Skip to main content

Ongoddelik baie geld oor grense trek toutjies agter 1994 se oorgang

Sonnette Lombaard

Met die reënboognasie-ideaal lankal voos, kom nuwe skokonthullinge rondom die Afrikanerleier wat dit help opdroom het, aan die lig. Dit koppel die Nobelpryswenner FW de Klerk en sy binnekring aan die wêreld se mags- en geldelite wat in ons oorgangsfase met “swart goud” ter waarde van biljoene baljaar het. Dit sou eindelik ‘n wye web spin waarin ‘n hoogsgeheime, internasionale operasie sentraal was om Suid-Afrika na die huidige afgrondkoers te stuur.

Volgens ‘n verslag wat in Die Waarheid se besit gekom het, is ons ruim goudbates en geld ter waarde van triljoene oor grense verskuif in die historiese oorgangsfase in Suid-Afrika in die 1990s. Daarvolgens is die politieke hervorming in die land gelei deur internasionale banke en finansiers, sowel as buitelandse intelligensieagentskappe. FW se affair met ‘n Griekse geldgodin en Eugene de Kock figureer hierin, asook doelbewuste pogings om teenstand uit regse kringe oor die “nuwe” Suid-Afrika tydig te smoor.

Dié verreikende drama het agter die skerms ontvou, wyl De Klerk die leisels oorgeneem het en die land saam met die ANC-kaders in ‘n nuwe rigting gestuur het. Vertroulike dokumente rondom die hoogsgeheime handelinge van FW de Klerk, wat in 2021 dood is, en die omstrede internasionale Projek Hamer waarin met swart goud handel gedryf is, is eksklusief aan Die Waarheid verskaf.

Die onthullinge speel af teen die internasionale politiek en bankarena in die oploop na die 1994-epog en juis wyl ‘n internasionale bankkrisis tans opnuut broei, met die wêreld se ekonomieë wat reeds steier ná die pandemie en voortwoedende Oekraïne-oorlog.

In die uitgebreide verslag, getiteld FW de Klerk en Geheime Handelinge voor die 1994-verkiesings, word die sluier oor destydse kerngebeure agter die skerms weggetrek. Dit sterk gissinge oor groot bedrae geld wat glo detyds deur Switserse banke aan die NP-politici en regeringsoperateurs oorbetaal is om aan die inkomende ANC-regering te oorhandig.

In 2000 is inligting hieroor deur ‘n groot Amerikaanse bank uitgelek. Ene genl. Erle Cocke, bestuurder van die Nugan Hand Bank in Washington, het toe in ‘n verslag van 67 bladsye inligting oor Projek Hamer uitgelap. Tien dae later sterf hy aan pankreaskanker. Daarvolgens was Citibank ‘n halfpadstop vir dodgy finansiële transaksies in “swart goud”, ook bekend as Projek Hamer. Dit het sowat 30 rekeninge behels, in een soliede blok by Citibank gehou.

Die verslag verwys na Projek Hamer as ‘n desperate poging van die Amerikaanse regering om sy groot banke teen die1980s se einde van insolvensie te red. Met die projek is goud en diamante as kollateraal gebruik as ‘n noodboei vir die banke en die VSA-ekonomie.

In Afrika se suide het die De Klerk-regering aan die vooraand van die oorgang tot dié stryd toegetree. As die wêreld se prima goud- en diamantverskaffer was dit die maklikste en goedkoopste manier om die Yanks te red. Maar Suid-Afrika het self toe polities gebrand en Citibank moes dringend plan maak. Die beste rookskerm om groot bedrae geld en goud te skuif, was die aanblaas van politieke onstabiliteit tussen die NP-regering en die ANC. “Dit sou ‘n politieke vakuum skep vir verdagte goud- en diamanttransaksies “sonder te veel vrae.”

Met Projek Hamer is $13.6 biljoen in skuldbriewe verhandel, wat gelei het tot ‘n “uitval” van $1.1 biljoen, wat in Credit Suisse gestempel is. Die CIA, FBI, Pentagon, Amerikaanse Tesourie en die Federale Reserweraad sou hiervan moes kennis dra en kon selfs betrokke wees.

Die verslag noem ‘n oudlid van die SA intelligensiediens as ‘n kern-rolspeler in Projek Hamer. Hy het onder verskeie sake-entiteite handel gedryf en was glo ‘n oudlid van die SA Intelligensiediens én CIA toe Projek Hamer in swang was. Genl. Cocke het bevestig dat hy kontak met hom gehad het. Tydens ‘n polisie-onderhoud in Duitsland in1995 het die agent op ‘n vraag oor Projek Hamer geantwoord: “Dis ‘n groot, delikate operasie in samewerking met verskillende lande waarin Oceantech betrokke is.”

Saam met hierdie agent was nog ‘n SA Intelligensie-operateur  betrokke. Beide was raadslede van byna twee dosyn maatskappye wat intelligensie-insameling vir regerings gedoen het.

‘n Brief aan ‘n regsfirma in Washington wat betrokke was by ‘n regsgeding rondom Projek Hamer, verwys na hierdie twee agente as “deel van die Executive Outcomes-operasie”. Een van dié besighede, wat in China gestig is, is onderskryf deur ‘n Mexikaanse farmaseutiese firma, wat na bewering meer as $100 miljard goud beheer het. Die agente het hierdeur ‘n ooreenkoms gehad om goud teen ‘n 4%-afslag van die Second London Fix te koop. Dit is in die vrye sone onder Zürich se Kloten-lughawe gehou, waarvan die kontrak die amptelike stempel van die Switserse polisie dra.

Teen 1995 was hulle bedrywighede op die radarskerm van regulerende owerhede wêreldwyd wat met agterdog begin inzoem het. Een van die agente het toe SA verlaat en woon glo nou in Duitsland, aldus Goslar en word beskerm deur gewese Oos-Duitse Stasi-spioene.

‘n Militêre intelligensiebeampte het intelligensieverslae voorsien, insluitende hoogs vertroulike inligting aan die SA Polisie se C1-sel. Nog ‘n operateur het gewaardeerde sertifikate onderteken, insluitende een van $25 miljoen, met ‘n inkomstestempel van die Griekse regering.

C1-operateurs het hierdie agente vir hulp gevra om regse groepe in Pietersburg te infiltreer en te help met die beweging van groot hoeveelhede wapens. Hoewel ‘n saak by die Pretoria-Noord Polisie geopen is om die onreëlmatighede te ondersoek, is dit nooit geopenbaar of voor die hof gebring nie.

In 1998 het ‘n Duitse intelligensie-operateur ‘n dokument, getiteld “Top Secret” aan die SA Nasionale Intelligensiediens gestuur. Daarin word verwys na die verdwyning van $223 104 000 008 uit die SA ekonomie met “swart goud”-transaksies. Onder die 47 persone daarin genoem, is verskeie bekendes.

Punt 4.7 in die verslag lui: Die RSA het meer as 3 000 ton goud in stoor in Cloten in Switserland, Luxemburg en Londen. Punt 4.8: Die RSA het ‘n raffinadery in Switserland en handelsregte oor ‘n klein raffinadery in Luxemburg (in besit van Italiaanse lede) om goud te verfyn. 4.9: Die RSA verkoop jaarliks 550 ton goud en ongeveer 50 ton goud word jaarliks gesteel. 4.12: Van hierdie geld word dan weer in RSA herwin.

In punt 6.3 word verwys na “hoë-opbrengsbeleggings deur Volkskas Bank, Nedbank, Boland en Standard Chartered Bank RSA, alles met goedkeuring van die SA Reserwebank”. In 6.5 word verklaar dat militêre intelligensieoperateurs en politieke figure betrokke was. “Groot bedrae fondse tot byna $1,6 miljard is in opdrag van hulle hanteer en beheer. In die RSA alleen is R37 miljoen op plase waarvoor nie rekening gehou word nie en $40 miljoen in geheime rekeninge.

Verskeie bates van minstens R700 miljoen behoort aan ‘n Afrika lugredery. Oorsese befondsing van $400 miljoen word ook nie verreken nie en nog ‘n bedrag van $7 000 miljoen is onverklaar.

Om geld tussen rekeninge te skuif, veral met die seën van groot banke en regerings, is makliker as om goud en wapens oor grense rond te vervoer. Daarvoor is die Griekse skeepsmagnaat Tony Georgiades “ingevoer”.

In Mei 1990 bring De Klerk ‘n amptelike besoek aan Griekeland en ontmoet ook Georgiades. In Londen gebaseer, het Georgiades olie na SA in sanksietye gestuur en noue betrekkinge met lede van die NP-regering ontwikkel. Georgiadis het ‘n bankrekening in Liberië geopen (waarin die omkoopgeld van $22 miljoen tydens die wapentransaksie aan ANC-amptenare betaal is).

‘n Groot struikelblok het opgeduik – die lojale lede van die SA Weermag, Militêre Intelligensie, Nasionale Intelligensie-agentskap en Suid-Afrikaanse Polisie sou die transaksies stopsit, indien hulle sou uitvind. Wat uitgeloop het op die sg. “Nag van die Generaals”-gebeure.

In Desember 1992, dank FW 23 senior weermagoffisiere, waaronder vlootoffisiere, wat sy planne kon fnuik, af. Met die spoed waarmee dit gedoen is, is nie eens die Weermag se skakelkantoor van die perskonferensie ingelig nie. Die afgedanktes sluit in: genl-maj. Chris Thirion, adjunk-stafhoof, intelligensie en ‘n meer progressiewe jonger generaal, genl-maj. Hennie Rouw, hoof van Weermagintelligensie, brig. Ferdie van Wyk, direkteur van Weermagkommunikasie, en brig. Tolletjies Botha, direkteur van die direktoraat geheime versameling.

Dit het gevolg op die reeds “suiwering” van 19 polisiegeneraals in Augustus om die polisie in lyn met die onderhandelingsproses te bring. Die vrywaringswet wat in Augustus snel deur die parlement goedgekeur was, is ook ingespan. In November het die aanval op militêre intelligensie se direktoraat geheime versameling deur Goldstone-ondersoekers gevolg. In Desember se het die sg. “rasionalisering”-maatreëls, tot die aflegging van 6 000 middelrangbeamptes gelui.

In ‘n skamele vyf maande het De Klerk dus die deur wawyd oopgemaak vir sy eie operateurs om die uitverkoop ook op politieke vlak voort te sit. Dit het genl. Tienie Groenewald, voormalige hoof van militêre intelligensie, laat opmerk: “Ek het nog nooit gesien hoe ‘n regering sy eie magsbasis vernietig, soos hierdie een nou doen nie”.

Suid-Afrika se demokratisering wat wyd besing en as voorbeeld voorgehou is, is moontlik gemaak deurdat die regering die SA Weermag se intelligensievermoëns effektief geneutraliseer het deur “die oë, ore en neus te verwyder”.

Georgiades kon nou ongehinderd sake doen. Hy was ook vroeër betrokke by die sink van die Griekse skip, Salem, aan die Senegal-kus, wat as die grootste maritieme bedrog nog beskryf is.’n Reeks geheime ontploffings het dié supertenker van 214 000 ton, wat in Liberië geregistreer is, gesink. Die skip se kaptein was die Grieks-gebore Dimitrios Georgoulis.

In dié tyd is Projek Hamer in gevaar gestel deur FW de Klerk se bed-eskapades. Duitse operateurs het die CIA in kennis gestel van sy verhouding met Georgiadis se vrou, Elita (dogter van nog ‘n skeepsmagnaat). Daar is besluit om dit dig te hou tot ná die voltooiing van Projek Hamer.

Dit was eers ná nog twee jaar op die lappe, met nog ‘n kinkel. Toe FW van sy vrou Marike skei om met Elita te trou, is ‘n klousule in die egskeidingsooreenkoms ingeskryf dat hy enige boeke of artikels wat Marike sou skryf, kon sensor. Wat hy gedoen het met ‘n hoofstuk, getiteld Grotgesprek in haar outobiografie ‘n Plek waar die son weer skyn.

Marike wou glo meer openbaar, maar is in Desember 2001 wreed in haar luukse Bloubergstrand-woonstel vermoor nadat sy ‘n onbekende faks na Holland gestuur het. Die 21-jarige kompleks-sekuriteitswag Luyanda Mboniswa is aangekeer.

Die Europese Unie het R30 000 vir DNS-toetse in die rekening van die moordbeskuldigde via die Stigting vir Menseregte betaal. Mboniswa is in die Wes-Kaapse Hooggeregshof skuldig bevind aan die moord. Hy is lewenslank tronk toe gestuur, maar het verlede maand weer om parool aansoek gedoen.

One Comment

Leave a Reply

error: Content is protected !!