’n Voormalige direkteur van Moses Kotane Plaaslike Munisipaliteit sal vandag na haar inhegtenisneming gister voor die Mogwase-landdroshof verskyn.
Die verdagte is deur die Valke se Ernstige Kommersiële Misdaad-ondersoekspan in hegtenis geneem vir bedrog wat verband hou met die beweerde gelyktydige besetting van twee staatsposte sonder haar werkgewer se medewete.
Daar word berig dat die voormalige Direkteur van Moses Kotane Plaaslike Munisipaliteit in Maart 2022 om spesiale verlof aansoek gedoen het. Haar jaarlikse verlof was glo veronderstel om twee maande later in werking te tree, en sy sou teen einde Junie terugkeer werk toe.
Die verdagte het na bewering daarna siek aangemeld en versuim om terug te keer werk toe. Dit het later aan die lig gekom dat die verdagte glo ook in diens van ‘n ander staatsdepartement was in die tydperk wat sy siek aangemeld het. Sy het na bewering gedurende hierdie tydperk ‘n salaris van die munisipaliteit ontvang. Intussen het die munisipaliteit iemand aangestel om haar pos te vul tydens haar afwesigheid.
Gevolglik het die munisipaliteit ‘n verlies van ongeveer R1 065 240-09 gely.