Die akteur Wynand van Vollenstee gesels oor sy gewigsverlies, sy veilinghuis en sy liefde vir toneelspel.
Elri Boucher
Met ’n breë glimlag, vol grappies gesels die akteur Wynand van Vollenstee met sy volgelinge op die sosiale media toepassing TikTok wat hy byna ’n jaar laas gebruik het en wat nou weer aktief geword het. In een video spot hy oor hoe hy op sy verjaarsdag die tandarts moet besoek vir ’n wortelkanaal en op ’n ander video vertel hy van sy nuwe veilinghuis in Roodepoort en skets met kuberboelies wat dit waag om negatiewe kommentaar op sy video’s te los – ‘ek lees nie eers jou comment klaar nie dan delete ek vir jou,’ sê hy ewe dramaties want negatiwiteit is nie deel van sy lewe nie, al het hy vele terugslae die afgelope paar jaar beleef.
Kyk jy vandag vir Wynand is die tekens van gewigsverlies ooglopend. “Ek is nie skaam om daaroor te praat nie,” sê Wynand. “Ek het in totaal so oor die 100kg verloor sedertdien ek 9 jaar terug ’n gastric bypass operasie gehad het.” Wynand het 220kg geweeg voor sy operasie en het deur die jare mooi gewig verloor maar ook weer met tye opgetel tot waar hy verlede jaar 140kg geweeg het. “Dinge het gegoed gegaan tot ek lelik siek geword het met my galblaas in November 2022.” Wynand het drie operasie ondergaan weens komplikasies met sy galblaas; die eerste twee operasies was onsuksesvol, en eers met die derde operasie by die Unitas hospitaal in Pretoria is die probleem met sy galblaas reggemaak. “Ek het septisemie ook ontwikkel en was vir 25 dae in die ICU. Die ding is as jy doodgaan weet jy dit nie, jy dink net almal is so nice wat vir jou kom kuier,” sê Wynand. Dinge het vir ’n lang ruk nie goed gelyk nie, maar met die hulp van die fantastiese dokters by Unitas het Wynand geleidelik gesond geword en as gevolg van sy siekte het hy ’n verdere 25kg verloor en weeg tans 115kg.
Die komplikasies met Wynand se galblaas het hom voor dood se deur gehad, maar dit was nie vir hom so erg soos die erge depressie wat hy tydens die Covid-19 jare in 2020 en 2021 beleef het nie. “Ek was van my kinderjare ’n performer,” sê Wynand. “Toe al het my liefde vir toneelspel en sang ontwikkel en ek het sonder twyfel geweet ek wil ’n loopbaan in die vermaakbedryf najaag.” Voor Covid was Wynand se jaar vooruitbeplan met verskeie produksies van TV-reekse tot toneelstukke by kunstefeeste waar hy sou optree, en hy was finansieel goed voorbereid, maar toe kom die grendeltydperk en isolasie en al sy werk droog op, nes vir baie ander kunstenaars. “Ek was hulpeloos en het vir ’n tydperk in ’n diep donker gat gesit,” sê Wynand. “Maar ek dink ten spyte daarvan het ek goed daaruit gekom. Ek het geen medikasie gebruik om myself uit die gat te kry nie, my sterk geloof en die hulp en ondersteuning van my familie en vriende het my deur die ergste gekry en daarvoor is ek baie dankbaar.”
Met ’n vernuwe ingesteldheid en positiewe houding het Wynand in 2022 besluit hy gaan gebruik maak van sy ander vaardigheid in die restourasie van meubels om sy eie veilinghuis genaamd That’s Freakin Nice in Roodepoort oop te maak. “Dis ’n pragtige plek waarop ek baie trots is,” sê Wynand oor sy besigheid. “Op Vrydae hou ons ’n veiling en op Saterdae aande omskep ons die plek in ’n Kleinteater waar verskeie produksies opgevoer word.” Só hou Wynand sy groot passie vir toneelspeel lewendig, maar daar is wel nuwe vooruitsigte op die horison!
Op Dinsdag 4 April en Woensdag 5 April gaan Wynand by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn met sy eenmanstuk Geen salf te smeer optree en hy sê hy sien baie uit daarna. “Dis ’n egte Suid-Afrikaanse storie waar die onderwyser Sakkie, die rol wat ek vertolk, sy breekpunt bereik het en pleinweg keelvol is,” sê Wynand. “Sakkie volg dan ’n loopbaan in joernalistiek wat hy hoop veel beter sal gaan as sy vorige loopbaan tot die dag wat ’n tornado Mooinooi tref. As verslaggewer kry hy met verskeie interessante mense te doen (rolle wat Wynand ook vertolk), maar dinge loop dan weer skeef en dit dryf die arme man finaal oor die drumpel.”
Oor of ons Wynand weer op die kassie dié jaar gaan sien sê Wynand daar is ’n paar dinge in die pyplyn. “In September gaan ek deel wees van ’n nuwe Willie Esterhuizen reeks, maar ek kan nie te veel daaroor uitlap nie, en vir nou het ek ook planne om by die Innibos kunstefees in Junie ’n draai te maak,” sê Wynand opgewonde.
Die lewe mag dalk so paar taai klappe vir Wynand die afgelope ruk uitgedeel het, maar daar is weer hoop waaraan hy vasklou en met sy gesondheid nou op die regte plek is hy oortuig daar niks wat hom gaan keer om sy passies uit te leef nie. Hou so aan, Wynand!
*Geen salf te smeer, Dinsdag 4 April om 09:30 en Woensdag 5 April om 18:00 by die Van Reedesaal.
Sê ek laaaankal ook. Die regte man op die regte tyd..