DIE NACHTREIN VAN DIE ROSESTAD
Neil Nachtrein, ʼn boorling van die Vrystaat, was eers deel van Nachtrein saam met Jan Blohm. Hy is egter nou besig om sy eie paadjie uit te kap in die musiekwildernis. En sy byl is skerp, as ʼn mens sou luister na sy nuutste snitte. Gerald Eloff het met hom gaan gesels oor die langpad, dodgy hotelle, en sy bewondering vir Damien Rice.
Daar is ʼn storie agter jou verhoognaam – vertel ons bietjie meer?
Ek het in 2006 na Fouriesburg verhuis nadat ek eers in die Goudvelde gebly het. Vir die eerste twee jaar het ek by ʼn plaashuis (ʼn mooi, ou sandsteengebou) geloseer, naby die treinstasie. Gedurende daai tyd het daar nog treine geloop, soms selfs passasierstreine, naby die huis verby. As ek in die nagte van die verbygaande treine wakkerword, het dit nogal ʼn snaakse gevoel van heimwee by my aangewakker – so asof jy verlang na ʼn lewe wat jy nie regtig ken nie. So is die Nachtrein gebore – ek het gevoel ek wil dieselfde emosie in my musiek by mense ontlok as wat die treine in my na vore gebring het.
Jy en Jan Blohm was die duo Blohmtrein – hoe het julle mekaar as musikante aangevul en hoekom het jy besluit om weer solo te gaan?
Ons was ʼn goeie antidote op die verhoog vir mekaar. Behalwe dat ons baie belangstellings deel en van dieselfde musiek hou, het hy my meer op die verhoog ge-push, en ek het hom dalk bietjie meer teruggehou, aangesien ek bietjie meer laid-back is. Ons het mekaar in die middel gevind, en dit was baie effektief op ʼn musikale vlak. Ons het nooit rehearse nie en die saamspeel op die verhoog was spontaan – dit was beslis iets om te beleef. Blohmtrein was vir vier jaar saam, en na nagenoeg 450 vertonings het die tyd aangebreek om aan te beweeg. Ons albei se koppe het musikaal ʼn ander rigting ingeslaan – ek wou bietjie meer akoesties gaan, en hy het weer met ʼn vol band met ʼn groter elektriese kitaar-aanslag begin speel. Hy sal ook self erken, dis nogal ’n vuurdoop om so lank saam met hom te toer!
Voel jy daar is uitdagings om in Bloemfontein te woon ten opsigte van geleenthede in die musiekbedryf?
Bloem kom beslis met sy eie uitdagings. Ek het aanvanklik gedink dis baie sentraal – toe kom ek agter dis eintlik maar net baie ver van alles af. Daar is definitief meer geleenthede in Johannesburg, Pretoria en selfs in die Kaap. Ek hou egter daarvan om op die pad te wees, en ek gaan gereeld Gauteng toe. Ek besoek die Kaap ten minstens een keer ʼn jaar. Maar ja, die geleenthede is minder in Bloemfontein.
Benader jy huiskonserte anders, as sê maar, voor gehore in ʼn kuierplek of by ʼn fees?
Beslis. Die gehoor leer jou as kunstenaar by huiskonserte beter ken. Ek hou daarvan om mense die geleentheid te gee om vrae te vra, soos oor die oorsprong van ʼn liedjie, wat jy nie noodwendig in ʼn kuierplek sal doen nie. Huiskonserte duur gewoonlik langer ook – ons gesels meer en daar is meer tyd vir stories.
In watter genre sal jy jou musiek plaas? Hoe groot mark is daar vir Afrikaanse musiek wat nie in die Sokkie-genre pas nie?
Akoustiese-folk beskryf dit dalk die beste. Ek ervaar dat die mark klein is, na 15 jaar in bedryf. Dit sal ongekend wees as ʼn kunstenaar soos ek ʼn nommer een op ʼn radiostasie sal hê. Dié wat wel aanklank vind by my tipe-musiek, is baie lojaal.
Jy is bekend daarvoor dat jy baie toer – is daar plekke of optredes gedurende jou loopbaan wat vir jou uitstaan?
Gedurende die Blohmtrein-era het ons gewoonlik in groot venues gespeel; die Atterbury-teater was al uitverkoop. Baie van die Barnyard-shows was ook lekker. Dan deesdae, vandat ek weer in kleiner venues begin speel het, is daar altyd die een show wat uitstaan – gewoonlik die een wat jy nie verwag het nie.
Om aan te sluit by die vorige vraag – op die toer gebeur daar soms snaakse en vreemde goed – is daar een wat jy met ons sal deel?
As jy toer, word jy soms in 5-ster lodges ingeboek en ander kere slaap jy op ʼn venue-eienaar se rusbank. Ek gaan nie die dorp se naam noem nie, maar ek is een keer ingeboek in ʼn baie dodgy hotel in die middel van die dorp. Toe ek die deur oopmaak, toe word ek met ʼn afskuwelike reuk gegroet terwyl die kokkerotte oral op die vloer rondskarrel. Toe gaan die krag ook af. Ek het toe maar self ʼn gastehuis gaan opsoek.
Saam met watter internasionale kunstenaars sal jy wil optree? Ek het gelees jy hou van Eddie Vedder en Brian Fallon?
Dis een van daai gevalle waar jy nie jou heroes wil ontmoet nie. As daar wel iemand is, sal dit Damien Rice wees. Ek hou daarvan om vir myself te sê dat ek die eerste Suid-Afrikaanse Damien Rice aanhanger is. Ek het hom in 2003 in Engeland sien speel toe hy sy debuutalbum bekendgestel het. Dit het my voete onder my uitgeslaan en my eie styl beslis beïnvloed. As ek kon kies, sal ek saam met hom in ’n kapel wil speel.
Is dit moeilik om in Afrikaans te skryf?
Aan die een kant kom dit baie natuurlik – dit bly egter moeilik. Ek dink in die naam van kuns, kan jy sekerlik die taalreëls bietjie buig maar darem nie heeltemal breek nie. Niemand kan regtig vir jou sê of dit reg of verkeerd nie. Ek het eendag gelees ʼn skrywer is iemand vir wie skryf moeiliker is as vir ʼn nie-skrywer. Jy oordink goed te veel, jy is soms te krities op jouself. Dit kom definitief nie maklik nie.
Wat kan luisteraars volgende van Neil Nachtrein verwag?
Meer van dieselfde, dink ek. Ons het saam met Voer my vir die berge drie ander snitte ook einde verlede jaar opgeneem, dit word einde Juliemaand vrygestel. As alles goedgaan, gaan ons Augustus weer studio toe! So daar is baie vir luisteraars om na uit te sien.