Skip to main content

Die moordenaar van ‘n egpaar van Kalbaskraal, ‘n nedersetting buitekant Malmesbury, is verlede week in die Kaapse Hooggeregshof twee keer lewenslank tronk toe gestuur vir ‘n dubbele moord.

Die egpaar wat getuie was in ‘n moordaak, was op die aand van 1 November 2019 koelbloedig deur die 31 jarige Zandre Swartz doodgeskiet.  Behalwe die moorde, is  Swartz ook swaar gestraf vir poging tot moord, onwettige besit van ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie.

Regter Monde Samela het die ondersoekbeampte, sersant  Zaliseka Hlatshaneni, geloof vir sy goeie ondersoekwerk in die saak.  

Vir die moord is Swartz ‘n dubbele lewenslange vonnis opgelê, en vir poging tot moord, agt jaar. Vir die besit van ‘n onwettige vuurwapen, is die beskuldigde 20 jaar opgelê, en ‘n ekstra ses jaar vir die onwettige besit van ammunisie.

Die saak is Donderdag afgehandel, nadat Swartz reeds voorheen skuldig bevind was. Die strawwe sal saam uitgedien word.

Die ouers van die oorledenes se families wou nie enige vrae van die media beantwoord het nie. Hulle het wel hul dankbaarheid uitgespreek teenoor die ondersoekbeampte, en hom bedank vir sy deeglike ondersoekwerk.

Leave a Reply