Quinton de Kock vier sy eerste T20-honderdtal in ‘n lopiefees teen die Windies in Centurion. Foto: Twitter / @ProteasMenCSA
Kobie Cilliers
KRIEKET
Die Suid-Afrikaanse T20-span en sy eweknie van die Wes-Indiese Eilande het Sondag in Pretoria die rekordboeke herskryf deur gesamentlik 517 lopies te moker.
Die Windies het 22 sesse geslaan en Chris Gayle se rekord vir die land se vinnigste T20-honderdtal is verpletter, maar dit was voordat die Proteas die grootste lopie-jaagtog in die geskiedenis van dié formaat vermag het.
Suid-Afrika het geskiedenis gemaak deur 259/4 in 18.5 beurte te behaal nadat die Windies sy eie reuse-totaal van 258/5 aangeteken het wat ook ’n klomp rekords ingesluit het.
Die tuisspan het met die oorwinning, waarin Quinton de Kock boonop sy eerste honderdtal in die kortste formaat van die spel gemoker het, die reeks teen die besoekers gelykop gemaak.
De Kock (100, 44 balle, 9×4;8×6) en Reeza Hendricks (68, 28 balle, 11×4;2×6) se aanvangsvennootskap van 152 was iets om te aanskou. Met hulle daar het Suid-Afrika ’n wêreldrekord van 149/0 in die eerste 10 beurte opgestapel.
De Kock het in die vyfde beurt met sy vyfde ses met die 15de aflewering na hom sy eie rekord vir die vinnigste 50-tal nog deur Suid-Afrikaanse kolwer verbeter.
Die Proteas het 33 balle vir die eerste 100 lopies benodig en die kragspel van ses beurte met 102/0 afgesluit.
Hendricks het sy 50ste wedstryd met ’n vyftigtal van 22 balle gevier.
Die nuwe kaptein, Aiden Markram, was onoorwonne op 38 toe die wenlopies behaal is.
Bulgarye met 246/4 teen Serwië en Australië met 245/5 teen Nieu-Seeland was die vorige twee beste jaagtogte.
Johnson Charles (118, 46 balle, 10×4;11×6) het vroeër in die 13de beurt met sy negende ses sy kolf gelig om te verbeter op die 47 balle wat dit Gayle geneem het vir sy honderdtal teen Engeland in Mumbai in 2016 se T20-Wêreldbeker-toernooi.
Die Windies se vorige hoogste telling was 246/6 teen Indië in Lauderhill in 2016.
* Die Suid-Afrikaanse eendagspan pak Nederland Vrydag op Willowmoore Park in Benoni en Sondag op die Wanderers op Johannesburg – en daar is besonders baie op die spel.
Die Proteas moet die kort reeks teen hul Europese teenstanders met 2-0 wen om hulself ’n kans te gun om regstreeks vir die Wêreldbeker-toernooi later vanjaar in Indië te kwalifiseer.
Suid-Afrika bevind hom tans in die negende plek op die Internasionale Krieketraad (ICC) se Superliga-punteleer. Slegs die top-agt spanne kwalifiseer regstreeks vir die krieket-skouspel op die sub-kontinent wat van 5 Oktober tot 19 November beslis word.
Die Proteas staan op 78 punte en indien hulle die Nederlanders in albei vandeesweek se kragmetings klop, sal hulle 98 hê. Dit is tien punte voor die Windies, wat met 88 punte reeds hul liga-bepalings afgehandel het, en 21 voor Sri Lanka.
Sri Lanka is tans op 77 punte. Die eiland-span speel op 25 Maart, 28 Maart en 31 Maart teen Nieu-Seeland in Nieu-Seeland. Die Sri-Lankane moet dus die reeks wen en hoop Suid-Afrika trap klei as hulle ten koste van die Proteas regstreeks vir die Wêreldbeker-toernooi wil kwalifiseer.
Nederland staan nie juis as ‘n krieket-reus bekend nie, maar dit was dié einste span wat op 6 November verlede jaar die Proteas met 13 lopies in die T20-Wêreldbeker-toernooi op die Adelaide Oval Doer Onder geklop het. Suid-Afrika, wat destyds nog deur ‘n beleërde Temba Bavuma aangevoer is, het gevolglik nie die halfeindronde van die toernooi gehaal nie.
Die Proteas het in vyf eendaagse wedstryde teen Nederland die afgelope 31 jaar vier gewen. Die vyfde, in 2021, het weens reën onbeslis geëindig.
Suid-Afrika het die pas afgelope eendagreeks teen die Windies met 1-1 gedeel.
RUGBY
Die Lions het Saterdag hulle merkwaardige wenrekord in Europa hierdie seisoen voortgesit deur Benetton in die United Rugby Championship (URC) in die Stadio Monigo in Treviso, in die noordooste van Italië, met 32-28 te klop.
As mens die beweerde drama en onmin op Ellispark in ag neem, is dit geen verrassing nie dat die Johannesburgers beter vertoon hoe verder hulle van hul tuisveld af speel.
Dié stand van sake is eintlik ‘n skreiende skande en iets waarvoor die baadjiedraers in Doornfontein moet pa staan.
Die rugby-webblad Rugby365 het onlangs ‘n reeks steurende berigte gepubliseer oor ’n kleedkamer wat “meer soos ’n beeskraal lyk”, speletjies tydens salaris-onderhandelinge, inmenging vanuit die uitvoerende hoof (Rudolf Straeuli) se kantoor by spankeuses en wedstrydplanne, en gebrekkige kommunikasie van die bestuur.
Die Lions het hierdie seisoen in ses URC-kragmetings in Europa slegs teen Munster en Connacht verloor. Dit troef al drie ander Suid-Afrikaanse spanne se pogings in Europa hierdie seisoen.
Maar terug by Saterdag se kragmeting: Die Lions het in die laaste 20 minute puik rugby gespeel en drie drieë in sewe minute gedruk om ’n agterstand van 13-28 uit te wis.
Die rustydtelling was 21-10 in die Italianers se guns.
Dit was die Lions se derde agtereenvolgende oorwinning en ‘n resultaat wat hul kanse om onder die voorste agt spanne in die kompetisie te eindig (en dus ‘n plek om in volgende seisoen se gesaghebbende Heineken Cup-reeks te speel), lewend hou.
Die Lions het hulle ondersteuners Vrydagmiddag op Ellispark ‘n bykomende rede tot vreugde verskaf deur hul eerste oorwinning in vanjaar se Curriebeker-reeks te behaal.
Die Curriebeker-Lions, wat verlede jaar laaste in hierdie reeks geëindig het, het soos hul URC-kollegas ook ‘n agterstand uitgewis (die rustydtelling was 23-11 in die besoekende Griffons se guns) en die wedstryd teen die Vrystaters uiteindelik oortuigend met 41-26 gewen.
* Die Stormers was nie die afgelope naweek aan die wenkant nie. Maar die verdedigende URC-kampioen het nogtans Vrydagaand vermag wat geen ander span tot nou hierdie seisoen kon nie – om gelykop teen die Ierse reus Leinster te speel.
Die Kapenaars sal nietemin nie tevrede wees met die eindtelling van 22-elk nie omdat hulle vyf minute voor rustyd nog met 17-0 voor was.
Die twee ligapunte wat die Stormers uit die wedstryd verdien het sal hulle minstens baie help om voor Ulster in die wedloop om die tweede plek op die VRK-puntelys te bly.
* Die Sharks se Springbok-tande is Saterdagaand in Wallis getrek. Is hulle so onbeholpe omdat hulle ‘n span vol “huursoldate” is?
Die gevolg van die Durbanse span se vernederende nederlaag teen die Scarlets van Wallis is dat hy daadwerklik die gevaar loop om nie vir die uitkloprondes van die URC te kwalifiseer nie.
Die Sharks het vir die kragmeting in Llanelli met verskeie Bokke in hul geledere omtrent lusteloos vertoon en is met 32-20 getroef. Daar is slegs twee rondtes in die URC oor voor die kwarteindronde aanbreek en die feit dat die Durbaniete die agtste plek op die reeks se puntelys beklee, is eenvoudig nie vir hierdie ryk unie met buitelandse belegging aanvaarbaar nie.
* Die Bulls se verloor-kultuur is amptelik gevestig.
Jake White, afrigter van die Pretorianers, het ná die kragmeting teen Ulster sy kommer uitgespraak dat rugby op pad is om “dieselfde pad as sokker te stap” nadat die Bulls se plaasvervanger-haker Bismarck du Plessis Saterdagaand in Belfast met ’n omstrede geel kaart gestraf is.
Dit het dalk die Bulls die wedstryd gekos, maar die Iere het uiteindelik hul oorwinning met 32-22 verdien.
Die Bulls sal nou hul laaste twee wedstryde teen Zebre en Leinster oortuigend moet wen en hoop dat van die ander uitslae hulle sal bevoordeel indien hulle nog die kwarteindronde van die URC-reeks wil haal.
SOKKER
Daardie “reus” van sokker in Afrika, Liberië, wat die 164ste plek op die wêreldranglys beklee, het Bafana Bafana Vrydagaand in die Orlando-stadion in Soweto van ’n gulde kans om vordering te maak om vir die volgende Afrikabeker-toernooi in die Ivoorkus te kwalifiseer, ontneem.
Suid-Afrika was rustyd met 2-0 voor, maar die besoekers, wat Dinsdagaand in Monrovia in Liberië weer teen Bafana in die oorkruiswedstryd speel, het met twee doele in die tweede helfte teruggeveg om met 2-2 gelykop te speel.
Dit beteken Bafana, wat in Groep K saam met Marokko, Liberië en Zimbabwe geloot is, bevind hulle ná twee wedstryde in die tweede plek. Morokko (ses punte) is eerste, Bafana is danksy ‘n beter doeleverskil van -1 teenoor -2 voor Liberië (albei met een punt), terwyl Zimbabwe nog nie sy veldtog afgeskop het nie.
Hugo Broos, afrigter van Bafana, was só die josie in vir sy span se vertoning dat hy aanvanklik nie met die media daaroor wou praat nie.
“Julle sal my vandag moet vergewe. Ek sal nie antwoorde oor die wedstryd verskaf nie. Daar is te veel teleurstelling en woede in my,” het Broos later wel gesê.