Skip to main content

Isaac Cloete

‘n Oud-tromspeler het sy tromstokke vir penne en ink verruil.

Ja, deesdae is Bruce Newman, bekende drommer, besig om musikale stukke te skryf of te verwerk. Hierdie produksies doen hy veral vir die kindertjies, wat baie na aan sy hart lê. Vir hom is hulle soos diamante wat net die beste sorg en hantering moet kry.

“Covid het die kinders baie bored gemaak. Maar onthou hulle is kosbaar en soos diamante. Dis ons toekomstige leiers daarom moet ons hulle koester, waardeer en net die beste gee. Dit is hoekom ek besluit het om die produksies vir hulle te skryf.”

Bruce is oorspronklik van die dorpie Okiep naby Springbok. Hy was vir ongeveer dertien jaar The Rockets se tromspeler. Tydens die Covid-pandemie het wyle Jerry Watt (toe nog die band se leier) eendag aan die groeplede vertel dat al hulle live gigs vir ‘n onbepaalde tyd gekanselleer was.

Bruce het toe besluit om maar huis toe te gaan, het hy vertel. Tans werk hy aan produksies van kinderliedjies wat hy geskryf het toe hy nog by The Rockets was.

Omdat daar nie juis baie vermaak in Namakwaland vir die kinders nie, het hy besluit om Die pret en speelfabriek te skryf en op te voer. Dit is ‘n kindermusiekblyspel, wat tans op die planke is. Hierdie naweek is dit in Springbok te siene.

Sy ander produksie is Die Rooisand se diamant, wat op 27/28 Mei by die Hoërskool Namakwaland te Springbok opgevoer gaan word, vertel hy trots.

Die bekende Afrikaanse rymkletser, V.I.T.O (Vito Heyn), behartig die regie. Hy is die seun van Bruce. Die bekende TV-akteur, Elton Landrew, is as die direkteur deel van die toneelspan.

Ander spelers is Danneline Ramsden, Jimmy Newman, Rowan Brandt, Schante Beukes en Marcelino Macdonald.

Bruce en V.I.T.O is die eienaars van Vibru produksies. Die twee werk soos ou pêlle lang ure aan musiekproduksies in Heyn se ateljee, vertel Bruce gretig.

Kaartjies vir die produksie, “Die Rooisand se diamant,” kos R120 en is beskikbaar by Springbok SuperSpar of Bruce (068 4919423).

*Musiek loop in die are van die Newmans. Jare gelede was daar byvoorbeeld ‘n gospel-familieband. Bruce se pa se drie susters was die agtergrondsangers en die broers het die instrumente bespeel.

Terloops, die langarmmeester en legendariese saxofoonspeler, Jimmy Newman (Jimmy’s Grand Six), is Bruce se oom (sy pa se broer).

Leave a Reply

error: Content is protected !!