Skip to main content

Die Franse minister van binnelandse sake, Gerald Darmanin, het 13 000 polisiebeamptes beveel om die strate van Frankryk se groot stede te patrolleer terwyl betogings teen die regering se omstrede pensioenhervormings voortduur. Darmanin het gesê dat hy van “radikale aktiviste” uit die buiteland verwag om geweld by die betogings aan te blaas.

5 000 van die gemobiliseerde beamptes sal in Parys gestasioneer sal word.

“Ons dienste voorsien dat daar aansienlike ontwrigting van die openbare orde sal wees,” het hy gesê, en gewaarsku dat “meer as 1 000 radikale aktiviste, sommige wat van die buiteland af kom, by die betogings in Parys, Nantes of Rennes kan aansluit.”

Darmanin het gesê dat hierdie “radikale aktiviste” meestal linksgesindes en anargiste is wat aan die polisie bekend is. “Hul doelwitte is om ons republikeinse instellings te destabiliseer en bloed en vuur na Frankryk te bring,” het hy beweer.

Frankryk is getref deur voortdurende betogings en onluste sedert president Emmanuel Macron vroeër vandeesmaand die parlement omseil het om ‘n wetsontwerp aan te neem wat die aftree-ouderdom vir die meeste werkers van 62 tot 64 verhoog het. Meer as ‘n miljoen betogers het verlede Donderdag die strate ingevaar, en honderde is gearresteer in Parys nadat hulle met die polisie gebots het en vure op die strate van die Franse hoofstad aangesteek het.

Vanaf gistermiddag het die betogings in Parys meestal vreedsaam gebly. Gemaskerde oproeriges in Nantes het egter motors aan die brand gesteek en klippe na die polisie gegooi, wat met traangas gereageer het. Betogers in Parys en Marseille het spoorlyne versper, terwyl ‘n groep betogers ‘n rookbom in die Biarritz-lughawe gegooi het. Dit het alarms laat afgaan en het tot ‘n ontruiming gelei.

Die Raad van Europa het die regering veroordeel vir die gebruik van buitensporige geweld teen betogers, terwyl Frankryk se Nasionale Raadgewende Kommissie vir Menseregte verlede week ‘n verslag uitgereik het waarin die polisie daarvan beskuldig word dat hulle honderde betogers sonder rede in hegtenis geneem het.

Macron dring daarop aan om sy hervormings in plek te hou.

Leave a Reply

error: Content is protected !!