en deel weer die Jesusliefde met julle medemense. Aan almal wens ek ‘n geseënde, voorspoedige en veilige Paasfees toe.”
Intussen het die verkeer op die hoofroetes in die Noord-Kaap en veral Namakwaland aansienlik begin toeneem. Baie motoriste en passasiers probeer om vroeër by hul bestemmings en families uit te kom.
Ander probeer om vir oulaas hier goedkoper vars snoek in die hande te kry, volgens Dawid Markus, n visverspreider van Hondeklipbaai. Die vis het teen Dinsdag hier begin byt. Oor die algemeen is dit baie skaars en duur langs die Weskus en Namakwaland se kuswaters, vertel vissers.