Skip to main content

‘Baie mans frons steeds om na ‘n vrou op preekstoel te luister’

Vroue se stryd om gelyke beregtiging het in die laat 1800s beslag gekry maar ontvlam met die Women’s Lib beweging in die sestigerjare. Sedertien is reuse-vordering gemaak om diskriminasie teen vroue planke toe te stuur en talle vroue lei nou van lande na prominente organisasies en is vaandeldraers in die ruimteresies na Mars. Wyl gelyke betaling in die sportarena nog sukkel, skuif evas deesdae selfs in Saudi-Arabië paraat agter die stuur van supersoniese vegvliegtuie in. Terselfdertyd brand ander Moslemlande soos Afghanistan en Iran tans waar grutonele ontvou te midde van gesluierde, of nie, vroue se moeisame stryd om menserkenning. En in Afrika is die meeste lande nog ver agter in die gelyke behandeling van vroue in veral die werkplek. Plaaslik praat vroue fluks saam in die korporatiewe en politieke speelveld in die stede maar is agterstande en meelewing met en verstaan van die stryd onder agtergeblewendes en op die platteland opvallend. ‘n Handvol evas landwyd wat vooruit boer in voorheen sterk manlike beroepe het aan Sonnette Lombaard vertel hoe hulle daarin as vroue woeker en deel goue raad uit aan jonger meisies wat in hulle gebaande weë wil volg.  

Riëtte Bryant (63), Piketberg. Boer op die eko-vriendelike plaas Kruistementvlei. Enkellopend, met twee seuns Geoffrey (29) en Casey (27).

Ek dink nie veel aan vroueberegtiging nie, want die stand van sake gaan my nie stop om te doen wat ek moet nie. Ek en my oorlede man, Jeremy, het ons plasie in die Piket-Bo-Berg in 2001 gekoop nadat ons die stadslewe vaarwel toegeroep het om eenvoudiger op die platteland te leef en ons twee seuns na aan die natuur groot te maak. Ná my man se dood was dit my keuse om voort te gaan met ’n leefwyse wat ek met oortuiging en passie kan en wil uitleef.

Om te tob oor diskriminasie van enige kant af gaan geensins jou situasie verander nie. Jy moet doen wat jy moet doen! My raad aan jong meisies wat voorheen manlike vestigings wil aandurf, is om te doen wat jy wil doen met eerlikheid (aan jouself) en met passie. Dit is genoeg.

In die uitlewing van my vrouwees is ek eerste vrou en dan boer. Deur eerlik te wees met jouself en nie te probeer opleef na ander se verwagtinge nie, is bevrydend genoeg.

 

Elsabe Horn (44), Windhoek. Leraar by Fresh Namibië sedert sy vyf jaar gelede haar teologiese studies voltooi en toe die bediening betree het. Getroud met Stoan met drie kinders Lihan (15), Migael (13) en Emilie (11).

Ek glo daar is baie pogings om vir vroue meer regte in die gemeenskap en veral in die werkplek te gee. Soms hel die pogings egter na die ander kant toe oor en lei dit tot té geforseerde aanstellings. Dít doen niemand goed nie en is definitief nie wat vroue wil hê nie. Ons wil erken en aangestel word vir die eiesoortige bydrae wat ons tot die werkplek kan maak, nie net omdat ons vroue is nie.

Ek het lank in die korporatiewe wêreld gewerk, maar wou graag ‘n verskil maak, en geweet daar moet ‘n groter doel wees waarvoor ek my gawes en talente kan aanwend. Ek glo die Here het my geroep vir hierdie rol en dat alles wat ek tot dusver gedoen het, voorbereiding was vir waar ek my nou bevind. Ek twyfel geensins dat ek ‘n spesifieke doel op ‘n spesifieke plek en in ‘n spesifieke tydgleuf het nie.

Ek voel as vrou ook baie gemaklik in my werk – dit pas, dit werk, en ek maak ‘n verskil en kry die geleentheid om te deel in mense se diepste hartsbegeertes. Daar is weliswaar steeds huwelikspaartjies wat met ‘n ompad laat weet dit gaan nie vir hulle werk as ‘n vrou hulle trou nie … en ja, daar is mans wat nog nie gemaklik is om na ‘n vrou op die preekstoel te luister nie. Maar is dit nie so met enige beroep nie – jy hou van party mense en ander nie? Ons moet verby geslag kan kyk na die dieper boodskap, die groter prentjie – geslag is tog net die voertuig waarmee dit oorgedra word. Ek ervaar nie juis diskriminasie nie, dalk wel bietjie uitsondering …

Jong meisies moet weet dis nie maklik nie. Jy moet beslis nie net sg. manlike beroepe wil aandurf om ‘n punt te bewys nie. As dit ‘n werk is waarvan jy regtig hou, wat jy met passie kan doen en waarvoor jy gawes en talente het, gee jou alles. Ontdek dit wat jou spesiaal maak – nie net omdat jy ‘n vrou is nie, maar omdat jy jý is.

Ek kompeteer nie met mans nie – nie tuis of by die werkplek nie. Ons het elkeen ‘n unieke en aanvullende rol wat ons moet vervul en ek glo elkeen moet in haar of sy baan bly en dit so goed moontlik doen. Sekere gebiede in die kerk is lank nagelaat of afgeskeep – daar is legio moontlikhede en geleenthede vir my om daardie gapings te vul. In my beroep besef ek die groot behoefte by vroue om iewers te kan afpak, te leer, te ontdek, te groei. Waar moes hulle dit kry in die kerk toe ons klein was? By die huis is my man die hoof, ek is ‘n ma en ‘n vrou en ek geniet hierdie rolle.  Ek hou van kosmaak en kinders rondry. Ek hou van sit by vroue en luister na hul stories. Ek hou van dien en vind vreugde in die voorbereiding van ‘n preek. Ek verstaan die daaglikse struggles wat ‘n vrou tussen werk en huis ervaar.

Sasha Bornman (36), Phalaborwa. Veldwagter by ‘n kopermyn langs die Kruger Wildtuin in Limpopo. Getroud met Corné met twee dogters Mieke-lee (12) en Ané (twee maande).

Ek volg nie regtig goed soos vroueberegtiging getrou nie, maar meen dis redelik op koers in Suid-Afrika veral in die politiek, mynbou en besigheidswêreld. In die wildsbedryf het dit baie verbeter oor die laaste paar jaar. Wat die res van die wêreld betref, is daar ‘n paar lande wat nog vêr agter ons is.

Ek het in my bedryf beland deur kleintydliefdes: speelgoedkarretjies, diertjies en ‘n groot agtererf op die plaas. My groot liefde vir die buitelewe en natuur het ook daar ontspring. As ek nie besig was om my eie plaas in ons agtererf te bou nie was ek in die lande of bos saam met my pa, Pieter. Alles wat ek weet, het ek by hom geleer. Ná skool het ek myself in die wildsbedryf probeer opwerk. Dit was nie altyd maklik nie en ek het dit ‘n paar keer verlaat. Ná die geboorte van my oudste dogter en twee jaar in die verkoopsbedryf het ek my hart gevolg en was gelukkig om weer ‘n kans te kry om my bospassie uit te leef in die pos wat ek tot vandag het.

Ek sal nie sê daar word teen my gediskrimineer nie maar daar is soms tye wat dit voel of mense nie altyd volle vertroue in jou het om as ‘n vrou sekere take te verrig nie, veral in die meer fisiese aspekte van die werk. Maar sodra hulle sien ek staan nie terug en wag vir die mans om die werk te doen nie, dan verdwyn dit ook.

Jong meisies moet in hul loopbaankeuse hul passies volg, wat dit ookal is. Dis ‘n vreugdevolle seën as jy jou passie elke dag uitleef en dit werk noem. Maak net seker jy weet wat die werk gaan behels en wees 100% bereid om dit alles te doen. As jy verwag ‘n pos moet vir jou aangepas word omdat jy ‘n vrou is, gaan jy die respek van jou medewerkers en kollegas verloor. In ‘n sg. mansberoep gaan die werk meeste van die tyd saam met mans wees, moet nooit die indruk skep nie hulle moet meer doen as jy net oor jy ‘n vrou is. Bring jou kant.

In ‘n veeleisende beroep is dit baie belangrik om ‘n goeie balans tussen die werk en huis te handhaaf. As ‘n mamma van twee met boonop ‘n man wat die grootste deel van die jaar in die buiteland werk, is daar nie veel tyd vir enigiets anders as mawees tuis nie. Om ‘n mamma te kan wees, bly een van die grootste voorregte van vrouwees.

 

Inecke Jonker (35), Malmesbury. Fotograaf. Getroud met  Brahm met een kind, die eenjarige Luhan Braam.

Ek dink vroueberegtiging is op koers. Die Here het mans en vroue as verskillende geslagte uniek gemaak. As ‘n mens gaan fokus op dit wat onregverdig voel, is dit al wat jy ook sal raak sien. Die lewe is nie altyd regverdig nie, maar ek glo jy vind die positiewe daarin. Probeer teëspoed sien as ‘n geleentheid om te groei en iets daaruit te leer eerder as om net vas te kyk in die onveranderlike.

Fotografie is deel van my lewe vandat ek ‘n klein dogtertjie was. Ek is oortuig wanneer ‘n mens die pad volg wat die Here vir jou kies, dan werk alles uit soos dit moet. Hierdie was my pad gewees.

Ek ervaar gelukkig nie diskriminasie van mans en/of vroue in my beroep as fotograaf nie. Ek voel ook tuis daarin. Daar is tog ‘n plek vir elkeen van ons onder die son. My beroep geskied in ’n kreatiewe omgewing en dit bied vir elkeen, ook vroue, ‘n geleentheid om uniek daarin te wees en te presteer.

Jong vroue wat voorheen manlike vestigings wil aandurf moet fokus op hulle sterkpunte en die beste weergawe van hulself wees. Daar is net een van jou en soos jy – so wees presies dit, maak dít werk en laat dít tel.

Ek leef my vrouwees uit by die werk en tuis deur die klein dingetjies in die lewe raak te sien en te waardeer. Om sterk te wees maar op ‘n sagte manier is my strewe.

 

Dr. Marili Bonthuys-Van Heerden (33), Johannesburg. Chiropraktisyn. Getroud met Riaan met een kind, Hannah (een jaar).

Is feminisme op koers? Ja en nee. Dis wonderlik dat gelyke betaling al meer in die werksplek gebeur en korporatiewe vroue in leiersrolle … ek sien dit ook onder my pasiënte, soos vroulike ingenieurs. Ongelukkig intepreteer te veel mense die geslagsgelyke-stryd verkeerd, asof vroue op mans moet trap of sekere vroue wat meen hulle moet nou die manlike rol vertolk. Verskillende geslagte en persoonlikheidtipes moet in harmonie kan saamwerk soos in ‘n gesonde ekosisteem waarin jy bome en blomme benodig en dit mekaar aanvul en versterk. Vroue wat mans emosioneel misbuik en hul vrouwees inspan om ‘n situasie te manipuleer, is verkeerd.

Die diskriminasie wat ek as vrou ervaar, kom van pasiënte wie meen ek is nie “groot” en sterk genoeg om hulle te behandel nie. Hoewel chirobehandeling krag vereis, gaan dit eweveel oor tegniek en vroue kry dit weer uitstekend reg.

Die eerste chiropraktisyn in die wêreld is in 1895 opgeteken en die eerste vroulike een reeds in 1900. Wat die mediese beroepe betref, was my veld die ander beslis voor in gelyke erkenning vir vroue. Tans is daar omtrent eweveel vroulike en manlike chiropraktisyne in Suid-Afrika, wat daarop dui die koers word volgehou. My raad aan die volgende geslag chiros is om hul passie daarin te vind want dis kern om enige werk goed te doen. Hulle kan die vooruitgang in die veld voortsit en denke oor onkundigheid as ‘n lekker uitdaging sien om ongelowige Thomasse verkeerd te bewys.

In die werkplek wis ek my waarde as vrou – vroue is skerp om die emosionele behoeftes van pasiënte te eien. Kinders en swanger vroue voel ook gewoonlik gemakliker as ‘n vrou hulle behandel. Tuis hou ek eweveel van my rol as versorger van my man en kind en bederf hulle graag. My love language is om goetertjies te doen.

Leave a Reply