Op 29 Maart 2023 het die Wes-Kaapse provinsiale minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Pieter Van Zyl, die Wes-kaapse Hoërhof dringend genader oor die onlangse aanstelling van Truman Prince as die waarnemende munisipale bestuurder van die Sentrale Karoo-Distrik Munisipaliteit.
Volgens die hofstukke bevat artikel 54A van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels, 32 van 2000 (“die Stelselswet”) spesifieke kriteria ten opsigte van kwalifikasies vir die aanstelling van ‘n munisipale bestuurder. Die LUR het die hof genader omdat hy aanvoer dat Prince nie geskik is om die pos van waarnemende munisipale bestuurder van dié Munisipaliteit te beklee nie.
Die LUR het op 1 Februarie 2023 ‘n e-pos van die Uitvoerende Burgemeester van die Munisipaliteit, Gayton Mckenzie, ontvang waarin laasgenoemde hom ingelig het oor die onverwagte bedanking van mnr. Goodwill Zwelithini Nyathi – die vorige waarnemende Uitvoerende Burgemeester – asook van die Raad se voorneme om die vakature die volgende dag te vul deur Prince as die waarnemende munisipale bestuurder aan te stel.
Die LUR het op 3 Februarie 2023 op hierdie e-pos gereageer en die CV’s van al die kandidate vir die pos, insluitend Prince s’n, aangevra.
Nadat Prince se CV bestudeer is, het die LUR gesien dat Prince voorheen ‘n pos, Senior Bestuurder: Gemeenskapsdienste, in die Munisipaliteit beklee het. Die LUR wou weet of daardie pos ‘n sogenaamde “artikel 56-pos” was.
Die Munisipaliteit het dadelik geantwoord dat Prince nie voorheen so ‘n pos beklee het nie.
Op 17 Februarie 2023 het die LUR aan die Uitvoerende Burgemeester geskryf en hom meegedeel dat Prince na sy mening nie aan die kriteria vir aanstelling as waarnemende munisipale bestuurder voldoen het nie deurdat hy nie die vereiste vyf jaar ondervinding in so ‘n pos het nie. Ook dat Prince se aanstelling onregmatig was en dat sy aanstelling onmiddellik beëindig moet word.
Op 24 Februarie 2023, het Mckenzie aan die LUR geskryf en aangeteken dat hy nie saamstem met die standpunt wat die LUR ingeneem het nie. Hy het nietemin vir sewe werksdae (d.w.s. tot Dinsdag 7 Maart 2023) gevra om hom in staat te stel om die kwessie van Prince se vorige werkservaring by hom uit te klaar en het onderneem om daarna terug te keer. Hy het dit nooit gedoen nie.
Gevolglik het die LUR die hof op 14 Maart genader vir ‘n dringende aansoek om Prince se aanstelling onwettig te laat verklaar.
‘n Hofbevel deur Regter J. Gamble het Prince se aanstelling nietig verklaar.
Prince se politieke loopbaan is sedert 2005 gekenmerk deur omstredenheid. Hy is laat in daardie jaar geskors hangende ‘n dissiplinêre verhoor oor sy gedrag tydens ‘n raadsvergadering. In ‘n ander verhoor, óók in 2005, was Prince oor die kole gehaal oor sy betrokkenheid by die werwing van minderjarige prostitute. Dit was op video opgeneem, en was op die ondersoekende joernalistiekprogram Special Assignment uitgesaai.
Prince is daarna boonop aangekla vir die aanranding van die Special Assignment-span.
Onder die aanklagte teen Prince is hy daarvan beskuldig dat hy R3 000 uit die burgemeestersfonds gebruik het om die borgtog van sy vriend Harry van Rooyen te betaal. Van Rooyen is lewenslange tronkstraf opgelê vir gewapende roof.
Nadat Prince uit sy pos as ANC-bestuurder verwyder is, is hy in 2007 heraangestel.
Hy is egter daarna uit die ANC geskors en het by ‘n politieke party, die Independent Civic Organisation of South Africa (Icosa), aangesluit. Twee lede van Icosa het sedertdien na Prince verwys as ‘n “hooligan”. Die twee lede wat Prince só gebrandmerk het het self al met die gereg gebots; een is ‘n veroordeelde verkragter en die ander een is geskors omdat hy bedrog van R57 000 gepleeg het.